Onderwysdepartement sê oor Meyerspark se beheerliggaam

skool-skoene

Foto: Pinterest.com

Die Gautengse onderwysdepartement sê hulle het besluit om die omstrede beheerliggaam van Laerskool Meyerspark van alle magte te stroop en ʼn bestuursadministrateur oor die skool aan te stel.

Maroela Media het vroeër die week berig dat ouers steeds verskeie klagtes het oor die wyse waarop die beheerliggaam die finansies van dié skool in die ooste van Pretoria bestuur.

Marius Botha, ʼn onafhanklike onderwyskonsultant wat die ouers van die skool bygestaan het met advies, het aan Maroela Media gesê die distrikskantoor het ʼn aanbeveling aan hul hoofkantoor gestuur waarin hulle voorgestel het die beheerliggaam moet van alle magte gestroop of ontbind word.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het bevestig die departement het besluit om nie die beheerliggaam te ontbind nie, maar eerder van hul funksies te onthef. “Ons sal ook beweerde onreëlmatighede opvolg en ondersoek. Verder is daar ʼn proses van stapel gestuur om te bepaal of daar wel onderwysers is wat nie hul salarisse by die skool ontvang het nie,” het hy gesê.

Volgens Mabona is daar ook nie verder aan die skool se beleid verander soos wat die beheerliggaam verlede jaar voorgestel het nie. “Die skool se ure is nie verleng nie, maar daar is wel ekstra klasse bygevoeg om leerders wat uitdagings met wiskunde, wetenskap, Engels en Afrikaans ondervind te akkommodeer. Dié ekstra klasse duur van 14:00 tot 16:00 soos wat by die algemene jaarvergadering besluit is, wat op 19 Oktober 2016 gehou is. Die besluit kan ook weer by dieselfde vergadering hersien word.”

Maroela Media het in Februarie berig oor ʼn groep bekommerde ouers van dié skool wat ʼn versoekskrif met 600 handtekeninge aan die Gautengse onderwysdepartement oorhandig het waarin hulle geëis het die beheerliggaam moet onmiddellik bedank, of deur die departement ontbind word.

Die ouers het verlede jaar met die beheerliggaam begin koppe stamp nadat daar op ʼn algemene jaarvergadering besluit is om Afrikaans as onderrigtaal by die skool af te skaf. Die beheerliggaam het ook besluit om die skool se naam, embleem en uniform te verander en die skoolure te verleng. Die onderwysdepartement het toe ingetree en bevind die beheerliggaam het nie die regte prosedures gevolg nie en Afrikaans as onderrigmedium het voorlopig by die skool behoue gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frederik ·

Ons wonder steeds of die Gautengse onderwysdepartement al hul uitstaande skuld van R20 miljoen aan die munisipaliteite vereffen het. Of hou Laerskool Meyerspark hul te besig.

Celeste ·

Dit is dan goed so en kan almal aanbeweeg!Sterkte vir die Personeel en leerlinge.

Oud onderwyser ·

Die waarheid seevier! Waarom het die hoof nie vroegtydig ingegryp nie! Laat mens wonder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.