Ondersoeke na weermag se peperduur Interferon-aankoop sleep voort

Thandi Modise, minister van verdediging. (Argieffoto: Phando Jikelo/ANA)

Daar is steeds geen aanduiding oor waarom die weermag sowat R260 miljoen opgedok het om die middel Heberon Alpha R 2B, beter bekend as Interferon, vanuit Kuba in te voer nie.

Byna een miljoen dosisse van dié sogenaamde wondermiddel teen Covid-19 is in April verlede jaar na Suid-Afrika gebring. Dit is egter nie by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) geregistreer nie.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, se versoek aan die portefeuljekomitee vir uitstel om die bevindings van ʼn ondersoek deur die ministeriële taakspan daaroor voor te lê, is toegestaan nadat Modise gesê het sy het pas by die departement aangesluit en het tyd nodig om te verseker die verkrygingsproses word deeglik ondersoek.

Modise, voormalige speaker, en haar voorganger by die departement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het onlangs poste geruil. Die verkryging is tydens Mapisa-Nqakula se termyn gedoen.

Modise het die komitee die versekering gegee dat sy verbind is tot voldoening aan verkrygingsbeleid.

“Niemand word toegelaat om enigiets, ongeag hoe belangrik of dringend dit mag wees, buite die raamwerk van die verkrygingsbeleid aan te koop nie,” het Modise aan LP’s gesê.

Cyril Xaba, komiteevoorsitter, het tydens die vergadering gesê die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) het LP’s in Februarie vanjaar op die hoogte gebring van die weermag se Covid-19-projekte. Die OG het die ongerymdhede wat aan die lig gekom het in sy ondersoek na die aankoop van Interferon destyds benadruk.

Xaba sê die komitee is spesifiek bekommerd oor waarom die invoer van die produk gedoen is sonder Sahpra se goedkeuring, waarom dit gedoen is onder ʼn oop kontrak, en waarom die kontrak eers onderteken is twee weke nadat die eerste aflewering reeds gedoen is.

Boonop het die OG bevind tot 40% van die middels is moontlik onbruikbaar weens probleme met die verkoeling daarvan. Die komitee het in Februarie ook met die weermag en met Sahpra oor die kwessie vergader.

“Kommer wat die komitee tydens dié vergaderings gelug het, sluit in die versuim om ʼn behoeftebepaling te doen, die hoeveelheid medisyne wat ingevoer is, die onbetrokkenheid van die hoof- finansiële beampte by die verkrygingsproses en die feit dat die weermag voortgegaan het met die verkryging, ten spyte daarvan dat Sahpra sy aansoek afgekeur het,” sê Xaba.

Die komitee het ook die weermag se aansoek by Sahpra, om verdere kliniese toetse op die middel te doen, bevraagteken omdat vorige toetse gewys het dit kan nie vir hospitaalgevalle van Covid-19 gebruik word nie.

“Gegrond op dié kommer het die komitee gesê dit is hoogs waarskynlik dat die verkryging van die medisyne tot onreëlmatige en verkwistende uitgawe verklaar sal word.”

Sahpra en die OG was ook veronderstel om terugvoer oor hul onderskeie ondersoeke na die aankoop van die medikasie te gee.

Die komitee het onderneem dat die ministeriële taakspan, die OG en die reguleringsowerheid nou saam in Oktober terugvoer sal gee.

Xaba sê die komitee se oorsigmandaat wentel om die afdwing van goeie bestuur in die weermag.

“Dit sluit in om te verseker dat die korrekte verkrygingsprosedures gevolg word, dat die departement se geld goed bestuur word en dat gevolgebestuur in werking gestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Ek het nooit gedink ek sal ooit so goed vir niks ANC ervaring in my leeftyd beleef nie.

SjN

Sy gee die komitee die versekering, maar kon nie eens verseker dat haar diere kos gekry het nie.

JJB

Wat ‘n geploeter… hoe moeilik kan dit nou wees om die skuldiges te identifiseer en te ONTSLAAN

Porseleintjie

Almal is mos ‘baas”. Kon die wondermiddel tog karakter en integriteit bevorder, het ek hande geklap.

Jackie

Dis net so goed jy sê vir jou grd1 kind: ‘Pappa en Mamma wil n kar hê. Hiers R200mil, gaan koop vir ons 1’. Dan koop hy die mooisre rooie sonder enjin en wiele met duiwe in die ‘boot’.