Onderwyser met speelgoedgeweer beroof

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Onderwyser is Dinsdagoggend in Johannesburg op pad skool toe met ʼn speelgoedgeweer beroof en aangerand.

Ao. Xoli Mbele, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê vyf mans het die 50-jarige onderwyser op die hoek van Polly- en Jeppestraat in die middestad oorval. “Een van die mans het die speelgoedgeweer op die slagoffer gerig,” het Mbele gesê. “ʼn Ander verdagte het die onderwyser met ʼn onbekende voorwerp oor die kop geslaan.”

Die aanvallers het R150 en twee selfone gebuit en gevlug.

“ʼn Polisiebeampte wat nie aan diens was nie, het gesien die man se kop bloei en ondersoek ingestel.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 22 en 26 jaar oud, is kort daarna in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op die speelgoedgeweer. Die gesteelde geld en selfone is nie teruggekry nie.

Die verdagtes moet binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Mbele het gesê die polisie is op die spoor van die ander drie verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Willemse ·

Wat die engelse ‘n “gun” noem kan ‘n geweer of ‘n pistool wees. Om op straat met ‘n geweer rond te loop is baie opsigtelik, en dit is onwaarskynlik dat die rowers ‘n geweer sou gebruik.

Patat ·

Ek stem saam. ‘n Geweer is ‘n groot ding. Dit moes ‘n speelgoedpistooltjie gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.