“Ondersoek OVK-tenders” – Malema

iecJulius Malema, die leier van die EFF, het gesê die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet ondersoek word om te bepaal of hy sake doen met maatskappye wat aan politieke partye verbind kan word.

“Ons wil alles weet. Wie is die eienaars van die maatskappy wat die verkiesingslyste gaan druk en versprei?” wou hy Dinsdag tydens ʼn inligtingsessie vir die forum vir opposisiepartye in Pretoria weet.

“Die maatskappye wat die tenders ontvang het, kan moontlik aan politieke leiers verbind word. Die name van die maatskappye wat die tenders gekry het, moet bekend gemaak word, dan sal ons aan julle bewys hoe hulle aan die ANC verbind word.”

Die forum het vergader om die Openbare Beskermer, adv. Thuli Mandonsela, se Nkandla-verslag oor opgraderings by president Jacob Zuma se privaatwoning, en die omstredenheid rondom Pansy Tlakula, die OVK se voorsitter, te bespreek.

Die forum bestaan uit AgangSA, Azapo, die Christen-Demokratiese Party (CDP), Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Vryheidsfront Plus, Inkatha Vryheidsparty (IVP), United Christian Democratic Party (UCDP) en die United Democratic Movement (UDM).

Malema het gesê hy sal maatskappye ontbloot wat deur die ANC besit word, maar wat beweer dat dit in privaatbesit is. “Die OVK het bewys dat hy die potensiaal het om met politici in die bed te klim,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê die opposisiepartye is bekommerd oor die geloofwaardigheid van die algemene verkiesing op 7 Mei. Die forum het ook met die OVK se bestuur vergader, waartydens Malema versoek het dat Tlakula moet bedank. “Dit is in die belang van die land, en om die moontlikheid van burgeroorlog en dispute oor verkiesingsuitslae te vermy. Sy het sewe dae om te bedank of stappe sal gedoen word.”

ʼn Forensiese ondersoek deur ouditeurs van PricewaterhouseCoopers op die verkryging van die OVK se Riverside Office Park-gebou in Centurion, Pretoria, is verlede maand vrygestel.

Volgens die verslag was die verkrygingproses van die gebou nie regverdig, deursigtig, of kostedoeltreffend nie. Dit het ook bevind dat Tlakula nie die nodige leiding of opleiding in die proses gebied het nie.

Piet Uys, die Vryheidsfront Plus se sekretaris-generaal het egter gesê sy party ondersteun nie die versoek nie. “Die ondersoek moet aangaan. Die verkiesing vind oor ʼn maand plaas, so ons voel sy moet voortgaan met haar werk, wat sy goed doen,” het Uys gesê.

Oor die Nkandla-kwessie het die forum besluit om weer te vergader nadat Zuma die parlement toegespreek het. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.