Ondersoeker molesteer glo ook seksklag-slagoffers

Argieffoto

Die departement van onderwys in Gauteng het gesê nog ʼn geval van seksuele aanranding van twee leerders by die AB Xuma Primary School in Orlando, Soweto, is aangemeld.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het gesê die beweerde oortreder is ʼn forensiese ondersoekbeampte van die polisie wat deel is van die span mense wat die aanvanklike seksuele aanranding bewerings by die skool ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 57-jarige veiligheidswag is verlede jaar in hegtenis geneem nadat hy na bewering 55 leerders van dié skool seksueel aangerand het. Dié veiligheidswag, wat sedert Oktober 2017 in aanhouding is, staan tereg op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding. Sy identiteit mag weens dié aanklagte nie bekend gemaak word totdat hy gepleit het nie.

Nadat dié bewerings van seksuele aanranding aan die lig gekom het, het die departement in samewerking met die polisie onmiddellik ʼn span na die skool ontplooi om ondersoek in te stel.

“Ons is geskok, hartseer en teleurgesteld dat dié twee leerders wat nou slagoffers is, ook slagoffers is in die saak [teen die veiligheidswag] wat tans voor die hof is. Dié kinders het nou vir die tweede keer slagoffers van seksuele aanranding geword aan die hand van twee verskillende mense,” het Mabona gesê.

Die tweede voorval het glo die afgelope Maandag plaasgevind toe die ondersoekbeampte die slagoffers by die skool besoek het om hul voor te berei vir die hofverskyning.

“Daar word beweer dat die ondersoekbeampte twee gr. 3-leerders, onderskeidelik sewe en agt jaar oud, molesteer het.”

Die kwessie is na maatskaplike dienste verwys. Hulle het die skool besoek en onderhoude gevoer met die betrokke leerders en hul ouers.

Die betrokke beampte is met onmiddellike effek van die saak verwyder en ʼn saak van seksuele aanranding is teen hom aanhangig gemaak deur die ouers van die beweerde slagoffers.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het gesê die aantygings is skokkend en onstellend. “ʼn Persoon wat vertrou is om kinders te beskerm het hul vertroue en dié van hul ouers geskend. Die man moet die volle mag van die gereg in die gesig staar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Who cares ·

Ag weet julle dit begin nou belaglik raak, dit lyk asof die dept van onderwys die verkragting van skoolkinders as ‘n GRAP beskou, eers wil hulle nie die onderwyser by ‘n Hoerskool se bedanking aanvaar nie en tweedens word dit geignoreer dat die ondersoekbeampte by die Laerskool ook kinders seksueel aanrand .. FOETER gerus maar aan hoor .. wie gee om , as JULLE Nie omgee nie, ons ook nie!

Pieter ·

Ten spyte van die feit dat die polisie usesless is blyk dit dat hulle geen vrees of ontsag het vir die kriminele wette nie.

marous ·

Daar is niks meer wat kan skok in die land nie . Die mense wat veronderstel is om te lei en te beskerm is verrot!

Pop ·

En van wanneer af werk manlike offisiere met seksuele slagoffers?? Vroue is veronderstel om die taak te verrig. Maar is mos nuwe SA so dis aanvaarbaar.

Casper Labuschagne ·

Hier is ‘n slang in die gras en daar moet baie deursigtige onderhoude gevoer word met die slagoffers. Die skuld van die ondersoekbeampte moet ook nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, dit is redelik onwaarskynlik dat so ‘n persoon wel ‘n seksuele aanrander sal wees wat sy eie gedrag nie kan beheer nie.

Ek is bewus van ‘n geval in ons dorp waar ‘n meisie wat toe jonger as tien jaar oud was, deur haar stiefpa verkrag is. Maar voor dit is sy klaarblyklik deur ‘n ander persoon gemolesteer. En na die verkragting het sy op vier geleenthede ook vir ander middeljarige mans verkla, waarvan twee wel skuldig bevind is en een onskuldig bevind is terwyl die laaste geval nie gelei het tot ‘n vervolging nie. Sien iemand dalk ‘n patroon hier raak? ‘n Pastoor het aan my vertel dat toe hy berading aan haar en haar ma moes doen, het hy verseker dat daar twee vrouens ten alle tye ook teenwoordig was – hy gaan allermins geen kanse vat nie.

Madeleine ·

Dit is skokkend. N baie ernstige saak vir ons nuwe generasie. Ouers moet met hul kinders praat hieroor. Almal. Hul moet weet dis verkeerd.

Maggie ·

Hy is sedert Oktober in aanhouding en nog ni gepleit nie?Wie doen no hulle werk ni?Ons is al n paar maande verder!!

Maggie ·

Hy is sedert Oktober in aanhouding en nog ni gepleit nie?Wie doen ni hulle werk ni?Ons is al n paar maande verder!!Wanneer moet di kinders kan aangaan met hulle lewe en alles verwerk as alles so sloer?

Laura ·

Wat ‘n nare, nare ding. Ek het 3 seuns en ek vertrou NIEMAND.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.