Onderwys, gesondheid: Leerders, pasiënte byt spit af

(Foto: Tania Heyns)

Die drukgroep Section 27 is bekommerd dat die 2024-’25-begroting die regering se verbintenis tot ʼn aggressiewe fiskale konsolidasiepad weerspieël “sonder dat die uitwerking op die grondwetlike reg op basiese onderwys en gesondheidsorg voldoende” oorweeg is.

Pearl Nicodemus, woordvoerder van Section 27, sê hoewel die voorgestelde besnoeiings aan basiese dienste vanjaar dalk op die oog af minder verwoestend lyk as dié wat minister Enoch Godongwana in sy 2023 mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring gebied het, “sal hierdie begroting waarskynlik basiese onderwys en gesondheidsorgdienste landwyd selfs verder beperk”.

“Gekonsolideerde basiese onderwysbesteding het ʼn verhoging van 1,7% ontvang van die R319-miljard in die 2023-’24-boekjaar tot die R324,5-miljard wat in die 2024-’25-boekjaar daarvoor begroot is.

“Dit is R24 191 per leerder per jaar, ʼn verhoging van R378,21 van verlede jaar se R23 813 in nominale terme.

“As ons egter die uitwerking van geprojekteerde inflasie van 4,7% vir die 2024-’25-tydperk inreken, kan ons ʼn werklike belegging in basiese onderwys van sowat R293,2-miljard sien en werklike besteding per leerder van sowat R21 859, ʼn afname van 3,6% van verlede jaar se R22 700. “Dit sal tot minder hulpbronne vir Suid-Afrika se openbare skole lei, byvoorbeeld wat betref die verskaffing van skoliervervoer, skryfbehoeftes en leermateriaal,” sê Nicodemus.

Sy sê dit is geen geheim dat die land se openbare onderwysstelsel – ondanks groot belegging – steeds sukkel om gehalteonderwys te lewer nie.

“Boonop word skole se infrastruktuur steeds deur onderbesteding geteister. Ons is bekommerd dat die besluit om kritieke onderwysprogramme te onttrek, slegs leerders sal straf sonder dat die eintlike probleme opgelos word.”

Die onderwysinfrastruktuurtoekenning (OIG) – waarop provinsies staatmaak vir skoolinfrastruktuurbehoeftes – het altesame R13,7 miljard (die bedrag het verlede jaar op R12,3 miljard gestaan) ontvang.

“Hoewel hierdie verhoging van 11,4% positief kan lyk omdat dit ver bo inflasie is, is hierdie toewysing in werklikheid ʼn ommekeer van verlede jaar se nominale verlaging van 11,5% aan die toelaag. “Die kabinet het ʼn besnoeiing van R611 miljoen aan die OIG goedgekeur en ʼn besnoeiing van R1,2 miljard aan die skoolinfrastruktuur-agterstandstoelae (SIBG).

“Hierdie begrotingsbesnoeiings beperk befondsing wat beskikbaar is om, onder meer, onveilige puttoilette dringend uit skole te verwyder. Boonop moet baie leerders skool onder stresvolle omstandighede, soos oorbevolking, bywoon. Dit beïnvloed die gehalte van onderrig en leer nadelig.

“Om oorbevolking uit te roei benodig ons voldoende belegging in veilige en voldoende klaskamers en genoeg onderwysers.”

Die nuwe begroting gaan onwaarskynlik sy doelwitte bereik as die besnoeiing van R397,9 miljoen aan die Funza Lushaka-beurs en verhoogde toewysing van slegs 4,5% aan die vergoeding van basiese onderwyspersoneel in ag geneem word.

“Hierdie belegging, wat minder is as inflasie, sal waarskynlik geabsorbeer word deur lewenskosteverhogings vir bestaande personeel eerder as deur die vermeerdering van onderwyspersoneel.”

Só lyk gesondheid

Nicodemus sê “die besuinigingstendens” kan ook in beleggings in die openbare gesondheidsorgstelsel, wat ook met slegs 1,7% toegeneem het, gesien word.

“Dit is weer eens ʼn afname van 3,6% sodra inflasie ingereken word. Dit beteken dat terwyl besteding per pasiënt nominaal van R5 179 in die 2023-’24-boejaar tot die 2024-’25-boekjaar se R5 243 toegeneem het, die werklike besteding per pasiënt met R199,98 (2023/’24) se R4 937 tot R4 738 (2024/’25) gesny is.

“Soos ons openbare skole het ons openbare gesondheidsorgstelsel minder hulpbronne om toegang tot gehalte gesondheidsorg aan die 51,9 -miljoen gebruikers te lewer,” sê Nicodemus.

In ʼn land waar klinieke en gesondheidsfasiliteite oorvol is en deur massiewe infrastruktuur-agterstande gekenmerk word, is ons bekommerd om ʼn verdere nominale begroting van R1,2 miljard te sien vir die gesondheidsfasiliteit-infrastruktuurtoelae, wat neerkom op ʼn nominale verlaging van 11,7%, sê sy.

“Hierdie besnoeiing word vererger as onthou word dat dit op verlede jaar se kostebeperkingsmaatreëls volg, wat hierdie befondsing met 5,2% verminder het.

“In ʼn poging om provinsiale regerings se onderbesteding op hierdie toelae te beperk, is dit die openbare gesondheidsorggebruiker wat gestraf sal word, aangesien die plaaslike klinieke minder geld het om vervalle of vernietigde infrastruktuur te herstel.”

Nicodemus sê soortgelyk aan basiese onderwys, is dit die oorwerkte personeel wat die uitwerking van hierdie strawwe begrotingsmaatreëls sal voel asook die 84% mense in hierdie land wat op openbare gesondheidsorg staatmaak.

“Ongelukkig vir die verpleegsters, dokters en ander gesondheidsorgwerkers is die 2024-’25-begroting vir hul vergoeding slegs R174,6 miljard, ʼn 6,7% verhoging van verlede jaar se R163,5 miljard.

“ʼn Verhoging van 6,7% sal verwelkom word omdat dit meer as inflasie is. Dit is egter onwaarskynlik dat hierdie finansiering die aantal personeellede sal verhoog en sal waarskynlik inflasieverwante loonverhogings dek.

“Verpleeg- en gesondheidswerkersposte sal dus waarskynlik vakant bly.”

Nicodemus sê fiskale beleid, insluitend nasionale begrotings, kan ʼn kragtige reddingsboei vir miljoene mense in hierdie land wees en die nasionale tesourie kan ʼn begroting nastreef wat menseregte na vore bring.

“Pleks daarvan het die regering ʼn begroting ter tafel gelê wat die swaarkry waarmee mense in hierdie land worstel, kan vererger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Hoe lank gaan dit die mensdom neem om te besef dat mens nie jouself uit skuld kan leen nie?! En dan stem hulle nog steeds vir ‘n regering wat presies net dít probeer voorgee!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.