Onderwys moet terugkeer na ‘grondbeginsels’

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hoewel hy saamstem met die bevindings van die Teaching and Learning International Survey- (Talis)-opname oor onderwys in Suid-Afrika, is dit jammer dat daar nie gefokus is op laerskoolonderwysers en -hoofde nie, omdat dit is waar die grondslag gelê word.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die uitslag van die 2018-opname Dinsdag in Pretoria bekend gemaak. Sowat 260 000 onderwysers in 48 lande het aan die opname deelgeneem.

Van die bevindings in die verslag sluit in dat onderwys sowat 49% van Suid-Afrikaanse onderwysers se eerstekeuseberoep was en dat die gemiddelde ouderdom van onderwysers 43 jaar oud en dié van hoofde 51 jaar oud is.

“Hoewel 60% van onderwysers in Suid-Afrika vroue is, is dit jammer dat net 22% van skoolhoofde ook vroue is. Dit impliseer dat Suid-Afrika steeds ʼn paternalistiese samelewing is en nie die dieper talentpoel van vroue benut nie,” het Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, gesê.

Die verslag het ook veiligheid by skole as ʼn knelpunt uitgelig en Suid-Afrika wyk heelwat van die internasionale gemiddeld af wat betref veiligheidsvoorvalle by skole.

“Skole is ʼn weerspieëling van die samelewing en dit is duidelik dat Suid-Afrika ʼn gewelddadige samelewing is wat nie as wetsgehoorsaam beskou kan word nie.”

Klopper het gesê dit bevestig ook die vakbond se vroeëre stelling dat die voorkoms van sulke voorvalle, asook die erns daarvan, toegeneem het.

Altesaam 34% van skoolhoofde het gesê dat voorvalle van intimidasie of boeliery minstens een keer per week by die skool plaasvind en nagenoeg 27% het aangedui dat daar minstens weekliks voorvalle van die besit van dwelms of alkohol is.

“Bogenoemde veiligheidsvoorvalle het ʼn negatiewe uitwerking op klaskamerpraktyke en 85% van Suid-Afrikaanse onderwysers berig dat hulle ontwrigtende leerders moet kalmeer. Die internasionale gemiddeld is 65%.

“Onderwysers in Suid-Afrika sê dat hulle net 66% van klastyd kan gebruik om werklik klás te gee, terwyl die internasionale gemiddeld 78% is,” het Klopper gesê.

Skoolhoofde berig ook oor ʼn beduidende tekort aan hulpbronne.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat gemiddeld 53% van skoolhoofde sê gehalte-onderrig word gepootjie deur ʼn tekort aan onderwysers, terwyl die internasionale gemiddeld 32% is.”

Klopper sê dié tekort kan toegeskryf word aan verskeie aankondigings wat die president en minister van basiese onderwys die afgelope paar jaar gemaak het, en wat onsekerheid en ontwrigting veroorsaak het omdat dit nie deurgevoer word vóór die volgende aankondiging nie.

Van dié aankondigings sluit in planne om graad R en RR verpligtend te maak, en hoewel die besluit verwelkom is, is daar geen begrotingstoename om die bykomende 1,3 miljoen leerders en 30 000 onderwysers in die huidige stelsel in te sluit nie.

Daar is ook aangekondig dat geskiedenis ʼn verpligte vak vir graad 12-leerders gemaak gaan word, 12 miljoen tablette aan leerders verskaf gaan word én robotika en kodering by laerskole onderrig gaan word, “met in dié stadium geen aanduiding van hoe alles gedoen gaan word, om nie eens te praat van hoe dit betaal gaan word nie”, het Klopper gesê.

Die vakbond sê uit verskeie studies is dit duidelik dat Suid-Afrikaanse kinders nie met begrip kan lees nie, asook nie behoorlik kan tel of somme maak nie.

“SAOU doen daarom ʼn beroep op onderwysowerhede, op politieke en administratiewe vlak, om te fokus op die grondbeginsels en die gehalte van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te verbeter. As nuwe vakke of vakmateriaal ingebring moet word, moet die besluit berus op behoorlike, wetenskaplike navorsing en nié op politiekery nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Martin

Onderwys, gesondheidsdienste en veiligheid is almal deur die ANC en hul kiesers vernietig! ‘n Land wat nie hierdié 3 basiese dienste aan sy bevolking kan lewer nie, is die naam “regering” nie werd nie.

Karolis

Die stelling “skole is ‘n weerspieëling van die samelewing” is glad nie ‘n korrekte stelling nie. Dit kan dalk korrek wees as dit gebiedsgebonde is. Dit gaan nog lank neem om die reenboognasie as een nasie te bespreek.

Natan

“Nie met begrip kan lees nie…” Dit ondervind ek reeds in my werk met ouer persone. Hulle kan nie verslae verstaan nie tensy dit aangebied word nie. Natuurlik is die aanbieding afgewater in die aanbieder se guns. Hierdeur word verkeerde besluite geneem met die seën van topbestuur.

Johann

Wat is die TOEGEPASTE statistieke volgens die area en oorwegende verteenwoordiging van “leaners” per skool? En wat is die afwesigheids statistieke van onderwysers in die areas…veral op Vrydae en Maandag? En wat is die ouderdoms verteenwoordiging in sulke spesifieke areas van “leaners”? ANC LEGACY van totaal onhaalbare wensdenkery en blaam gee.

Lou

“net 66% van klastyd kan gebruik word om werklik klas te gee” Een rede hiervoor is omdat sport en veral rugby, verafgod word in skole. Leerders se klastyd, duisende rande se brandstof (skoolfonds) en onderwysers se skoolhou tyd word gebruik om na sportbyeenkomste te ry en deel te neem. Toegegee, sport is ‘n belangrike deel van ‘n kind se ontwikkeling en kultuur erfenis maar daar moet ‘n balans gehandhaaf word. Skole se primere doel is om kinders akademies gereed te maak om verder te studeer en uiteindelik in ‘n beroep te staan. ‘n Baie bittere klein persentasie van kinders maak… Lees meer »