Onderwysdepartement sê berigte oor Lesufi is misleidend

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die departement van onderwys het in ‘n verklaring gesê hy neem met kommer kennis van mediaberigte wat aandui dat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, beheerliggame by openbare skole se magte wil oorneem wat skooltoelating en taalbeleid in sy provinsie betref.

“Die mediaberigte is verkeerd, misleidend en kwaadwillig,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, in ‘n verklaring gesê.

Sekhonyane het gesê Joe Mpisi, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor onderwys in Gauteng, het terugvoer gegee oor die Provinsiale Onderwysberaad. “Die voorsitter het gesê afgevaardigdes, wat ‘n reeks aandeelhouers in onderwys verteenwoordig, is in vyf kommissies verdeel. Een van dié kommissies hanteer die kwessie van die Skolewet en Verenigings vir Beheerliggame.

“Deelnemers in hierdie kommissie het hul kommer uitgespreek oor magte wat aan skoolbeheerliggame toegeken word wat toelating, taalbeleid, aanstelling en die keuse van onderwysers, godsdiensbeleid, en die gedragskode van leerders betref. Die kommissie het vervolgens voorgestel dat die LUR die magte moet ontvang om taal- en toelatingsbeleid te reguleer,” het Sekhonyane bygevoeg.

Volgens Sekhonyane het die voorsitter tydens die perskonferensie terugvoer gegee oor die kommissie se hersiening van die Skolewet en dit benadruk dat gemeenskappe deurgaans betrek sal word.

“Om daarom voor te stel dat die LUR die mag wil hê oor die toelating van leerders in openbare skole of om taalbeleid af te dwing, is kwaadwillig en misleidend.”

Sekhonyane het gesê die LUR onderskryf demokratiese waardes en die beginsel van die Grondwet dat elke persoon die reg op basiese onderwys het en dat elke persoon die reg het om onderrig te word in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings, waar dit redelik prakties uitvoerbaar is. “Die LUR sal dus nie op enige manier optree wat die Grondwet oortree nie.”

Intussen het AfriForum in ‘n verklaring gesê in reaksie op Lesufi se aankondiging dat hy die Skolewet wil verander om beheerliggame se magte oor te neem, versoek die organisasie dat hy moet bedank.

“Die wet bepaal tans dat beheerliggame onder meer besluit oor skole se taal-, toelatings-, godsdiens- en aanstellingsbeleid – ʼn proses wat volgens AfriForum demokraties is en verseker dat skole hulle gemeenskappe dien,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, gesê. Sy het gesê die LUR het nie die mag om wetgewing te hersien nie.

“Sy uitspraak is dus een van verskeie die afgelope twee jaar wat gemoedere onnodig ontstig en nie in die belang van onderwys in die provinsie is nie, omdat dit die aandag van probleme soos disfunksionele skole aflei. Ouers word ook afgeskrik deur die voortdurende aanslae op beheerliggame se magte en plaas kinders in privaatskole, wat ʼn negatiewe invloed op openbare onderwys tot gevolg het. Die feit dat Lesufi apartheid as verskoning vir sy eie magsbehepte agenda insleep, het die negatiewe gevolg dat Gautengse gemeenskappe toenemend gepolariseer word.”

Skemas van Lesufi om byvoorbeeld skole te paar (“twinning”) en Afrikaanse skole na parallelmedium skole om te skakel, het onlangs groot teenkanting en selfs regsaksie tot gevolg gehad. Bailey noem dat AfriForum gereed staan om ook die jongste planne van Lesufi teen te staan, indien hy daarmee sou probeer voortgaan. “Die behoud van enkelmedium Afrikaanse skole is direk gekoppel aan die behoud van Afrikaans as hoëfunksietaal. Die LUR het reeds bewys dat hy nie Afrikaans goedgesind is nie en ook om die rede moet sy jongste uitlatings skerp veroordeel word.”

“Hier is nog ʼn voorbeeld van ʼn amptenaar in ʼn sleutelposisie binne ʼn departement en milieu waarin hy weinig ervaring het. In plaas daarvan om die legio krisisse op die terrein van onderwys in Gauteng aan te pak en met oplossings vorendag te kom, teiken hy oorwegend suksesvolle skole en skep verdeling en onsekerheid. Lesufi behoort te bedank en vervang te word met ʼn LUR wat deeglike kennis en ervaring op die terrein van onderwys het en eerder as eie ideologiese agendas, die toekoms van leerders in Gauteng op die hart dra,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet Schabort ·

. . . . blaas Lesufi die vuurtjie aan die brand . . . .

christine ·

Veg al veg jy met jou rug teen die muur. Wie het dit gese. Maar intussen gaai hulle rugby en maak dit ras korrek die slag met die naam daars geld in. Skille voor ons oe beter blits vinnag afteval regtig

david ras ·

En die DA se oorverdowende stilte hieroor (en veral oor die aanslag teen Afrikaans) kan seker nou al op Mars gehoor word !

Elani ·

Ai tog, besef asseblief, ons en ons kinders het nie die wette gemaak van doerie tyd nie, ek is trots Afrikaans en my kinders ook, ons het ook ‘n geskiedenis in ons land. Los ons skole en ons taal uit.

GT ·

Die waarheid het altyd n manier om uit te kom al probeer hulle dit hoe ookal verbloem, hierdie is ‘n ou taktiek van die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.