Ondersoekdirektoraat kry gou meer tande

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Konsultasies is reeds aan die gang om die ondersoekdirektoraat (OD) in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging ʼn permanente entiteit binne die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te maak.

Dié stap is ʼn poging om korte mette van korrupsie te maak.

Pres. Cyril Ramaphosa sê die ondersoekdirektoraat sal binnekort nie meer van die Valke se spesialisondersoekers hoef gebruik te maak nie sou die OD ʼn permanente entiteit word. Die OD se bestaande span spesialisondersoekers sal dan kan uitgebrei word en nuwe ondersoekers sal gewerf word.

“Ons verwag dat 2023 ʼn jaar van verhoogde aktiwiteit vir die ondersoekdirektoraat sal wees,” het Ramaphosa Maandag in sy jongste aanlyn nuusbrief gesê.

Die OD is in 2019 gestig en volg sedertdien “’n innoverende benadering om aanspreeklikheid te verseker van diegene wat by staatskaping betrokke is,” sê Ramaphosa.

“Die NVG se ondersoekdirektoraat het as deel van sy voortgesette kriminele ondersoek na komplekse korrupsie by Eskom ʼn omvattende skikkingsooreenkoms met ʼn internasionale maatskappy, ABB, gefinaliseer om meer as R2,5 miljard se strafvergoeding aan Suid-Afrika te betaal.

Die betaling sal aan die kriminele bate- herwinningsrekening gemaak word.

‘Ons vorder’

Ramaphosa sê verskeie vermeende staatskapers is ook verlede jaar in hegtenis geneem. Altesaam 187 beskuldigdes is in 32 staatskaping- en korrupsiesake voor die hof gebring, en sowat R12,9 miljard se fondse en bates is bevries, aldus die nuusbrief.

Volgens Ramaphosa is daar die afgelope vyf jaar aansienlike vordering gemaak met die versterking van die staat se vermoë om korrupsie te hanteer.

Hy glo die eerste belangrike stap was die destydse instelling van ʼn spesiale tribunaal om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) in staat te stel om siviele eise teen korruptes te bespoedig en gesteelde fondse terug te kry.

R75 miljard se siviele sake is sedert Maart 2022 na die spesiale tribunaal en land se hooggeregshowe verwys. Dit is gelykstaande aan wat vanjaar vir die kinderondersteuningstoelae begroot is.

Daar is tans 119 sake van meer as R12 miljard op die spesiale tribunaal se tafel.

“Ons het voorheen wêreldklasinstellings opgerig. Dit is nou tyd om ons instellings te herbou sodat hulle die toets van die tyd kan deurstaan en die waardes en visie van ons grondwetlike demokrasie kan bevorder,” sê Ramaphosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Ja RamaNocio. So lieg jy voort om jou eie drog droom wêreld van die WERKLIKE RSA te weerspiëel.

domheks ·

“Dié stap is ʼn poging om korte mette van korrupsie te maak.”
Wat gebeur met die Zondo verslag? Te veel kaders genoem? Ons het BILJOENE betaal en wil darem oranje pakkies aan die kaders sien.

Nie Verbaas ·

Hy vergeet n belangrike punt. Om korrupsie hok te slaan benodig mens instansies met die hoogste vlak van integriteit en howe en regters wat nie tyd het vir speel nie.

Martie Smartie ·

Dis seker die dat SA nog steeds op die Corruption Perception Index is presies waar hy 10 jaar terug was. Janee, vorder vd wal af in die sloot in ou ramp -aphosa

Nie Verbaas ·

Watter wêreldklasinstellings verwys jy na wat julle opgerig het liegbek Ramaphosa? Ons kan wel na al die wêreldklasinstellings verwys wat jy en jou ANC kaders verwoes het jou nar.

Vettiemaragartos ·

Die ANC het beslis geen wêreldklasinstellings opgerig nie mnr. noem homself die President. Afgebreek. Ja daarmee kan ek saamstem.

Mieke ·

Ag ja.. nog meer van niks wat net ‘n klomp geld en korrupsie gaan kos.

Nico ·

187 beskuldigdes voor die hof gebring? Hoeveel van hulle is suksesvol vervolg en tronkstraf opgele – ek dink 0

Koos 100 ·

Geagte hoof nar. Lui die Skerpioene nog ‘n klokkie. Wat jy nou oor mee wil spog, moet jy net asb noem dat hulle daar was, maar deur jou ANC tot niet gemaak is. O ja voor dit was daar die SAP.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek as gewone Jan Burger het geen vertroue in en respek vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie. Die SA Kriminele Regstelsel is disfunksioneel. Dit maak van “demokrasie” ‘n klugspel en die kriminele baljaar in die NVG se ondoeltreffendheid en oneffektiwiteit.
Welke rol gaan Rusland in die komende Suid-Afrikaanse 2024 Algemene Verkiesing speel om te verseker dat ‘n sosialisties/kommunistiese regering (ANC & EFF saam) SA gaan regeer! Kos vir nadenke en optrede opposisiepartye!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.