Ondersoekeenheid slaan toe op loterykantore

(Argieffoto: Raymond Joseph/GroundUP)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het Donderdagoggend op die nasionale loterykommissie (NLC) se kantore in Kimberley in die Noord-Kaap toegeslaan.

Die SOE het ʼn lasbrief van die Kimberley-landdroshof verkry om die NLC se kantore te deursoek en beslag te lê op die nodige bewyse vir sy ondersoek.

Die jongste ondersoek vorm deel van sowat 50 ondersoeke na ongerymdhede by die raad, waarvan 12 amper afgehandel is.

Bevindings van een van hierdie ondersoeke is ook verlede week in die parlement ter tafel gelê. Hiervolgens het lede van die loteryraad sowat R300 miljoen wat begunstigdes toekom, geplunder.

Die SOE het aan die komitee gesê dat hulle bewyse het van ʼn reeks transaksies van miljoene rande wat op een slag uit die NLC se rekening onttrek is. Hierdie geld was glo bedoel om dwelm-rehabilitasiesentrums en ouetehuise te ontwikkel, asook vir die bemagtiging van vroue en die jeug, maar is glo eerder gebruik vir die aankoop van luukse motors en huise.

Wat korrupsie in die Noord-Kaap betref, blyk dit dat amptenare binne die NLC gebruik gemaak het van middelmanne wat niewinsgewende organisasies genader het om aansoek te doen om finansiering van die NLC. Die middelman sou die organisasie dan help om goedkeuring vir die betrokke finansiering te kry. Wanneer dit goedgekeur word, moet die betrokke organisasie dan 30% van die geld wat vir behoeftiges sou gaan, aan die middelman betaal.

Daar sal nou na verwagting beslag gelê word op ʼn reeks dokumente, skootrekenaars en rekenaarhardeskywe.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê hulle beplan ook om ʼn aantal private wonings van die NLC-amptenare onder verdenking in die Noord-Kaap te fynkam.

Mondli Gungubele, minister in die presidensie, het die SOE se klopjag en die vordering met die onderskeie ondersoeke verwelkom.

“Hierdie klopjag sal verseker dat die nodige stappe gedoen kan word teen die mense of organisasies wat betrokke is by die onwettige wanbesteding van geld wat geoormerk is om die armes te bevoordeel,” het Gungubele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Pragtig, en so het die ANC Kader maar net weereens bewys dat hul glad nie vertrouenswaardig is nie.

Grens ·

Hulle is maar net kwaad omdat die loot nie gedeel is met hulle.

Kokerboom ·

As hulle NET dink of raak aan iets met hul kloue staan bedrog, korrupsie en diefstal bont in die blom. Hou hul weg van ALLES met geld te make!!

Dana ·

Hoe dan nou anders! Ek is self ‘n ondersoeker van witboordjie misdaad. En so bevind ek myself op ‘n slag in Amerika by ‘n konferensie vir witboordjie misdaad ondersoekers. Die Amerikaners het redelike gevorderde sagteware om potensiële witboordjie misdaad te identifiseer uit ‘n magdom van transaksies en die ouens vra my toe wat ons in Suid Afrika gebruik om bedrog transaksies te identifiseer. Ek reken toe, tong in die kies, dat ons nie regtig sagteware nodig het nie, hier by ons ondersoek ons sommer net enige transaksie en die kanse is baie groot dat dit bedrog sal bloot lê. Ek dink toenemend dat dit nie eintlik meer as ‘n grap bedoel kan word nie maar dat dit inderdaad die realiteit is. Of ons nou treine, olie, covid goeters, hospitale of wat ook al is wat ons koop, die moontlikheid om bedrog op te spoor in enige transaksie is byna altyd aanwesig.

Alleen Wolf ·

Hoekom is ek nie verbaas nie hierdie ouens is nie bang nie dit is nooit net ‘n paar duisend rand nie altyd honderde miljoene en niemand ry aan die pen nie, die SOE gaan net mooi niks bereik nie, maande se ondersoeke en mors van geld en dan word die skuldiges in hoër poste aangestel.

Nico ·

Dankie tog! ek het nie my geld op dobbel gemors nie, dobbel is ‘n duiwelse praktyk.

Marina ·

Al vang slim sy baas sal hierdie weer met een of ander liegstorie vorendag kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.