Onderwys wink vir dowe graduandus

Ilze Aäron (Foto: Verskaf)

Ilze Aäron vertel sy het nog altyd ’n passie vir onderwys gehad, maar sou nooit kon droom sy sou ’n graad daarin kon behaal nie.

Sy het vandeesweek die eerste student aan die Universiteit van Stellenbosch (US) geword om ’n BEd-graad (grondslagfase) deur middel van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) te behaal. Sy wil nou skoolhou vir dowe leerders en beoog om ’n tutoriale diens te begin vir dowe leerders wat sukkel met hul skoolwerk.

Twee gebaretaaltolke, Marsanne Neethling en Gert Erasmus, het elke klas saam met haar bygewoon en haar met alles wat sy nodig het, gehelp.

Sy beskryf haar prestasie as “’n droom wat waar geword het” en hoop dit sal ander dowe mense inspireer om hul drome te verwesenlik, ongeag wie of wat hulle is. “Ek wil graag ’n rolmodel vir hulle wees.”

Aäron vertel sy het haar gehoor op negejarige ouderdom verloor.

“My tannie het agtergekom my spraak is anders. My ma het my na die Tygerberg-hospitaal geneem waar die dokters ’n gehoortoets gedoen en vasgestel het dat ek my gehoor gaandeweg verloor.”

Die dokters kon egter nie die oorsaak van haar doofheid bevestig nie.

“My ma is twee dae later weer na die dokters om te hoor wat hulle kan doen om my te help. Hulle het voorgestel dat ek gehoorapparate dra om my gehoor te bevorder.”

Aäron het in 2012 van ’n gewone skool na die De la Bat-skool vir dowes in Worcester geskuif. Sy het aanvanklik nie gebaretaal verstaan nie.

“Ek moes vir die eerste drie maande in my nuwe skool ekstra klasse neem om SAGT aan te leer sodat ek met my medeleerders kon kommunikeer. Gelukkig het ek dit gou aangeleer.”

Sy het teen die einde van haar skoolloopbaan gehelp om as tolk tussen die onderwyser en ander leerders in die klas op te tree aangesien die onderwyser nie vlot genoeg was in SAGT vir die ander om te verstaan nie.

Ná matriek het sy as ’n onderwysassistent by die Dominikaanse Skool vir Dowes in Wittebome, Wynberg, gewerk waar sy baie oor onderwys vir dowe leerders geleer het.

“Die De la Bat-skool het eendag uit die bloute met my in verbinding getree om te vra of ek daarin sou belangstel om by die US aansoek te doen. Ek was aanvanklik onseker, maar nadat ek daaroor nagedink het, het ek besef ek moet hierdie geleentheid aangryp. Ek het aansoek gedoen en is aanvaar vir die BEd-program vir 2017. Dit was die beste oomblik in my lewe en hier is ek nou aan die einde van my studie.”

Aäron stel belang in navorsing oor dowe opvoeding en hoe om onderrigstyle vir dowe leerders te verbeter. “Ek wil meer te wete kom oor wat dit van ’n dowe verg om by verskillende omgewings aan te pas.

“Ek glo alle dowe leerders het die reg om hul drome na te streef, hul uitdagings te oorkom en verskillende goed oor die lewe ‘daarbuite’ te leer. Dit is belangrik om hulle aan die lewe buite die skoolomgewing bloot te stel en dat hulle sal verstaan wat dit beteken om op hul eie voete te staan.”

Baanbrekerswerk

Vicki Fourie, ’n senior tolk by die Taalsentrum wat ’n sleutelrol in die baanbreker-projek gespeel het, sê dit was ’n baie opbouende ervaring om saam met Aäron te werk. Sy sê die sentrum sal graag voortaan dieselfde vir ander studente wil doen.

“Die ondervinding het ons laat besef hoe groot die gaping werklik vir dowe studente is. Ons het besef dat dowe studente, afgesien van opvoedkundige tolking, ook ondersteuning op ander gebiede benodig,” sê Fourie.

“Ons moet ’n omgewing by die universiteit skep sodat dowe studente nie geïsoleerd is nie, maar waar hulle ook aan die hele universiteitservaring kan deelneem.”

Fourie sê die Taalsentrum se tolkdiens sal graag die samewerking met die Eenheid vir Gestremdhede, asook ander fakulteite en steunpersoneel wil voortsit om studente nie net in staat te stel om te gradueer nie, maar ook om ’n multidimensionele studentelewe te ervaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anniekiewiet ·

Jy is pragtig en mag die Here jou drome en toekoms vir jou moontlik maak, dag na dag saam met jou stap. Ons sê ook dankie vir Vicky en Marsanne en Gert wat gehelp het om dit als moontlik te maak. Hulle is wonderlike mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.