Onderwysdepartement gereed vir matriekeksamens

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Sondag gesê die departement is gereed vir die Graad 12 senior sertifikaat-eksamens wat op 26 Oktober afskop.

Motshekga het in ʼn verklaring ná ʼn vergadering van die Raad van Onderwysministers (ROM) Donderdag gesê altesaam 677 141 voltydse kandidate en 150 183 deeltydse kandidate is vir die 2016-matriekeksamen geregistreer. Dit is 9 000 kandidate meer as in 2015.

KwaZulu-Natal en Gauteng het die meeste registrasies met 169 769 en 112 069 onderskeidelik. Limpopo het 102 618 kandidate en die Oos-Kaap 89 740 kandidate.

“Een van die ontwikkelinge waaroor ons as ROM baie opgewonde is en wat beslis genoem moet word, is dat daar ʼn sigbare vermeerdering is in kandidate wat gewone wiskunde skryf in teenstelling met wiskundegeletterdheid. Dit beteken dat ons ingryping om wiskunde as ʼn vakkeuse aan te moedig, wel vrugte dra,” het Moshekga gesê.

Die ROM, wat bestaan uit die minister, die adjunkminister en die LUR’e van die nege provinsiale onderwysdepartemente, het ook maatreëls bespreek om seker te maak dat daar nie weer vraestelle gelek word soos verlede jaar in Limpopo nie.

“Alle bergpunte oor die hele land sal geoudit word om te verseker dat hulle aan die minimum veiligheidsvereistes voldoen. Bergpunte wat nie daaraan voldoen nie, sal nie toegelaat word om eksamenvraestelle te berg nie,” het sy gesê.

“Met betrekking tot leerders se gereedheid het ek en die direkteur-generaal ʼn nasionale toer na al die provinsies onderneem as deel van ons breër kontrole-en-ondersteuningsprogram aan die provinsies. Sommige provinsies het sedert die begin van die jaar leerders se prestasie aangeteken en ons is vol vertroue dat hulle genoegsaam voorbereid sal wees wanneer die eksamen begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grap ·

Wat ‘n klug die moderators sal weer 25% moet bysit voor hulle die vraestelle begin merk en as die persentasie wat druip steeds te hoog is sal ‘n groter persentasie bygevoeg word net om die slaagsyfer aanvaarbaar te maak??

Disselboom ·

Dis darem ‘n baie negatiewe siening. Daar is immers volgens Chris Kloppers van die SAOU ‘n hele klomp Afrikaans-enkelmedium openbare skole wat wêreldklas is, en wat binne die nasionale senior sertifikaat-stelsel en die regering se kurrikulum baie goed presteer. Die stelsel kan nie so sleg in onbetroubaar wees as dit vir die meerderheid Afrikanerkinders in die land ‘n goeie opsie bied en hulle oplei in wêreldklasstandaarde nie. As die punte so gemanipuleer is soos gesê word, dan is die prestasiemeting van al die openbare skole, insluitende die bestes, onder verdenking en loop die meerderheid van ons kinders met matrieksertifikate rond wat onder verdenking is – en hoe is dit dan wêreldklas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.