Onderwyser het glo kind se hand met staalpyp gebreek

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Onderwyser van Krugersdorp in Gauteng is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn 12-jarige skolier se hand met ʼn staalpyp gebreek het nadat sy ʼn wiskundevraag verkeerd beantwoord het.

“Die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings (EGKS-eenheid) stel ondersoek in en hulle het die persoon in hegtenis geneem,” het Appel Ernst, woordvoerder van die polisie in Gauteng, aan News24 gesê. “Die man sal Vrydag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.”

Die departement van onderwys het Donderdag gesê hy beskou die voorval in “ʼn ernstige lig”. “Ons veroordeel lyfstraf ten sterkste, aangesien dit onwettig is volgens die Grondwet van die land en die Skolewet,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, gesê. “Daar is geen ruimte vir lyfstraf in ons skoolstelsel nie. Die beweerde gedrag van die onderwyser, indien dit waar is, is totaal onaanvaarbaar.”

Die Krugersdorp Nuus-webwerf het berig die leerling se ma het op 7 Mei by die huis gekom en gesien haar dogter is in pyn. Haar linkerhand was hewig geswel. Volgens die webwerf het die onderwyser die meisie en ander skoliere met ʼn staalpyp geslaan omdat sy nie ʼn wiskundevraag korrek beantwoord het nie.

Sekhonyane het gesê die departement het beamptes na die skool gestuur om ondersoek in te stel en die skoolhoof sal ook ʼn verslag saamstel. “Enige onderwyser wat lyfstraf toepas sal tereg staan op aanklag van aanranding, en die onderwyser kan afgedank word,” het sy gesê. “Die departement het die afgelope paar jaar onderwysers opgelei om alternatiewe dissiplinêre praktyke en prosedures te identifiseer en toe te pas. Die departement sal berading aan die betrokke leerling bied.”

Bron: Ahmed Areff, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Riaan Slabbert ·

Ek is ten gunste van lyfstraf…maar daai onnie sou albei sy hande verloor het as dit my kind was.

Desi ·

Ek is ook ten gunste van lyfstraf, maar nie aanranding en mishandeling nie. Dis waar die verskil inkom. Ek stem, die man sou dalk net meer as sy hande verloor het as ek met hom klaar was.

Elfie ·

Met ‘n staalpyp? Is hy dan mal – wat maak hy in elk geval met ‘n staalpyp by die skool. Dis vieslik verby. Hulle moet HOM met ‘n staalpyp slaan op sy hand dan sal hy weet hoe dit voel!

Tina ·

Verskriklik!!!..hierdie is nie ‘lyfstraf’ nie!! dit is blatante aanranding!!!..waarom ‘n beroep kies,as jy nie instaat is om met kinders te werk?..eerste plek – kry liewer vir jou ander werk…hierdie kind/ers het psigologiese skade opgedoen, en het nou ‘n weersin vir hierdie vak…tweedens ek is ‘n voorstander vir straf in die regte konteks – MAAR ek het ‘n probleem as iemand sy/haar ingehoue woede op kinders uithaal ..nee wat, kry liewer vir jou ‘n ander beroep as dit nie meer vir jou werk nie.

Rieks ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die onderwyser dink dat hy dit ingeslaan kan kry – sy onderwys metodes laat veel te wense as hy nie dit op die korrekte manier benader nie. Dit is nie almal wat uitblink in wiskunde nie en as jy die konsep nie verstaan nie – kan jy slaan tot jy blou in die gesig is en net mooi niks of minder as niks sal ingaan.

Hierdie leerling gaan heel moontlik nie wiskunde verder neem nie aangesien hy die vrees van die bose in haar gesit het! Sommige onderwysers laat my soms dink dat hulle hulle eie “onnoselheid” so wil wegsteek! Hoekom nie eerder probeer uitvind of die kind verstaan en voorstel dat sy ekstra klasse benodig nie. Stem saam met Riaan – hy/sy sou vir lank nie hulle hande kon gebruik as dit my kind was!

Thea ·

Dit wys jou net wat die algemene publiek weet van township skole – dis algemeen daar! Hoekom dink julle word lyfstraf verband, omdat ‘n sekere groep mense in Suid-Afrika nie weet hoe om dit toe te pas nie. Nou lei al wat ‘n onderwyser daaronder!

Charlotte ·

Stem saam met jou Rieks ek wonder het hy kinders van sy eie,en hoe hy sal voel as iemand sy kind met n staalpyp moes slaan,sort jou frustasies,ek weet daar is nog liefdevolle onderwysers wat dit doen om ons kinders na die beste van hul vermoe te onderrig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.