Die tweede skoolkwartaal het Maandag op ’n somber noot in Noordwes afgeskop toe ’n onderwyser van ’n skool naby Brits na ’n ander skool gegaan het waar hy ’n onderwyseres, vermoedelik sy vriendin, ten aanskoue van leerders met ’n mes gesteek het.
Die onderwyseres (47) is intussen in ’n kritieke toestand in die waakeenheid van ’n hospitaal.
Elias Malindi, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, sê bouwerk vind sedert verlede jaar by die Tshefoge Primary School by Vaalboschloot naby Jericho plaas en leerders ontvang tydelik onderrig in ’n gemeenskapsaal in die omgewing.
’n Onderwyser (64) van Tolamo Primary School in die Letlhakaneng-nedersetting het glo ’n klapmus aangehad toe hy gister die saal binnegestorm het sonder om sy temperatuur te laat meet of sy hande te ontsmet.
Die onderwyser het die onderwyseres na buite geroep en ’n argument het tussen die twee ontstaan. Die onderwyseres is toe ten aanskoue van die leerders verskeie kere in haar rug en nek met ’n mes gesteek.
Die personeel van Tshefoge Primary School kon daarin slaag om die verdagte aan te keer en die polisie te ontbied terwyl die onderwyseres in ’n kritieke toestand na die plaaslike hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.
Mmaphefo Matsemela, LUR van onderwys in Noordwes, het die voorval ten sterkste veroordeel.
“Ons is as ’n departement baie ontsteld en teleurgesteld oor so ’n afskuwelike en barbaarse voorval wat in een van die skole na bewering deur een van ons opvoeders plaasgevind het.”
Die LUR het verder gesê daar is geen plek vir geslagsgebaseerde geweld in skole nie en dat die skool se leerders getraumatiseer is na die voorval. Sy het die skool se personeel bedank wat die verdagte aangekeer het.
Die leerders en personeel sal berading ontvang, het Matsemela gesê.
Die LUR sal ook na verwagting vandag die skool besoek.
Maroela Media het Maandag ’n navraag aan die provinsiale polisie gestuur en wag op terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Ja Lesufi, vee eers voor jou eie deur voor jy weer gal braak.
Sekere mense het maar net nie morele waardes nie, of die afwesigheid van gewete
“Hello Africa tell me how you’re doing? ” – sing Doctor Alban.
Skors die skoolhoof!
Dit is skandelik dat sekere mense geen respek vir ander het nie en dink dat geweld en vernietig alles oplos.