Onderwyseres, drie ander sterf in botsing

Shano Zeelie (Foto: Hoërskool Despatch/Facebook)

Hoërskool Despatch is in rou nadat een van sy geliefde onderwysers die naweek in ʼn motorongeluk dood is.

Shano Zeelie (28) en drie ander mense is Sondag net na middernag in die botsing op die N2 tussen die Seaview- en Baywest-afdraai in Kabegapark in die rigting van Gqeberha dood.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het Zeelie se Ford Fiesta reg van voor teen ʼn VW Polo gebots.

Zeelie sowel as die bestuurder van die Polo, Raeeza Ahmed (19), en haar twee passasiers, Moegamat Noor Fredericks (23) en Raeez Thompson (14), is op die toneel dood. ʼn Derde passasier in die Polo is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

“Die presiese omstandighede rondom die noodlottige botsing word ondersoek. ʼn Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.”

Volgens Hoërskool Despatch het hy met groot skok en diepe hartseer van Zeelie se dood kennis geneem.

“Ons het dié sonnige, sprankelende jong meisie leer ken as iemand wat elke dag voluit geleef het.

“Shano se innemende geaardheid het oud en jonk by haar laat aanklank vind. Sy het altyd tyd vir ʼn geselsie gehad. Die kollegas en leerders sal haar baie mis.

“Shano, wat ook pragtig kon sing, se gunstelinglied was ‘Mej. Sonneblom’ van Die Heuwels Fantasties. Ons sal haar onthou as Hoërskool Despatch se Mej. Sonneblom.”

Die skool het sy innige simpatie met Zeelie se familie en vriende betuig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nellie ·

Piet, die versekerde bestuurder, aka “Insured Driver” in regsterme, die bestuurder van die ander voertuig wie met hulle gebots het.

piet ·

Volgens die berig is albei bestuurders van die motors wat teen mekaar gebots het dood. So hoe kla jy ‘n persoon strafregtelik aan as hy dood is. Tensy daar ‘n derde party (die bestuurder van ‘n ander motor wat nie in die ongeluk betrokke was nie) die ongeluk veroorsaak het.

Shakespeare ·

Hartsverskeurend. So ‘n pragtige jong meisie. ‘n Mens kannie meer rondry in die nag nie. Baie gevaarlik. Sterkte aan die familie.

Nellie ·

Piet, wie steur hulle nog aan enige regulasies deesdae? En wat maak dit enige verskil – drie mense is DOOD.

Surfer ·

Kop aan kop botsing op die N2 wat net n 1 rigting dubbel baan highway is. So iemand het weer n verkeerde “onramp” gevat hier. Dit gebeur deesdae baie in die ooskaap. So jammer.

Maritza ·

Hartverskeurend om sulke nuus te hoor. Sterkte aan die familie

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan haar familie, vriende en kollegas.

Mariaan ·

So pragtige vrou…ai dis tragies…as ma sal my hart nie so iets oorleef nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.