Onderstepoort help tier met tandpyn, seer heup

Fushan tydens sy behandeling. (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Praat van ʼn beer met ʼn seer tand. Probeer ʼn tier met ʼn páár seer tande én ʼn heupprobleem.

Hoewel tier-pasiënte deesdae nie meer heeltemal so ʼn vreemde verskynsel by die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-fasiliteit is nie, is dit steeds ʼn onvergeetlike belewenis om een van dié majestueuse diere van nader te sien – en die kundiges daar sien vir baie kans.

Hierdie keer was die pasiënt op die ondersoektafel Fushan, ʼn nege jaar oue Siberiese tier van Cheetah Experience naby Bela-Bela in Limpopo. Fushan is in Suid-Afrika gebore en is as vyf maande oue welpie weens ʼn heupprobleem aan die organisasie geskenk.

Dit was uit die staanspoor duidelik dat Fushan in ʼn stadium mediese ingryping sou benodig en sy toestand is deurlopend fyn dopgehou.

Prof. Gerhard Steenkamp (agter in die middel) doen ‘n wortelkanaal op Fushan, terwyl dr. Annette Roug (regs) die tier monitor. (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Luidens ʼn verklaring van die UP se Fakulteit vir Veeartsenykunde, het Fushan as jong tier reeds effe kruppel geloop, maar steeds lustig gespeel. Vorige ondersoeke het daarop gedui dat die tier moontlik heupdisplasie onder lede het, maar sy versorgers sou moes wag tot hy uitgegroei was voordat dit behoorlik geëvalueer sou kon word.

Namate hy ouer geword het, het die mankheid vererger. In 2017 is ernstige osteoartritis van die linkerheup by Fushan gediagnoseer. Die heuppotjie het ook skade opgedoen en het ʼn abnormale vorm gehad, terwyl die tier se linkerheup nie meer as ʼn paar sentimeter kon uitstrek nie.

Fushan is ‘n negarige Siberiese tier. (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Fushan het pynmedikasie ontvang en is aanvullings gegee. Hy het ook toegang tot ʼn swembad vir terapie gehad. Sy gedrag is oor die afgelope paar jaar gemonitor en sy medikasie en aanvullings is aangepas, veral wanneer dit koud geword of Fushan homself ooreis het.

In Februarie vanjaar is Fushan na Cheetah Experience se nuwe perseel by Bela-Bela verskuif (dit was voorheen naby Bloemfontein) en daar het hy ʼn lieflike tuiste van 7 500m², ʼn swembad, bome, bosse en rotse gevind. Op goeie dae hardloop, bekruip en spring hy.

Fushan sukkel al met sy heup sedert ‘n welpie was. (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Vroeër vandeesmaand is Fushan egter na Onderstepoort gebring om werk aan sy tande te laat doen en sy heup weer te assesseer. Verskeie kundiges was by sy behandeling betrokke om omvattende ondersoeke te doen en die pragdier te behandel.

Volgens Onderstepoort is ondersoeke van Fushan se heupe daarop gemik om vas te stel of daar enige agteruitgang van die gewrigte is en om vas te stel of enigiets anders gedoen kan word om die tier gemaklik te hou.

“Soos wat naastenby verwag is, was daar effense agteruitgang van sy linkerheup en gewrig, maar Cheetah Experience sal sy toestand steeds met medikasie kan bestuur,” lui die verklaring.

Sy huidige aanvullings sal ook hersien word en alternatiewe sal voorgestel word indien nodig.

Fushan het onder meer drie wortelkanale aan sy slagtande ondergaan. (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Personeel by Cheetah Experience het ook altyd gewonder hoekom Fushan nie graag knaag nie.

ʼn Ondersoek van sy tande het afsplitsing van sommige van sy slagtande gewys wat met verloop van tyd ontwikkel het.

Fushan het tydens sy hospitaalbesoek wortelkanale op drie van sy slagtande ondergaan wat weer oor minstens ses maande – of vroeër indien probleme opduik – ondersoek sal word.

Claire Lamond, ʼn diereversorger by Cheetah Experience, sê Fushan is ná sy behandeling dadelik terug na sy kamp geneem.

Die heen-en-weerdery was egter geen maklike taak nie. Fushan is verdoof en in ʼn pasgemaakte waentjie, toegerus met geslote kringtelevisiekameras om hom te monitor, aangery. ʼn Span versorgers, insluitende ʼn veearts, het hom vergesel.

Hoewel hy steeds pynmedikasie moet gebruik, sê Lamond Fushan is lankal reeds sy ou self.

“Hy eet lekker en is vol blydskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mieke ·

Dankie vir hierdie stukkie interessante nuus! Bly dat Fushan nou beter voel!

Anel ·

Dr Steenkamp is die beste diere tandarts in die wêreld. Hy behandel ook ons seun se Duitse herder vir sy tande en kaak.

annie ·

Dr, is dit nie dalk ‘n Britse Leeu gekamoefleer is soos ‘n tier nie… Vryf bietjie aan daai strepe…

Kathleen ·

Toe ek klein was wou ek so ‘n streep-katjie gehad het . Hy is ‘n pragdier , baie dankie aan al die betrokke dokters , assistente en ook die eienaars en personeel van Cheetah Experience wat hom so mooi versorg . Dit is goed om te weet dat ons wilde diere so mooi opgepas word , wens dit was ook die geval van ons renostertjies wat so onnodig gestroop word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.