Ondersoek verwelkom na ‘twyfelagtige’ Kubaanse medisyne vir weermag

Medikasie vir Covid-19 word in ‘n inloop-yskas gestoor. (Foto: Verskaf)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane het gevra vir ʼn deeglike ondersoek na die beweerde ongerymdhede met die weermag se aankoop van ʼn besending Interferon, Kubaanse medisyne wat die DA as “twyfelagtig” bestempel.

Die DA én die ANC het druk op die komitee geplaas om ʼn ondersoek na die aankoop van die medisyne te gelas.

Die weermag se militêre bevelsraad het die Kubaanse middel genaamd Heberon Interferon alfa-2B aangekoop sonder vooraf goedkeuring van, of registrasie by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra).

Die raad het nie voldoen aan die verpligte invoerregulasies en protokol wat oor die invoer van medisyne na Suid-Afrika geld nie.

Sowat ʼn miljoen dosisse van die medisyne, wat deur sommige as ʼn sogenaamde wondermiddel teen Covid-19 voorgehou word, word sedert April verlede jaar in ʼn verkoelde weermagstoor in die weste van Pretoria gehou.

Luidens berigte het sowat 40% van die besending boonop tot niet gegaan nadat ʼn koelkasdeur oopgelaat is, hoewel die weermag dié bewering ontken.

Die antivirale middel is glo teen sowat R300 miljoen aangekoop.

Die medisyne is nie in Suid-Afrika goedgekeur vir menslike gebruik nie en ook nie plaaslik aan kliniese proewe onderwerp nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het dit boonop nie vir gebruik teen Covid-19 goedgekeur nie.

“Nie net is Interferon, wat bestem was vir gebruik deur die weermag tydens die Covid-19-pandemie, geensins portuurgeëvalueer in ʼn gerespekteerde mediese joernaal nie, die weermag het ook versuim om die verkoelingsketting te handhaaf en 40% van die besending geruïneer. Net dié onbevoegdheid moes gelei het tot die afdanking van die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die weermaghoof, Solly Shoke,” het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, gesê.

Die DA het reeds ʼn skrywe aan komiteevoorsitter Cyril Xaba gerig waarin hy vra dat die ondersoek begin word. Xaba het ontvangs daarvan erken.

Marais sê die ondersoek moet bepaal wie besluit het om die Kubaanse medisyne aan te koop, wie nou aanspreeklik gehou moet word en wie eindelik ʼn klag oor die beweerde onwettige medisyne by die polisie aanhangig moet maak.

Diegene wat daarby betrokke is, sal gevra word om hul saak by spesiale komiteesittings te stel. Die komiteevoorsitter het bevestig dat niemand wat op versoek van die DA ondersoek moet word, van die verrigtinge uitgesluit sal word nie.

Dit sluit die weermag se bevelsraad en die minister in.

Marais sê hulle moet voor die komitee kom verduidelik hoe die geld bestee is.

“Daar kan nie langer vir aanspreeklikheid weggehol word nie. Die DA gaan verseker dat die betrokke partye aan die pen ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Anoniem ·

En CR het Kubaanse dokters benoem om “First Prize Winners” te wees? En ons dink ons ons gaan goeie kwaliteit spuitgoed in ons liggame ontvang? Ha!

Kokerboom ·

Dis ‘n absolute skande. Het die mense geen verantwoordelikheid en besef van waar geld vandaan kom? Dis net een bevelsraad na ‘n ander! Leef ons in ‘n kommunistiese bestel? Dank die betrokke bevelvoerders af asook Minister. Hul maak ‘n absolute grap van alles. Die weermag is in elk geval nikswerd en net ‘n vermorsing van geld

Harry ·

Die feit dat hierdie geheim gehou is ‘n besliste aanduiding van die twyfelagtige “backup plan” wat die ANC vir hulle uitverkoreners het. Dis skandelik!

Lizzy8 ·

Gebruik die medisyne, en spuit die weermag en staat in met dit. Dan gaan dit darem nie gemors word nie.

Suzette ·

NOG ‘n ondersoek! Dis al wat in die land gebeur. Ondersoek op ondersoek maar NIKS gebeur nie al sit hulle met die bewyse van korrupsie in die hand. Wat ‘n sirkus.

Nie Verbaas ·

Die ondersoek is maar net nog n ou ANC foefie. Gelukkige weet die hele wereld al hoe totaal onbevoeg ons regering is en hulle le soos hulle lag vir die narre.

Cherokee ·

re
Die DA gaan verseker dat die betrokke partye aan die pen ry.”
*
Word ooit enige vervolgings ingestel na afloop van al die ondersoeke wat aan die orde van die dag is? Of is dit bloot werkskepping?

Baardman ·

DA gaan niks regkry, laat dit maar weer in die hande van AfriForum as julle resultate wil hê.

Jakes ·

CR moet pa staan vir die gemors in SA. Hy is so behep met swartbemagtiging dat hy geheel en al die kluts kwyt is. Hulle moet almal oranje pakke kry.

Casper ·

Aangesien dit ‘n wondermiddel is hoekom is daar nog nie begin met inentings nie.Hulle kan dan sommer parlementslede ook inent want hulle is mos hand om die blaas met die kubane en sommer die weermaglede en gesondheidswerkers.

Johanncb ·

Ek hoop die betrokke partye word gedwing om vir hierdie ongemagtigde invoer te betaal!

marius ·

Laat die weernag lede in die straat aantree sodat die sogenaamde bevelsraad hulle een vir een inent . Dan kan dit van hul salaris verhaal word ook .

JohanR ·

Ja nee Suid Afrika het eens op ‘n tyd ‘n weermag gehad wat die mense op trots was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.