Ondersoek oor verdagte lekkers duur voort

Die lekkers wat glo die skoolkinders siek gemaak het. Foto: Via @Lesufi / Twitter

Die lekkers wat glo die skoolkinders siek gemaak het. Foto: Via @Lesufi / Twitter

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat laerskoolleerders van ʼn skool in Johannesburg vroeër vandeesweek siek geword het nadat hulle verdagte lekkers geëet het nie.

Oupa Bodibe, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het Vrydag aan Maroela Media gesê die departement werk saam met die polisie om ʼn man op te spoor wat na bewering Dinsdag jellielekkers aan leerders by Laerskool Suidheuwels uitgedeel het.

“Al die kinders wat in die hospitaal opgeneem is, is gelukkig intussen ontslaan en gaan die polisie bystaan om ʼn identikit van die man saam te stel,” het Bodibe gesê.

Bodibe het gerugte verwerp wat aandui dat die departement bevestig het dat die lekkers met dwelms besmet was.

“Toetse word nog gedoen om te bepaal of daar ʼn middel in die lekkers is, en indien wel, wat dié middel is. Dit is nie moontlik om aan te dui hoe lank dit gaan neem om dit vas te stel nie.” Hy het gesê die moontlikheid dat die kinders voedselvergiftiging opgedoen het, kan ook nie uitgesluit word nie. “Ons ondersoek sal dit bepaal. Ons wag nog vir die uitslae van die leerders se mediese verslae.”

Bodibe het ook gesê die departement is slegs bewus van een voorval vandeesweek by Laerskool Suidheuwels en nie drie laerskole in die omgewing soos wat voorheen berig is nie.

Maroela Media het vroeër berig nagenoeg 20 leerders van ʼn laerskool in die suide van die Johannesburg is Woensdagoggend na hospitale in die stad geneem nadat hulle glo iets verdags geëet het. Paramedici van ER24 is na die skool ontbied nadat die kinders gekla het van maagpyn, naarheid en braking. Hulle is dadelik behandel voordat hulle na die Suid-Rand- en Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem is. Die leerders het aan paramedici gesê ʼn onbekende man het glo die vorige dag vir hulle lekkers gegee.

Kapt. Kay Makhubele, Gautengse polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. “Ons versoek die publiek om die polisie se Crime Stop by 08600 10111 te bel as hulle verdagte optrede sien,” het Makhubele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.