Die Gautengse onderwysdepartement sê ʼn korrek vertaalde Afrikaanse weergawe van die periodieke tabel is wel aan hoërskole vir die tegniesewetenskapvraestelle, wat in Junie afgelê is, verskaf.
Volgens Steve Mabona, woordvoerder van dié departement, sal hulle die betrokke skole wat die swak vertaalde weergawe van die periodieke tabel in die vraestelle vir gr. 10- en 12-leerders gegee het, by ʼn ondersoek in die nuwe kwartaal betrek om te probeer bepaal hoe dit gebeur het dat ʼn verkeerd vertaalde weergawe aan die leerders tydens die eksamens uitgedeel is.
Maroela Media het Maandag berig die periodieke tabel wat die tegniesewetenskapvraestelle vir hoërskoolleerders vergesel het, was só swak vertaal dat dit elemente soos Gadolinium met die afkorting Gd as “God” op dié tabel omskryf is.
Elemente soos Helium (He) het tydens die vertaling “Hy” geword, terwyl Berillium (Be) as “Wees” vertaal is. Kobalt (Co) het “Mede” geword, Arseen (As) was “Soos”, Jodium (I) was “Ek”, Astaat (At) was “By” en Erbium (Er) is as “Daar” op die weergawe van die periodieke tabel aangedui.
Buiten die vertaalfoute is talle van die elemente se afkortings ook slegs as kleinletters gebruik wat dit wetenskaplik heeltemal verkeerd sou maak.
Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het gesê die vertaling is skokkend en terselfdertyd lagwekkend.
“Dit lyk behoorlik asof die onderwysdepartement die periodieke tabel se vertaling aan Google oorgelaat het, dit terwyl ʼn Afrikaanse weergawe van die tabel maklik verkrygbaar is.”
Vermeulen het veral sy kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat Afrikaanse leerders benadeel kon word deur die swak vertaling van die tabel.
Mabona het egter gesê die departement het die gr. 10-vraestel ontleed en bevind dat leerders nie sou benadeel kon word nie omdat geen een van die vrae in die vraestel na die elemente wat verkeerd vertaal is, verwys het nie.
Hy het bygevoeg die fout is betreurenswaardig en gesê die departement sal bedag daarop wees om enige herhaling daarvan in die toekoms te vermy.
Vermeulen het aan Maroela Media gesê die SOS sal die onderwysdepartement ná afloop van die Julievakansie wil gaan sien met al die nodige bewyse oor vraestelle in swak Afrikaans en antwoorde en regstellings eis.
Hy het skole, ouers en leerders aangemoedig om soortgelyke foute steeds onder die aandag van die SOS te bring deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur.
‘n Derde mag aan die woel?
My kinders het al ‘n paar jaar terug vir my gesê hulle kan sien die Dept van Onderwys gebruik Google- translate vir hul matriek vraestelle.
Ek verstaan ook daar was ‘n groot uittog van Afrikaanse personeel en dat weinig indien enige oorgebly hê by die dept.
Daar is baie foute in departementele boeke ook.. skole en onderwysers word gedwing om die niksseggende, foutiewe werk te doen ook nog en mag niks daaroor sê nie!!!!!!!!
Die Onderwysdepartement se die fout is betreur enswaardig, en die trane word aangeheg.
Die regering is veronderstel om sy pligte teenoor al sy burgers na te kom, dus is die kritiek op swak onderwysbestuur geregverdig; maar die eintlike probleem kan misgekyk word, naamlik oor-afhanklikheid van staatsonderwys. As die skole en hulle onderwysers sterk staan en werklik self kan dink en diens lewer, kan die naelstring met die staat geknip word en die kundigheid plaaslik uitgeoefen word. Dit moet gedebatteer word of daardie vaardigheid en kundig werklik beskikbaar is?