Onderwysdepartement sluit Gautengse privaat skool

Beamptes van die Gautengse onderwysdepartement buite die Centauri private skool (6 September 2018). Foto: ANA

Beamptes van die Gautengse departement van onderwys het Donderdag ʼn privaat skool in Centurion besoek om dié skool, wat volgens die departement onwettig bedryf word, toe te maak.

Die afvaardiging, gelei deur Hilda Kekana, die distriksdirekteur vir Tshwane-Suid, het vanoggend by die Centauri- tweetalige private hoërskool in Centurion aangekom. African News Agency berig die beamptes is egter toegang tot die skool geweier.

“Dit is private eiendom dié. Niemand kom hier in nie. Ek het met nasionale intelligensie gepraat. Neem net ʼn foto …” het ʼn vrou aan departementsbeamptes en verslaggewers geskree voordat sy terug in die huis gehardloop het.

Die beamptes is daarna direk na die Wierdabrug-polisiestasie om ʼn saak teen die skool se eienaars aanhangig te maak.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het gesê die bedryfsregistrasie van die skool is in April deur die provinsiale departement teruggetrek omdat die skool nie aan die post-registrasievereistes voldoen het nie. “Die skool het egter die korrespondensie hieroor geïgnoreer en net voortgegaan met hul bedrywighede,” het hy gesê.

Mabona het ʼn lys oortredings uiteengesit wat ʼn ondersoek na die skool glo aan die lig gebring het. Volgens Mabona word die skool vanaf ʼn residensiële perseel bedryf wat doeltreffende leer en onderrig in gedrang bring. “ʼn Onderwyser, mnr. Swanepoel, woon op die perseel. Sy slaapkamer grens aan ʼn klaskamer,” het Mabona gesê.

Volgens Mabona het die skool ook nie ʼn voldoende aantal onderwysers in diens nie – hy beweer daar is slegs drie onderwysers, onder wie die skoolhoof, by die skool om leerders in vyf verskillende grade te onderrig.

“Een van die onderwysers het nie ʼn onderwyskwalifikasie nie en is nie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) geregistreer nie. Die eienaar van die skool versuim dus om te voldoen aan die Saro-wet.”

‘n Bord buite die Centauri private skool in Raslouw. Foto: ANA

Mabona beweer die skool gee nie gehoor aan behoorlike assesseringsbeleidstellings en eksamenprosedures nie, asook dat multigraadonderrig by die skool gedoen word, die vakrooster en take nie aan die staatskurrikulum (KABV) voldoen nie, die skool nie ʼn wetenskaplaboratorium het nie en geen praktiese werk gedoen word nie.

“Gasvryheidstudies word as vak by die skool aangebied. Die onderwyser wat hierdie vak gee, is nie gekwalifiseer om dit te doen nie en nie toegerus om te verseker dat die praktiese komponent van hierdie vak voltooi word nie,” het Mabona gesê.

Die departement beweer dat die afneem van eksamens op ʼn “lukrake manier” gedoen word. In Junie 2017 is die Graad 9-Lewensoriënteringeksamenvraestel saam met die nasienmemorandum in die eksamenlokaal gevind terwyl die leerders besig was om die eksamen te skryf. Dit word geag as ʼn eksamenonreëlmatigheid. Die eksamenmonitor het die memorandum verwyder en aan die skoolhoof terugbesorg,” het hy gesê.

Hy sê punte wat aan leerders toegeken is, kon nie deur die departement geverifieer word nie omdat die skoolhoof nie bewyse kon lewer waar hierdie punte vandaan kom nie.

Die departement het gevolglik die registrasie van Centauri teruggetrek en die eienaars is weereens gemaan om onderrigbedrywighede by die skool te staak. Die skool het nou 30 dae kans nadat ouers oor die saak ingelig is om die betrokke leerders by ander skole te plaas. “Dit sal verseker dat die onderrig van hierdie leerders nie in gedrang gebring word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Morne

So dit is net soos al die ander skole wat deur die departement van onderwys beheer word?!

Lerato

Is dit ‘n “Fly by night skool”?

Charles

Die geveg teen privaatskole deur die kommunistiese ANC het begin.

Casper Labuschagne

Ek twyfel dat dit ‘n “fly-by-night” skool is, die besware kom vanaf die department en nie vanaf die ouers nie. Die probleem is dat die burokrasie in onderwys ontsaglike afmetings aanneem en dit is ‘n reusagtige las op klein en privaat skole. Die probleem is dat daar oor enkele jare geen Afrikaanse skool oor sal wees wat deur die staat bedryf word nie.. Dit toekoms van Afrikaanse onderrig is juis sulke mikro-skole in die voorstede waar daar ‘n aanvraag bestaan. Maar daar sal verskeie oorkoepelende privaat organisasies moet wees wat bystand verleen betreffende die leerplan, assessering, standaarde, bykomende materiaal asook… Lees meer »

Daan Erasmus

Die skool is op die drumpel van Maroela Media. Maak ‘n draai en vertel ons van die plek. Nou nie ‘n Huisgenoot artikel nie. Net ‘n kort feite storie.