Onderwyseres van bekende Tzaneen-skool verdwyn

Charmaine van Staden (Foto: Verskaf)

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na ʼn onderwyseres aan die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen wat Maandag as vermis aangemeld is.

Die onderwyseres, Charmaine van Staden (55), is die skoolhoof van die Hoërskool Ben Vorster, Jan van Staden, se vrou.

“Van Staden is na bewering Saterdag omstreeks 10:00 die laaste keer gesien toe sy haar huis in Premiapark in Tzaneen verlaat het,” vertel die ondersoekbeampte, AO Marobo Seabela.

“Sy het glo vir haar dogter gesê sy gaan dorp toe, maar het sedertdien nog nie teruggekeer huis toe nie.”

Van Staden is die oggend daar weg in haar rooi Hyundai i10 (nommerplaat FJK 447 L).

Die klere wat sy met haar verdwyning aangehad het, is onbekend.

Die polisie is Maandag van haar verdwyning in kennis gestel en het dadelik ʼn soektog van stapel gestuur.

“Die polisie het haar eers by familie en vriende gaan soek, maar sonder sukses.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die soektog kan bydra, kan die ondersoekbeampte by 071 676 9667 inlig of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.