Onderwyser wat eie dogter verkrag gevonnis

Argieffoto

ʼn Onderwyser van Limpopo wat sy dogter jare lank seksueel mishandel, verkrag en later swanger gemaak het, is in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die 52-jarige man van Seshego, buite Polokwane, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Sy naam word weerhou om die identiteit van sy 17-jarige dogter te beskerm.

Volgens Ngoepe het die man begin om sy dogter te molesteer toe sy net tien jaar oud was. Die molestering het plaasgevind wanneer die meisie se ma nie tuis was nie. In 2012 het hy begin om sy dogter te verkrag en vir haar gesê hy “berei haar voor vir die toekoms”.

“Gevolglik het die slagoffer in 2013 swanger geraak, maar die swangerskap is beëindig. Die man het voortgegaan om haar te verkrag totdat sy uiteindelik in 2014 die verkragtings aangemeld het en die verdagte in hegtenis geneem is,” het Ngoepe gesê.

Lt.genl. Jim Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming geloof vir hul betrokkenheid in die ondersoek na die saak.

“Ons hoop dat die vonnis as afskrikmiddel sal dien vir alle verkragters daar buite wat die weerloosste lede van ons samelewing teiken,” het Ledwaba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanna ·

Hoop nie lewenslank is net 15 jaar nie. Die mens het geleerdheid hy weet presies die verskil tussen reg en verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.