‘Ondersteun kusdorpe,’ pleit Suid-Kapenaars

(Foto: SANParke/Facebook)

Selfs mét strande wat oor sekere gebiede van die Wes-Kaap en Tuinroete weens die nuwe Covid-19-inperkingsregulasies gesluit is, kan vakansiegangers aan dié streek steeds uitsien na ’n blaaskans met alles wat gebied word.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy aankondiging Maandag gesê dat strande en openbare parke aan die Tuinroete én Oos-Kaap met onmiddellike inwerkingtreding tot 3 Januarie gesluit sal wees.

Die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit wat Graaff-Reinet, Grahamstad, Somerset-Oos, Kirkwood, Jeffreysbaai, Kareedouw en Port Alfred insluit, asook die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, onder meer Knysna, George, Sedgefield, Plettenbergbaai, Mosselbaai en Oudtshoorn, is onlangs tot brandpunte verklaar.

“Die Tuinroete is ’n juweel wat nou van voor af ontdek kan word. Vakansiegangers moet nie hul vakansies kanselleer nie, maar eerder die besluit neem om as gesin die omgewing te kom verken en op só ’n manier die ondergang van nog meer ondernemings help bekamp,” het dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi (voorheen Afrikaanse Handelsinstituut), gesê.

Cilliers sê hoewel die strenger inperkingsreëls verdere ekonomiese implikasies vir die land kan inhou, verstaan die AHi ook dat die Tuinroete nou in ’n kritieke situasie is met staatshospitale wat volle kapasiteit bereik het.

“Ons moet nou elkeen ’n kopskuif oor die omstandighede gedurende die feestyd maak sodat dit nog steeds geniet kan word. Kom hou vakansie, ondersteun die plaaslike winkels en geniet ander aktiwiteite wat soms afgeskeep word omdat die strand voorkeur kry. Dit is ’n groot terugslag, maar met klein aanpassings aan die vakansieplanne kan dit steeds ’n gehaltevakansie wees.”

Die AHi nooi besoekers uit om die sakpas aantreklikhede, onder meer die talle staproetes in die ongeskonde natuur en langs die wandelpaaie teen die kus, te geniet.

Met die hele land wat vanaf Dinsdag 15 Desember onder strenger maatreëls ingeperk is, staar ’n ses maande lange tronkstraf of hewige boete diegene wat versuim om daaraan te voldoen in die gesig. Nuwe maatreëls wat geld, sluit ook in dat die aandklokreël nou van 23:00 tot 04:00 sal wees en in brandpunte reeds om 22:00.

“Ons is dankbaar vir al die vakansiegangers wat ons reeds hier sien en wil almal gerusstel dat elke munisipaliteit in die Suid-Kaap-distrik sy volle samewerking bied om dit veilig vir almal te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Die 1 se dood is die ander se brood is hier nogal van toepassing lyk my.

Tanniepetoors

My hart bloei vir die Suid-Kaap se mense. Werkgewers, werknemers en al die duisende wat staatmaak op die vakansietyd vir inkomste. Ek en my sibbe was, soos ons jaarliks doen, Oktober, toe Hartenbos oopgemaak het, vir ‘n week daar vir ‘n wonderlike tyd saam. Vakansiegangers, asseblief, moenie jul vakansies kanselleer omdat jul nie op die strand kan wees nie. Die Tuinroete bied baie meer as net spierwit strande.

Michael

Jammer maar ons gaan juis kus toe vir die see en strand anders sou ons binnelands gegaan het. Dis die kommuniste wat te blameer is en ons wat maar net gedwee buig wanneer hulle blaf. Indien ons as burgers nie gaan saamstaan en al hierdie onwettige regulasies ignoreer nie, gaan dit nooit weer verander nie. Wie dink hulle gaan hier mag net prysgee leef in ontkenning van die werklikheid. Net massa optrede hier en wereldwyd kan dit vernder anders sal omtrent die hele westerse wereld onder kommunisme gebuk gaan.

Jaco

Ek was die laaste naweek van November in Oudtshoorn. Dis VOOR al dié nuwe inperkings. Die CP Nel Museum en die Langenhoven Museum was toe. Alles by Wilgewandel ontspanningsoord was oop, behalwe die super tubes. Die crocodile farm se krokodiltenk was toe want dis skoongemaak OP ‘n NAWEEK. Vreemd. Dis tog juis die tyd wanneer meeste mense buite vakansietye kom besoek. So dis net hoe Oudtshoorn ‘n alternatief bied vir toeriste wat nou nie see toe kan gaan nie. Ek hoop Oudtshoorn en ander plekke op die Tuinroete met alternatiewe vir die see skrik vinnig wakker en sorg dat al… Lees meer »