Onderwysbegroting beteken minder onnies, groter klasse

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede geensins oplossings gebring vir talle probleme wat die onderwyssektor in die gesig staar nie.

Dít volgens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat sê die 0,8%-groei in die begroting vir die vergoeding van onderwysers, asook vir onderwysers wat vroeër aftree, veroorsaak ʼn ernstige tekort aan die aantal beskikbare onderwysers. Die organisasie sê die tesourie erken self dat die gebrek aan geld vir onderwysers se salarisse tot “negatiewe leeruitkomste” sal lei.

“ʼn Digitale strategie vir alle skole behoort die prioriteit in die onderwysbegroting te wees. Die onlangse inperkings bevestig die noodsaak van tegnologie om ononderbroke gehalte onderwys te verseker. Gebrek aan opgeleide onderwysers en begroting vir digitale infrastruktuur maak dit egter onwaarskynlik,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS.

Volgens die tesourie is die vergoeding van werkers in die basiese onderwyssektor die grootste uitgawe – dit verteenwoordig 51,2% van algehele besteding.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond SAOU, sê dit moet in ag geneem word dat “onderwys in wese ʼn arbeidsintensiewe aktiwiteit” is.

Hy sê klasgroottes is gemiddeld 39 leerders vir elke onderwyser in laerskole en 36 leerders per onderwyser in hoërskole.

“Dit is verregaande om gemiddelde klasgroottes nog verder te wil laat toeneem. Die vakbonde onderhandel ook jaarliks die posvoorsieningskale met die nege provinsiale onderwysdepartemente. Ons word elke jaar gekonfronteer met ʼn verslegtende situasie,” sê Klopper.

“Verlede jaar is onderwysdepartemente opdrag gegee om hulle begrotings met 5% te sny omdat geld vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens gevind moes word.

“Dit lyk vir ons asof die onderwys nou die prys van die bankrot openbare ondernemings moet betaal.”

Klopper sê ook daar moet nuut oor gr. R gedink word. Dié graad voeg ʼn miljoen leerders tot die skoolstelsel toe en vereis ongeveer 28 000 onderwysers.

“Daar was vroeër ook sprake van gr. RR – dit verhoog die finansieringskrisis. Daar is ook geen blyke dat die departement van maatskaplike ontwikkeling die geld wat met ʼn verskuiwing van hierdie sektor na die departement van basiese onderwys gepaard gaan, voorsien nie.”

Buys sê besteding aan die leer- en kultuurfunksie, wat basiese en tersiêre onderwys insluit, sal volgens die tesourie van R387,2 miljard in 2020-’21 tot R416 miljard in 2023-’24 toeneem.

Alhoewel dit in geldwaarde meer is as verlede jaar, beteken dit in reële terme ʼn verlaging in inkomste – en al word daar jaarliks miljoene aan nuwe skoolinfrastruktuur toegewys, kom daar weinig van beloftes om nuwe skole te bou.

“Die groeiende aantal leerlinge in veral Gauteng en die Wes-Kaap impliseer groter klasse. Skoolgemeenskappe wat skoolgeld betaal, finansier reeds hul eie leerdervervoer en voedingskemas. Die skole word verder onder druk geplaas deur die verpligte kwytskelding van skoolgeld aan ouers wat kan bewys dat hulle sukkel, sonder om deur die staat daarvoor vergoed te word,” sê Buys.

Sy sê dit sal die onderwysdepartement baat om gemeenskappe wat dit verkies, toe te laat om openbare skole om te skakel na onafhanklike skole. Volgens Buys kan groot besparings so bewerkstellig word. Die SOS hoop om binnekort met die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, te vergader om hierdie voorstel te bespreek.

Klopper stem saam dat daar ʼn wesenlike tekort aan skole in veral die Wes-Kaap en Gauteng is en sê ook die departement se beloftes om die probleem te takel, bly leeg.

“In sommige gevalle is dit omdat die provinsiale departement nie in staat is om die projekte suksesvol van stapel te stuur en daarna af te handel nie, of andersins omdat die tesourie nie die geld beskikbaar wil stel nie,” sê hy.

Volgens die tesourie is ʼn hersiening van die getal studente wat by hoër onderwysinstellings inskryf en die beurse wat aan hulle toegeken word, noodsaaklik.

Klopper sê die SAOU voer al lankal aan dat beurse te maklik toegeken word – en dit ook in studierigtings waarvoor daar nie juis ʼn behoefte is nie.

“Ons sal inisiatiewe van ʼn veel meer oordeelkundige toekenning aan slegs die mees verdienstelike studente ondersteun. Dit maak nie sin dat die oorgrootte meerderheid van studente na universiteite toe wil gaan nie.

“Kanaliseer studente eerder volgens verdienstelikheid, aanleg, behoeftes van die arbeidsmark en die optimalisering van fondse,” sê Klopper.

Hy sê dit klink ook indrukwekkend om te sê dat die begroting met R28,9 miljard groei, maar dat dit slegs ʼn gemiddelde jaarlikse styging van sowat 1,8% is.

“Gedagtig daaraan dat inflasie tussen 3% en 4% beloop, boer onderwys oor die periode sleg agteruit. Die departement van basiese onderwys het ook vroeër bereken dat onderwysinflasie met die verbruikersprysindeks plus 1,5% per jaar toeneem. Dit impliseer dus ʼn verdere verslegting,” sê Klopper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Moet maar moelik wees om ‘n klas te he met 150 leerlinge!

Agge nee ·

Nou wat van die 300 000 onderwysers-assistente wat die regering aangestel het, honderde van hulle uit matriek uit? Op die einde hou hulle lustig skool en die onnies sit in die son. Die onnies kan nie 3% verhoging kry nie, maar 300 000 jonges word aangestel teen R3500 per maand. Betaal onderwysers volgens hulle prestasies. Die township skool wat ‘n 0% slaagsyfer vir hulle matrieks het, se onnies se salarisse behoort met 70% gesny te word. Daardie onderwysers behoort hulle te skaam om elke maand hulle salaris te ontvang.

Erik ·

Die onderwys-assistente is assistente, en mag dus nie onderrig gee nie. Ons het nie gevra vir assistente nie, dit was afgedwing. Sou jy hulle nie aanstel nie, was skole aangekla van bedrog aangesien die DvO die geld aan skole oorbetaal om aan assistente te betaal.

JohanR ·

Erik – as hulle nie onderrig gee nie WAT doen hulle heeldag…..sit in die son onder ‘n boom en kou aan ‘n stuk gras? Ons wag vir die eerstes wat ‘n leerling gaan verkrag!

Pieter ·

Dankie Zuma en vriende. (en die eff kinders). Veral nou met die Covid is dit baie erg.

Jax ·

Lyk my daar is oral baantjies vir boeties. Het almal by SOS die nodige kwalifikasies vir hul berokke ampte of is dit maar soos die res van die wêreld – dis nie wat jy weet nie maar wie jy ken. Baie interessant…….

Misky ·

Maak mens woedend as mens artikels soos die lees en dan hoor mens van gevalle waar skole al lang jare nie meer bestaan nie. Die hele personeel en selfs skoolhoof, kry steeds vet salarisse met voordele en sit by die huis. Sommige is al werksaam by ander skole, maar kry steeds salaris van nie-bestaande skole

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.