Ondersoek oor verkoop van onderwysposte

klaskamer-320x240ʼn Taakspan het begin om ondersoek in te stel na bewerings dat onderwysposte verkoop is, het die departement van basiese onderwys gesê.

“Die span het met sy ondersoek begin en daar is klaar onderhoude met vakbonde gevoer,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. Minister Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die taakspan op die been gebring na berigte dat beamptes, insluitend vakbondverteenwoordigers, poste verkoop het.

Mhlanga het gesê die span sal ondersoek instel oor of daar tekortkominge is in die aanstellingsbeleid van onderwysers. Die duur van die ondersoek sal bepaal word sodra die omvang van die probleem duidelik is. ‘n Verslag sal na afloop van die ondersoek aan die minister voorgelê word.

Prof. John Volmink staan aan die hoof van die ondersoek. Die ondersoekspan sluit ʼn verteenwoordigers van die departemente van justisie en staatsdiens en administrasie, ʼn regskenner, ʼn menslike hulpbron-spesialis en ʼn ouditeursfirma in.

Daar is vroeër vanjaar berig dat lede van die vakbond Sadou onderwysposte verkoop het vir nagenoeg R30 000. City Press het berig dat ʼn Johannesburgse onderwyseres beweer het dat ʼn lid van die vakbond haar vir seks gevra het in ruil vir ʼn skoolhoofpos. Sadou het enige betrokkenheid ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

EMK ·

As daar iets te verkope is dan doen hulle… maak nie saak wat die morele of ander gevolge is nie.

Madelein ·

“Die span het met sy ondersoek begin en daar is kla onderhoude…..” Dit moet lees “…. klaar onderhoude ….”

Sune van Heerden ·

Dagsê Madelein

Mapstieks die “a” en die “r” het definitief iewers afgeval! Dankie dat jy ons daarop gewys het, die wysiging is aangebring.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Deon ·

Daar gaan niks van die ondersoek kom nie. Ons leef mos in `n “Afrika demokrasie”. Daar is al hoeveel taakspanne aangestel en wat het daarvan gekom? Net mooi niks.

CAV ·

Dit gebeur in meer staatsdepartemente as net in die onderwys departement. Ek is egter bly daar is ten minste n begin om dit te ondersoek

Hendrik van Niekerk ·

Dit is algemeen in swart skole. Jy betaal ‘n amptenaar R30 000 vir ‘n verplasing van een skool na ander. R70 000 vir ‘n visehoof pos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.