Onderwyser en drie ander vas oor poging tot moord, brandstigting

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in nadat geweld uitgebreek het tydens ʼn gemeenskapsvergadering in Barberton waar mense beseer en huise en motors beskadig is.

Vier verdagtes tussen 19 en 31 is in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is ʼn 31-jarige onderwyser van ʼn plaaslike hoërskool in Barberton, het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die polisie het geen steen onaangeraak gelaat nie ná die onderonsie wat plaasgevind het toe ʼn groep mans Dinsdag 15 Maart, by ʼn vreedsame wyksvergadering opgedaag het en dit ontwrig het,” het Hlathi verduidelik. “Vyf huise is ná die beweerde ontwrigting beskadig en vyf motors en ʼn huis is aan die brand gesteek. Twee persone is geskiet en gewond en een is met ʼn onbekende voorwerp aangeval.”

Die verdagtes is ʼn onderwyser by ʼn plaaslike hoërskool Mbuso Mamba (31), Andile Mdluli (23), Vusi Zwane (31) en Clifford Nkosi (19). Die mans het Vrydag in die Barberton-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord en brandstigting. “Hulle is vrygelaat op borgtog van R500 elk en die saak is uitgestel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.