Onderwyser wat glo verkrag, borgtog geweier

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Die onderwyser van KwaZulu-Natal wat daarvan verdink word dat hy ʼn leerder aan die Hoërskool Dundee seksueel aangerand het, is borgtog geweier.

Die 36-jarige onderwyser het vroeër vandeesmaand in die Dundee-landdroshof verskyn vir uitspraak op sy borgtogaansoek.

Volgens Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die landdros hierdie aansoek van die hand gewys en sal hy nou in polisieaanhouding bly tot sy volgende hofverskyning.

Nonhlanhla Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het destyds ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om geen toegeeflikheid te toon aan diegene wat kinders mishandel nie.

Khoza het ook gevra dat borgtog nie aan dié onderwyser toegestaan word nie.

Die betrokke onderwyser is in Februarie by die skool in hegtenis geneem, nadat ouers en lede van die gemeenskap van die beweerde misdryf te wete gekom en na die skool opgeruk het.

Die leerder is glo tydens skoolure deur die onderwyser seksueel aangerand.

“Ouers vertrou onderwysers toe met die lewe van hul kinders, daarom is dit walglik en teleurstellend dat ʼn onderwyser ʼn kind so kan misbruik,” het Khoza gesê.

Ramkisson-Kara het aan Maroela Media bevestig dat die onderwyser se saak tot 26 Mei vir verdere ondersoek uitgestel is.

Hoërskool Dundee. (Foto: Skermskoot/Google Earth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Niks minder as reg nie. Sulke wesens hoort nie in die samelewing nie en nog minder in ‘n beroep waar kinders opgevoed moet word. Laat hy sit, gooi sommer die sleutel weg.

Misky ·

As mens kyk hoeveel valse getuienis daar deesdae in soortgelyke sake is, is dit so moeilik om te oordeel totdat alle bewyse ondersoek is. Ek sal darem bitter kwaad wees as ek so lank in die tronk moet sit as ek onskuldig is.

Potchmeisie ·

Goeiedag. Ek is self as tiener deur die skoolopsigter by die skool verkrag. Ek het in die tyd waarin hy verhoor is met tye in hom vasgeloop. Weet jy hoe verwoes verkragting ‘n mens? Weet jy hoe seer maak dit om hom te sien? As die ou onskuldig is, hoop ek die waarheid kom gou uit. Andersins moet hy maar sit.

JohanR ·

Wat ‘n land! Hoe word daar eers ‘n gedagte gegee om iemand wat verkrag het boorgtog te gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.