Onderwys-betoging veroorsaak chaos in PE

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Minstens twee mense is in hegtenis geneem en drie beseer ná ʼn gewelddadige betoging in Port Elizabeth waartydens paaie met bande en ander rommel versper is.

Brig. Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het gesê die betoging het omstreeks 05:00 Maandagoggend in die noordelike areas van Port Elizabeth begin. “Ses polisievoertuie sowel as ‘n gemeenskapslid se motor is beskadig. Drie mense is beseer maar is nie gehospitaliseer nie. Twee verdagtes, 19 en 21 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal van openbare geweld aangekla word.

Volgens Mills sal die verdagtes Dinsdag in die Gelvandale-landdroshof verskyn. Sy het gesê die betoging was in die area van Gelvandale en Bethelsdorp. Lede van die polisie se openbare orde- en taktiese reaksie-eenhede is na die gebied ontplooi.

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Volgens Mills is ʼn waterkanon, skokgranate en rubberkoeëls gebruik om die oproeriges onder beheer te kry. Mills het berigte ontken dat daar met lewendige ammunisie op die betogers losgebrand is.

Mills het gesê die betoging is glo weens onopgeloste kwessies tussen die gemeenskap en die departement van onderwys in die provinsie. “Die betogers is gewaarsku om nie die lewens van mense in gevaar te stel nie en om op te hou klippe gooi na polisievoertuie en ander verbygaande motors.”

Volgens berigte het ouers, leerlinge en selfs taxibestuurders aan die betoging deelgeneem. Die betogers is glo ongelukkig oor ʼn gebrek aan infrastruktuur by skole, sowel as die sluiting van skole en ʼn tekort aan onderwysers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rob rover ·

Hello Maroela, hoekom is ek verwyder van julle kommentaar ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.