Onderwysdepartement moet opdok ná leerders verdrink

Argieffoto ter illustrasie.

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die departement van onderwys in Noordwes moet honderde duisende rand opdok vir die families van drie seuns wat in 2016 tydens ʼn landsdienskamp buite Rustenburg verdrink het.

Regter Andre Petersen het onlangs in die Mahikeng-hooggeregshof bevind dat “onvoldoende stappe gedoen is om die leerders te beskerm” en dat die departement gevolglik R375 000 aan elk van die oorledenes se families moet betaal.

Die families van Rabolefa Ntsi (15), Letlhogonolo Ramushu (16) en Neo Nkawane (17) het die departement kort ná hul dood hof toe gesleep oor nalatigheid.

Die oorledenes, almal destyds leerders aan Rustenburg Hoër Tegniese Skool, het in Maart 2016 tydens ʼn goedgekeurde uitstappie by ‘n vakansieoord buite Rustenburg verdrink. Die leerders was onderskeidelik in graad 9, 8 en 10 ten tyde van hul dood.

Twee van die leerders het verdrink nadat die kano waarin hulle geroei het omgeslaan het. Die omstandighede rondom die derde leerder se dood is egter steeds ʼn raaisel, aangesien hy nie saam met die ander twee in die kano was nie, maar sy liggaam tog later deur polisiehonde opgespoor is.

Nadat regstappe teen die destydse LUR gedoen is, het die departement die aanklagte van nalatigheid teen hom en die betrokke onderwyseres betwis en gesê daar is geen korrelasie tussen die leerders se dood en die stappe wat gedoen is om hulle veilig te hou nie.

Linda Conradie, die betrokke onderwyseres wie se familie die oord besit waar die verdrinking plaasgevind het, het die gebeure vir die hof uitgelê.

Volgens Conradie het sy op die dag saam met die groep leerders op die plaas gaan loop toe hulle by ʼn dam verbygegaan het. Die leerders het haar glo “onophoudelik gesmeek” om hulle toe te laat om in die dam te swem en die kano’s te gebruik.

Geen waterverwante aktiwiteite was egter vir die uitstappie beplan nie.

Conradie het nie die kinders persoonlik geken nie en elkeen gevra of hulle kan swem. Slegs vyf of ses van die groep kon swem en die res is aangesê om naby aan haar te bly vir veiligheid.

“Sy het geglo dat sy ʼn sterk swemmer en lewensredder is en die dam goed ken, aangesien sy haar eie kinders toegelaat het om daarin te swem. Gevolglik het sy toegegee aan die kinders se versoeke,” sê Petersen.

Die onbeplande wateraktiwiteit het goed verloop en toe sy gereed was om voort te gaan met die toer het die leerders gevra om nog een keer met die kano om die dam te gaan. Dit is toe dat een van die kano’s omgeslaan het. Die twee benoude leerders het aan die kano geklou en Conradie het in die dam gespring en na hulle geswem.

Conradie het in die hof getuig die water het tot by haar neus gekom toe sy by die seuns uitgekom het. Sy het een van die seuns aan die hand gevat en die ander een het aan haar nek gegryp wat veroorsaak het dat sy sink.

Sy het besef dat sy ook kan verdrink indien hulle nie hulp kry nie en sy het die leerders aan die wal opdrag gegee om ʼn stok te vat en aan mekaar te klou om ʼn lang ketting tot in die water te vorm. In daardie stadium het van die leerders reeds na Conradie se man en seun gehardloop vir hulp.

Toe die twee leerders eindelik uit die water getrek is, was hulle reeds dood.

“Sy kon nie verduidelik hoe die ander seun verdrink het nie, maar onthou vaagweg dat hy vooraan die ketting van seuns was. Die seun se liggaam is later deur polisiehonde opgespoor,” sê Petersen.

Volgens die regter bly die feit staan dat die uitstappie nooit enige waterverwante aktiwiteite ingesluit het nie en ouers het ook nie toestemming daarvoor gegee nie.

“Conradie moes bewus gewees het hiervan. Sy moes die posisie van ʼn versigtige ma ingeneem het en die kinders se versoek om te swem van die hand gewys het.”

Hoewel sy vasgestel het wie van die leerders wel kon swem, was dit nie genoeg om almal se veiligheid te waarborg nie – veral omdat sy die enigste onderwyser en volwassene teenwoordig was. Daar was boonop nie enige reddingsbaadjies beskikbaar nie.

Petersen het in sy uitspraak gesê dat Conradie se eie weergawe van gebeure bewys dat sy nalatig was en dat die leerders se families geregtig is op skadevergoeding vir die emosionele trauma wat hulle deurgemaak het.

“Dit is nou al meer as ses en half jaar wat hierdie families geen afsluiting het nie.”

Benewens die honderde duisende rand wat nou opgedok moet word, is die LUR ook opdrag gegee om die koste van die regsaksie te dek. Die onderwysdepartement het destyds R50 000 aan elk van die oorledenes se families betaal om die begrafniskoste te dek.

Peterson het sy uitspraak enkele dae ná nog ʼn tragiese voorval gemaak, waartydens ʼn leerder in ʼn swembad by ʼn hotel in Noordwes verdrink het. Die gr. 11-leerling aan Michael Modisakeng Secondary School in Majakaneng naby Brits het ʼn lewensvaardigheidseminaar vir seuns bygewoon toe hy die middag verdrink het.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Delia ·

Ek wonder hoe word die vergoedingsbedrag bepaal?
En ja, hoe laat jy toe dat leerders sonder reddingsbaadjies in n kano klim as jy self ook n lewensredder is wat die nodige kennis moet hê

Roek ·

DIE REGSVERTEENWOORDIGER , STEL ‘N BEDRYFS SIELKUNDIGE , AKTUARIS EN BAIE ANDER PROFESIONELE MENSE AAN OM DIE VERLIES TE QUANTIFISEER!

Benn ·

Die bedrag is belaglik laag. Arme families, ek wil nie eers weet waardeur hulle is nie.

Tanya ·

Alles omtrent hierdie traumatiese dag is ongelooflik hartseer en as ouer, gaan my hart uit aan elke ouer/familie wat hulle kind verloor het daardie dag, geen bedrag geld kan ooit daardie pyn beter maak nie.
Ek kan net nie help om te wonder hoekom die Onderwyseres nie aangekla word of gestraf word nie of moet opdok om te betaal vir die verliese nie, dit was tog haar besluit, nie die direkte besluit van die Onderwys Departement nie, wat eintlik beteken die geld kom van ons belasting betalers af nie.

Delia ·

Vir dieselfde rede as wanneer drs en susters droogmaak en jy vir die staat werk, die Dept van Gesondheid gedagvaar word.

Anel ·

Dit was nie onderwyser se skuld nie. Die kinders sou in elke geval later skelm gaan roei het. Nou het hulle dit onder haar toesig gedoen. Sy het geglo hulle is veiliger met haar daar as wat hulle dit skelm sou doen. Dis wat seuns op daardie ouderdom doen!!!! Veral as hulle weg van die huis is. Hulle doen dit om gesag te toets en te kyk of hulle gevang word. Niemand van julle kan sê dat dit alleenlik die onderwyser se fout was nie. Lees mooi, hulle het aanhou neul! Niemand van ons was ook daar nie. Moennie sommer altyd die “slagoffers” se kant vat nie!

Delia ·

Dis juis die punt. Sy het toestemming gegee..sonder reddingsbaadjies.

Cindy ·

ek wonder of jy dieselfde kommentaar sou lewer as dit jou eie kind was… FEIT is, SY het toestemming gegee dat hulle SONDER reddingsbaadjies gaan roei (ek is onder die indruk dis teen die wet?) en hulle het verdrink. As hulle later skelm gaan roei het, wel, nie juis dieselfde ding nie, is dit? En asb tog, enige ouer EN onderwyser WEET hoe om ‘n dowe te gooi vir aanhou neul – wat ‘n absolute flou verskoning!

Marcello ·

Die feit bly staan, sy moes nie haar toestemming gegee het nie, al het hulle geneul. ‘n Mens is inelkgeval baie versigtiger met iemand ander se kinders wat in jou sorg is.

Shakespeare ·

En wie was die sogenaamde onderwysers wat ongedissiplineerd en met geen empatie, ervaring of kennis toegelaat het dat hulle verdrink het ? Ek maak my eie gevolgtrekking !!

Mallie ·

Hoe laat jy as ouer jou kind op n kamp gaan wat nie kan swem nie. Dis die ouers se verantwoordelikheid nie die skool of departement nie.

Marcello ·

As jy die berig lees, dan was daar nie water aktiwiteite op die program gewees nie, so hulle het nie toestemming vir dit gegee nie, hoe moes die ouers nou weet daar gaan sulke water aktiwiteite wees.

christo ·

Die goue reël bly dat daar nie van die goedgekeurde program afgewyk word nie. Ten alle tye moet leerders behoorlike lewensredding baadjies korrek dra. Sorg dat daar ten minste 1 personeellid per 15 leerders AAN DIENS IS, ten ALLE tye.

Lillian ·

Dit is net tragies.
Wat ‘n lekker landsdiens naweek moes wees draai toe uit op ‘n tragedie.

Sandra ·

R375 000 is ver te min vir so ‘n groot verlies vir die families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.