Ondersteuner in stadionkleedkamer glo met mes aangeval

Argieffoto

Die KwaZulu-Natalse polisie het Dinsdag gesê hulle het geen rekord van die voorval Saterdagaand toe ʼn jong vrou tydens die wedstryd tussen die Cell C Haaie en die Pumas in ʼn kleedkamer by Kingspark in Durban met ʼn mes aangeval is nie.

Die Haaie het Maandag ʼn mediaverklaring uitgereik waarin hulle meer duidelikheid rondom die voorval bekend maak.

Luidens die verklaring het die voorval in die vrouekleedkamer plaasgevind toe die jong vrou deur ʼn man genader is wat haar van haar handsak probeer beroof het.

“Ten spyte daarvan dat sy haar nie teëgesit het nie, is die vrou ongelukkig beseer tydens die voorval,” het Novashni Chetty, woordvoerder van die Haaie, gesê.

Chetty het aan Maroela Media bevestig dat die vrou op haar arm en boude gesteek is, vermoedelik met ʼn mes.

Die vrou is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Volgens Chetty het Gary Teichmann, uitvoerende hoof van die Haaie, die vrou en haar man Sondag besoek. “Ons is bly om te bevestig dat sy uit die hospitaal ontslaan is en goeie vordering toon. Ons wens haar ʼn spoedige herstel toe.”

Die Haaie het gesê die veiligheid van hul ondersteuners is vir hulle baie belangrik en dat die voorval in ʼn ernstige lig beskou word.

“Ons sal nou saam met ons veiligheidsmaatskappy en die polisie werk om die veiligheid van ons ondersteuners te verseker tydens hul besoeke aan stadions op dae waarop daar wedstryde gespeel word.”

Dit was nie duidelik of die vrou van voorneme is om ʼn saak by die polisie aanhangig te maak nie.

*Die Haaie het die wedstryd met 28-12 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Katerina ·

Ai n mens kan nerens meer veilig gaan nie..Ek bly maar meesal tuis, met n ete by n restaurant in Nelspruit so nou en dan. Dan moet mens ook maar versigtig kies Waar jy eet. My dogter vertel my dat n man feces in sy kos gekry het by Wimpy Ilanga mall in Nelspruit. Nou nie n messteek maar ook aaklig sleg vir die gesondheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.