Onderwyser se lyk in kar gevind

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Verdagte (24) het vlugtig in die landdroshof op Harrismith in die Oos-Vrystaat op aanklag van moord verskyn nadat die liggaam van ʼn 56-jarige onderwyser in dié se motor gekry is toe die verdagte daarmee rondgery het.

Na bewering was die middeljarige onderwyser van Intabazwe, Harrismith, se vrou Maandag die laaste persoon wat hom lewend gesien het toe sy op pad werk toe was. “Toe sy daardie middag terugkeer huis toe,” sê sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, “was sy geskok om bloedspatsels teen die mure en op die huis se vloere te sien.”

Sy het van hul familielede in kennis gestel, wat vertel het dat hulle ʼn vreemdeling met haar man se motor in Qwaqwa sien rondry het.

Terwyl hulle die motor deursoek het, het hulle op ʼn liggaam met ʼn nekwond afgekom.

Later daardie dag het veiligheidswagte op die parkeerterrein van ʼn plaaslike hospitaal die slagoffer se Volkswagen Polo Classic gewaar met bloed wat daaruit drup, sê Mophiring.

Die wagte het die polisie in kennis gestel. “Terwyl hulle die motor deursoek het, het hulle op ʼn liggaam met ʼn nekwond afgekom wat in ʼn laken toegedraai was,” sê Mophiring. “Die verdagte is in die hospitaal opgespoor, in hegtenis geneem en word in ʼn polisiesel aangehou.”

Volgens die polisie is die motief vir die moord nog nie bekend nie, maar die verdagte is ʼn buurman van die oorledene.

Sy saak is uitgestel tot 29 Januarie wanneer die beskuldigde na verwagting om borgtog en regshulp aansoek sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.