Ondersoekspan bevind projektiel was nié oorsaak van heli wat neerstort

‘n Wrakstuk van die Robinson-helikopter nadat dit neergestort het.

Die spesialisondersoekspan wat Freek Snyman se familie aangestel het om die oorsaak van die helikopterongeluk wat sy lewe in 2018 geëis het te ondersoek, het bevind ʼn projektiel het nié die ongeluk veroorsaak nie.

Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, is dood toe die helikopter waarin hy en vlieënier, Joshua Cilliers, was, neergestort het. Cilliers is ernstig beseer, maar het die ongeluk oorleef.

Maroela Media het vroeër berig Cilliers (29) en Snyman was in Augustus 2018 besig om met wild te werk toe die tuig in die Sterkstroom-omgewing neergestort het. Snyman is op die toneel dood en Cilliers is met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas.

Die bevinding wat Wouter Botes, verbonde aan Mike Bolhuis se Specialised Security Services (SSS), oor die voorval gemaak het, is teenstrydig met dié van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO).

Freek Snyman

Die BLO het in Mei sy verslag bekend gemaak en daarin bevind die helikopter is neergeskiet. Luidens die verslag het ʼn projektiel of koeël destyds een van die helikopter se lemme getref, wat veroorsaak het dat dit neergestort het. “Die ongeluk kan nie aan die vlieënier, die helikopter of die omgewing toegeskryf word nie, maar aan die optrede van ʼn derde party, ʼn persoon op die grond, wat ʼn wapen of geweer op die helikopter afgevuur het,” het die BLO se verslag gelui.

Botes sê egter hulle ondersoek het gewys die projektiel het nie genoeg skade aan die lem aangerig om te veroorsaak dat die helikopter sou neerstort nie. Hy sê dit was nog halfdonker toe Cilliers en Snyman op daardie noodlottige dag opgestyg het en dat Cilliers tydens sy voorvluginspeksie moontlik nie eens die gat op die swart lem sou raaksien nie.

“Ons weet nie wanneer die projektiel die lem getref het nie. Dit maak nie saak nie want ons glo nie dit het die ongeluk veroorsaak nie,” het Botes gesê.

SSS se ondersoek het bevind Cilliers het waarskynlik die oorhoofse kragdrade wat voor hulle opgedoem het, te laat gesien. Cilliers het waarskynlik sy oë gereeld op die grond gehad om Snyman so na as moontlik aan die wild te bring.

Mike Bolhuis en Wouter Botes, die ondersoekers wat die ongeluk namens Snyman se familie ondersoek het.

Botes sê hulle ondersoek het bevind Cilliers het onderdeur die kragdrade probeer duik en toe weer oorkorrigeer toe hy besef hulle is te naby aan die grond. Met dié dat hy skielik probeer hoogte kry het, het die lem die stertgedeelte van die helikopter getref. Die helikopter het begin tol en toe die grond getref.

Snyman, wat aan ʼn harnas buite die helikopter gesit het, kon weens die sentrifugale krag nie terug in die helikopter klim nie en die tuig het op hom geval.

“Die lemme het baie houe gevat en het baie kragte daarop gehad, maar selfs op die plek waar die projektielskade was, het dit nie meegegee nie,” het Botes gesê.

Botes, self ʼn vlieënier met 23 jaar ervaring, sê hy het ook sy bevindinge aan ander, onafhanklike kenners en vlieëniers voorgelê en dat hulle daarmee saamgestem het. Die verslag sal ook aan die polisie in Queenstown vir oorweging voorgelê word.

Snyman se familie gaan nou ʼn siviele geding aanhangig maak.

Bolhuis sê dit is belangrik dat ʼn ondersoek deeglik gedoen word om soortgelyke voorvalle in die toekoms te verhoed. “As ʼn ongeluk gebeur het, wil ons dit in die toekoms help vermy, maar as daar nalatigheid of onverantwoordelikheid was, moet dit óók verhoed word.

“Iemand is dood en dit is belangrik dat die lugvaartgemeenskap kennis neem sodat hulle nie té gerus raak nie. Dit was ʼn tragiese gebeurtenis en ek wil vlieëniers vra om versigtig te wees.

Bolhuis sê enigeen betrokke is welkom om die ondersoekspan te kontak en dat die moontlikheid van ʼn bemiddelingsproses geensins uitgesluit word nie.

Snyman se familie het ‘n kruis opgerig op die plek waar hy gesterf het. Sy as is ook hier begrawe.

Marelize du Toit, een van Snyman se susters, het gesê die bevinding dat die helikopter nie neergeskiet is nie, bring ʼn mate van berusting omdat dié feit dit soveel moeiliker sou maak om die verantwoordelike persoon te vind.

“Dit maak dit ook nie makliker nie, want niks gaan my boetie terugbring nie. Ons kan nou begin vorentoe beweeg. Vir ons gaan dit oor die emosionele aanvaarding. Ons kan nie ʼn vinger wys nie. Ongelukke gebeur en ʼn mens verstaan dit. Ons kan emosioneel begin aanbeweeg en begin berusting vind.”

Du Toit sê die polisieondersoek na die voorval duur nog voort en hulle gaan wag dat dit afgehandel word, voordat hulle op enige moontlike stappe besluit. “Ons oorweeg ʼn klomp opsies, maar ons sal wag en kyk wat die polisie se verslag behels.

“ʼn Mens het soveel vrae en daar is so min antwoorde.”

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het gesê die doel van die owerheid se ondersoeke is om die veiligheid van die lugvaartbedryf te verseker en die gevaar van vliegongelukke of -voorvalle te verminder en nie om skuld of aanspreeklikheid toe te ken nie.

Hy sê die doel van die BLO se ondersoeke is dus hoofsaaklik om die oorsaak of moontlike oorsaak van ʼn voorval vas te stel en, indien nodig, veiligheidsaanbevelings te doen om ʼn herhaling daarvan te voorkom.

“Bewyse of feite word deeglik deurgetrap om by ʼn bepaalde gevolgtrekking te kom wat met absolute en verifieerbare feite die oorsaak van die ongeluk staaf.

“Die inhoud van die finale verslag wat uitgereik is, is dus feitelik en word deur bewyse gesteun. Die ongeluk- en voorvalondersoekspan staan bankvas by die inhoud van die verslag, asook sy bevindings en gevolgtrekking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Inkpot ·

Dis nou dieselfde Mike Bolhuis wat destyds Joost se ondersoek behartig en bevind het dat Joost onskuldig is en dat hy wat Mike is ń persoon geidentifiseer het wat presies nes Joost lyk.

Daizee ·

Die hoogte wat wildvang helikopters vlieg word nie verniet die “death zone” genoem nie. Én kragdrade is dié een ding wat die taak bemoeilik vir spuit- en wildvang helikopters.

Cherokee ·

Nog te meer Heidi, veral met betrekking tot oeste-bespuiting, vir vaste-vlerk vliegtuie.

Gawie ·

Net ‘n vraag: Die BLO doen al jare lank ondersoeke en is bekend vir hulle ongelooflik deeglike werk. Hoeveel soortgelyke ondersoeke het Wouter al gedoen, en wat is sy ooreenstemmende ‘track record’?
Dit klink al te veel vir my na ‘n familie wat probeer finasieële munt slaan uit hierdie tragedie. As die BLO se veslag reg is, kan niemand verantwoordelik gehou word nie, maar as Wouter se verslag gebruik word, kan hulle die vlieënier dagvaar.
Vra maar net…..

capie ·

Ek wonder hoeveel regstellende aksie se invloed op die ondersoeke se akuraatheid het en wat nog moontlik oopgekrap kan word met vorige gevalle. As mens na so ‘n laagvlieënde heli skiet, staan jy ‘n goeie kans om self deur wrakstukke getref te word

johan ·

Hoekom nie die persoon vra wat oorleef het nie.Hy behoort die beste te weet wat gebeur het.

Christine ·

Wanneer sekere goed met n helikopter gedoen word onder sekere omstandighede gebeur dit.

Christine ·

Gawie – net n paar feite voor jy oordeel..
In n voertuig ongeluk eis mense derde party, in helikopter ongelukke is hierdie die alternatief
Die “familie” kry nie d geld nie
Geen koerantberig gee al d feite en inligting
Geen kind v Jesus eis geld met alternatiewe motiewe nie.
Die ondersoek span is aangestel om d persoon wat hul afgeskiet het te kry, ons het geen beheer gehad oor d uitslae.
My boetie is dood, ons wil weet wat het gebeur, van dag 1 af praat niemand.
My boetie was d wonderlike mens met n hart v Goud, ons is deur hel d afgelope 2 jaar, daar het baie gebeur wat nie hier genoem word nie, dus plaas jouself in ons skoene v een oomblik voor jy oordeel.
Weet jy hoe dit voel om so n dag oor en oor te herleef, weet jy hoe dit voel om jou boetie se lewelose lyf in d gesig te staar, weet jy hoe dit voel om jou ouers te sien vergaan agv d dood v hul enigste seun? Weet jy hoe dit voel om geen antwoorde te kry nie?
Nee, Gawie, ons slaan nie munt uit d tragedie nie, ons leef dit.

Wat op dees Aarde ·

Christine, baie jammer oor julle verlies. Freek was ‘n wonderlike persoon. Ons het ‘n erf in Pretoria Noord saam met hom en Stacey gedeel toe beide van hulle nog by Onderstepoort geswot het. Ons optel kat het ook kleintjies gekry, en sy het gesukkel, Freek en Stacey het dadelik kom help om die katjies uit te kry en lewend te hou. Ek het net goeie herinneringe van hulle. Ons was baie hartseer toe hulle getrek het. Ek sal Freek en Stacey altyd onthou. :) RIV Freek, ek weet met jou goue hart help jy nou diere in die Hemel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.