Onderwys moet terugkeer na ‘grondbeginsels’

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hoewel hy saamstem met die bevindings van die Teaching and Learning International Survey- (Talis)-opname oor onderwys in Suid-Afrika, is dit jammer dat daar nie gefokus is op laerskoolonderwysers en -hoofde nie, omdat dit is waar die grondslag gelê word.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die uitslag van die 2018-opname Dinsdag in Pretoria bekend gemaak. Sowat 260 000 onderwysers in 48 lande het aan die opname deelgeneem.

Van die bevindings in die verslag sluit in dat onderwys sowat 49% van Suid-Afrikaanse onderwysers se eerstekeuseberoep was en dat die gemiddelde ouderdom van onderwysers 43 jaar oud en dié van hoofde 51 jaar oud is.

“Hoewel 60% van onderwysers in Suid-Afrika vroue is, is dit jammer dat net 22% van skoolhoofde ook vroue is. Dit impliseer dat Suid-Afrika steeds ʼn paternalistiese samelewing is en nie die dieper talentpoel van vroue benut nie,” het Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, gesê.

Die verslag het ook veiligheid by skole as ʼn knelpunt uitgelig en Suid-Afrika wyk heelwat van die internasionale gemiddeld af wat betref veiligheidsvoorvalle by skole.

“Skole is ʼn weerspieëling van die samelewing en dit is duidelik dat Suid-Afrika ʼn gewelddadige samelewing is wat nie as wetsgehoorsaam beskou kan word nie.”

Klopper het gesê dit bevestig ook die vakbond se vroeëre stelling dat die voorkoms van sulke voorvalle, asook die erns daarvan, toegeneem het.

Altesaam 34% van skoolhoofde het gesê dat voorvalle van intimidasie of boeliery minstens een keer per week by die skool plaasvind en nagenoeg 27% het aangedui dat daar minstens weekliks voorvalle van die besit van dwelms of alkohol is.

“Bogenoemde veiligheidsvoorvalle het ʼn negatiewe uitwerking op klaskamerpraktyke en 85% van Suid-Afrikaanse onderwysers berig dat hulle ontwrigtende leerders moet kalmeer. Die internasionale gemiddeld is 65%.

“Onderwysers in Suid-Afrika sê dat hulle net 66% van klastyd kan gebruik om werklik klás te gee, terwyl die internasionale gemiddeld 78% is,” het Klopper gesê.

Skoolhoofde berig ook oor ʼn beduidende tekort aan hulpbronne.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat gemiddeld 53% van skoolhoofde sê gehalte-onderrig word gepootjie deur ʼn tekort aan onderwysers, terwyl die internasionale gemiddeld 32% is.”

Klopper sê dié tekort kan toegeskryf word aan verskeie aankondigings wat die president en minister van basiese onderwys die afgelope paar jaar gemaak het, en wat onsekerheid en ontwrigting veroorsaak het omdat dit nie deurgevoer word vóór die volgende aankondiging nie.

Van dié aankondigings sluit in planne om graad R en RR verpligtend te maak, en hoewel die besluit verwelkom is, is daar geen begrotingstoename om die bykomende 1,3 miljoen leerders en 30 000 onderwysers in die huidige stelsel in te sluit nie.

Daar is ook aangekondig dat geskiedenis ʼn verpligte vak vir graad 12-leerders gemaak gaan word, 12 miljoen tablette aan leerders verskaf gaan word én robotika en kodering by laerskole onderrig gaan word, “met in dié stadium geen aanduiding van hoe alles gedoen gaan word, om nie eens te praat van hoe dit betaal gaan word nie”, het Klopper gesê.

Die vakbond sê uit verskeie studies is dit duidelik dat Suid-Afrikaanse kinders nie met begrip kan lees nie, asook nie behoorlik kan tel of somme maak nie.

“SAOU doen daarom ʼn beroep op onderwysowerhede, op politieke en administratiewe vlak, om te fokus op die grondbeginsels en die gehalte van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te verbeter. As nuwe vakke of vakmateriaal ingebring moet word, moet die besluit berus op behoorlike, wetenskaplike navorsing en nié op politiekery nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Martin ·

Onderwys, gesondheidsdienste en veiligheid is almal deur die ANC en hul kiesers vernietig! ‘n Land wat nie hierdié 3 basiese dienste aan sy bevolking kan lewer nie, is die naam “regering” nie werd nie.

Karolis ·

Die stelling “skole is ‘n weerspieëling van die samelewing” is glad nie ‘n korrekte stelling nie. Dit kan dalk korrek wees as dit gebiedsgebonde is. Dit gaan nog lank neem om die reenboognasie as een nasie te bespreek.

John ·

Is die tekort aan vroue as prinsipale werklik ‘n krisis, met soveel bullebakke op skool en met ander geweldsmisdade wat daagliks plaasvind? Gaan vroue die groot leerders kan vasvat.,, dalk eerder die teendeel. Hoeveel van die onderwysers het naskoolse opleiding ontvang? Of was omkopery oor dekades heen die norm. Nou moet gelaaide tablette die onderwysers se plek inneem. Dit klink na nog meer chaos.

Kobus ·

As Vakbonde ook meer werk en minder staak mag dinge dalk ook verbeter

Natan ·

“Nie met begrip kan lees nie…” Dit ondervind ek reeds in my werk met ouer persone. Hulle kan nie verslae verstaan nie tensy dit aangebied word nie. Natuurlik is die aanbieding afgewater in die aanbieder se guns. Hierdeur word verkeerde besluite geneem met die seën van topbestuur.

Johann ·

Wat is die TOEGEPASTE statistieke volgens die area en oorwegende verteenwoordiging van “leaners” per skool? En wat is die afwesigheids statistieke van onderwysers in die areas…veral op Vrydae en Maandag? En wat is die ouderdoms verteenwoordiging in sulke spesifieke areas van “leaners”? ANC LEGACY van totaal onhaalbare wensdenkery en blaam gee.

Lou ·

“net 66% van klastyd kan gebruik word om werklik klas te gee”
Een rede hiervoor is omdat sport en veral rugby, verafgod word in skole.
Leerders se klastyd, duisende rande se brandstof (skoolfonds) en onderwysers se skoolhou tyd word gebruik om na sportbyeenkomste te ry en deel te neem.
Toegegee, sport is ‘n belangrike deel van ‘n kind se ontwikkeling en kultuur erfenis maar daar moet ‘n balans gehandhaaf word. Skole se primere doel is om kinders akademies gereed te maak om verder te studeer en uiteindelik in ‘n beroep te staan. ‘n Baie bittere klein persentasie van kinders maak uiteindelik ‘n lewe as ‘n beroeps sportman of vrou.

Gys ·

Ek wonder of jy heeltemal reg is. Word sport nie na-uurs en oor naweke aangebied nie?
Toegegee, ek was in 1990 in matriek, en ek het genadiglik ook nie kinders nie, so ek het (gelukkig) nie die vaagste benul wat deesdae in skole aangaan nie.

Dat sport egter ‘n afgod is, is beslis waar. Ek kon nog nooit verstaan hoekom jy vir ‘n paar jaar van jou lewe (sê van st. 6 tot 10) ‘n sport wil beoefen, net om dit dan vir altyd te los nie. Dan kan jy maar net sowel geen sport beoefen nie. Die persentasie volwassenes wat sport beoefen, is seker minder as 1%. Die ander 99% verwyl hul tyd met tuinwerk, TV kyk en in die malls rondloop.

Onderwyser ·

Noem my ‘n slegte onderwyser. Of wat jy wil.
1. Ek weier om geld in te samel vir ‘civvies dae’. Die skoolhoof weet dit. 2. Wanneer ek daagliks tot 17:00 by die skool vrywilliglik ekstra klasse sonder vergoeding gee, moenie my tyd mors met balle en speletjies nie. Die skoolhoof weet dit. 3. Geen kinders gaan uit my klas vir foto’s neem, vergaderings ens nie. My skoolhoof weet dit. 4. Ek is nie ‘n inspekteur vir dogters se naels, hare ens nie. As jy jou gedra dan is dit reg so met my. 5. Ek verpes koekverkopings en reëlings wat in my periode geskeduleer word. Die skoolhoof weet dit. 6. Vakadviseurs maak ‘n afspraak met my. Hy of sy stap nie in my klas in behalwe as hulle in die hoek gaan sit en stilbly terwyl ek klasgee. Hulle weet dit. 7. Ouers het my telefoonnommer en ek hulle s’n. As daar probleme is praat ons daaroor. 8. Ek respekteer almal wat respek deur hul optrede verdien het. Die skoolhoof weet dit.9. Ek berei lesse so voor dat die leerders wat wil presteer kan presteer. Die wat nie wil presteer nie slaag dan ook in hulle doelwit . Die skoolhoof weet dit.10. Ek gee nie skool om bevorder te word nie of om enige ander redes nie. Dis my beroep. Die skoolhoof weet dit.

Louis ·

Wil ook weet wie die “Klopper”is. Dis nie net die leerlinge wat nie kan lees, spel of somme maak nie. Tot parlementslede en “onderwysers” kan dit nie doen nie. Ry deur die platteland en by al die skole is dit pouse. Die kinders speel buite en die personeel sit onder die koeltebome.

piet piet ·

Ek kan hierdie nie glo nie praat ons hier van vorige benaadeelde kinders of huidige benaadeelde kinders want ek ervaar dit nie so nie.My opinie is verhoog die kwaliteit van onderwys en hou op die standaarde te verlaag om aan te pas by die ondegemidelde leerling .Leerling moet moedertaalonderrig kry op skolevlak en n derde taal saam met engels kry ,geskiedenis moet nie n eensydige propaganda wees nie maar feite soos dit is,onderwysers moet gewerf en opgelei word om wiskunde en wetenskap te gee en die wiskunde geletterdheid moet geskrap word .

Gerda ·

Maak dit regtig saak oor hoeveel juffrouens en menere in watse poste is!!!! Kan n bekwame persoon aangestel word ongeag van geslag en kleur.

Christel Cornelissen ·

Beste Nel
Dankie vir die terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig.
Die berig is intussen gewysig om Chris Klopper se volledige titel aan te dui.
Groete
Christel
nms Maroela Media

Jean ·

Geskiedenis vir alle graad 12’s, mar die geskiedenis wat nou op skole geleer word is anders as die regte geskiedenis.

lewies ·

“Gerda”, ek stem heelhartig met jou saam. Politieke korrektheid het SA gebring waar hy vandag is. Stel die beste kandidaat aan. Hierdie fenomeen het ‘n antieke gedagte geword en die pad wat ‘n onderwyser moes stap vir bevordering nl. Onderwyser–> Senior Onderwyser–>Departementshoof–> Adjunkhoof–> Hoof–> ‘n Pos in die deparement–>regering, bestaan nie meer nie. Kortpaaie in die bevorderingspad het die norm geword. Die Keurraad wat hierdie bevorderingstruktuur bestuur het is lankal vergete en ‘n wiel wat begrawe is. Snaaks dat die vakbonde wat weet waaroor dit in die onderwys gaan nie praat oor hierdie Humanistiese gees van politieke korrektheid wat besig is om die onderwys te vernietig nie. “Onderwys, Gesondheidsdienste en Veiligheidsdienste” waarvan “Martin” in sy kommentaar praat is inderdaad die drie skepe wat nie maklik omgedraai word nie en as jy hom wil omdraai MOET jy minstens die ervaring en kwalifikasies he om die skip te stuur.

HSL ·

Een feit soos n koei is dat voor 1994 broedersbonď uitverkore kindertjies ook maar geweldige vinnige kort paadjies na bo gevolg het.

Disselboom ·

Geskiedenis as verpligte vak in beginsel ‘n goeie idee. Probleem is dat die waarskynlik eintlik die vak “Indoktrinasie” gaan wees.

Mari ·

Dit is jammer dat hierdie saak veralgemeen word. Ek is ‘n onderwyseres by ‘n hoërskool in Pretoria. Leerders ontvang kwaliteit onderrig, daar word gepoog om maksimum onderrigtyd te spandeer aan akademie. En nee, Lou, sport kraai nie koning in al die skole nie.
Ek wens net dat alle leerders hul akademie net erns sal aanpak en bietjie waardering kan hê vir hul onderwysers wat net die beste toekoms vir leerders begeer.

JohanL ·

Die opskrif is vir my amper die treffendste – keer terug na grondbeginsels. En dit behels om te leer lees, skryf en (basiese) wiskunde ordentlik te doen (die 3 R’e). Die huidige kurrikulum spreek nie die aanleer van hierdie beginsels korrek aan nie. Korrigeer dit en uitslae in latere standerds sal verbeter.

Die ander aspek wat nie klem op gele word nie, is moedertaal onderrig. Verskeie studies (ook internasionaal) het bewys moedertaal onderrig is belangrik. Stel dit reg en uitslae sal verbeter.

Die geweldadige sy kan eenvoudig reggestel word deur ouers wat hul houding en voorbeeld moet regruk. Geweld en die boelie-probleem begin by die huis.

Die klem wat daar gele word op al die ander aspekte, dink ek is oordrewe. Sport het ‘n plek want dit leer kinders om sosiaal met ander kinders binne die raamwerk van spanwerk te funksioneer. Natuurlik moet dit nie oordryf word nie.

Die hele geslagskwessie (te min vroulike hoofde ens) is weer ‘n oordrewe reaksie van iemand wat “polities korrek” wil wees. Ras of geslag moet nie ‘n rol speel wanneer skoolhoffde aangewys word nie.

Ja swaer ·

Dis nou die skolestelsel waarvoor ek TEN DUURSTE skoolfonds betaal elke maand, asook belasting om NO FEE skole te subsidieer (95% v skole). Net in SA, land van vrot melk en (droë) heuningkoeke

E. ·

” Die opleiding van onderwysers vir openbare skole in die Republiek is ‘n aangeleentheid wat by die dag in belangrikheid toeneem. Die belangrikheid van dié saak spruit voort uit die algemene kompleksiteit van die wêreld waarin die kind van vandag groot word. Nie alleen is daar probleme wat in die samelewingstruktuur setel nie maar die geweldige toename in kennis asook in bevolkingstalle stel uitdagings aan die moderne kind wat hy nie maklik te bowe sou kom as dit nie was vir simpatieke en doelgerigte begeleiding van liefdevolle ouers en bekwame onderwysers (professionele opvoeders) nie.
Verder bring die probleme wat tans ondervind mee dat meer kennis as vroeër in dieselfde tydsbestek aan die kind oorgedra moet word. Die aspirant onderwyser is dus geroepe om ‘n indringende studie van die allernuutste onderrigmetodes te maak en om onder andere ook die plek en waarde van tegnologiese hulpmiddels te bepaal.” Hierdie stuk kom uit die boek ” Kind en skool” deur dr. Jan Kruger en F.J.L. Krause, 1974. ISBN 0-949988-53-7.
Elke generasie het sy uitdagings in die onderwys en opvoeding, maar hiérdie administrasie, met sy verskuilde agendas en soustrein-mentaliteit, gaan die wae deur die drif kan trek nie, soos wat almal reeds kan sien en aan hulle eie velle kan voel.

Lourenz ·

Moedertaal onderrig bied ook n veiligheid vir redevoering in die klas…dis hoe gevoelens ens uitgedruk word . Ons moet ons kinders leer dat n woord betekenis het.
Bring terug, die respek vir onderwysers.
Ouers het nodig om onderwysers te ondersteun en vertrou.
Volwasenes moet verskille met volwassenes uitklaar .
Skole moet herbesin met die Onderwys Departement sodat daar nie druk op kinders geplaas word met die publiek maak van laerskool resultate.Dit gaan nog meer spanning bring tussen rolspelers…..en wat gaan subtiel gebeur as die druk bewustelik of onbewustelik afwentel na Pre-Primêre kinders en ouers. …..wie se agenda word gedryf ?
Kinders moet kind- wees kan onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.