Onderwysers eis dat hoof by Centurion-skool waai

Onderwysers en ouers het Vrydag vroegoggend by die skool saamgedrom (Foto: Verskaf)

Ontevrede onderwysers en ouers van Centurion Primary in Gauteng het Vrydag vroegoggend die skool se hekke gesluit weens beweerde ontevredenheid met die skoolhoof – wat vyf maande gelede geskors is – se terugkeer skool toe.

Onderwysers het Vrydag omstreeks 06:00 by die skoolhekke saamgedrom en die ingang na die skool versper. Hulle het later met leerders en hul ouers se aankoms by die skool, die hekke tydelik oopgemaak sodat kinders die terrein kon binnegaan.

Volgens sommige van die onderwysers het hulle die hekke gesluit om te keer dat die skoolhoof die perseel binnegaan.

Polisie was later die oggend op die toneel (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Onderwysers het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê hulle wil nie hê die betrokke skoolhoof moet terugkeer nie omdat sy “rassistiese, onregverdige” gedrag getoon het en onderwysers glo viktimiseer. Hulle sê hulle is heeltemal tevrede met die waarnemende skoolhoof wat tot op hede aan die stuur van sake was.

“Talle onderwysers het al bedank as gevolg van die skoolhoof se gedrag. Van die onderwysers moes ook al sielkundige behandeling ontvang het,” sê een van die onderwysers.

Volgens die onderwysers het hulle al hul griewe oor die skoolhoof aan die departement gerig, maar geen terugvoer ontvang nie.

Die betrokke skoolhoof is sowat vyf maande gelede geskors ná afhandeling van ʼn interne ondersoek na die skool se finansies. Sy is opdrag gegee om by die Tshwane-Suid-distrikskantoor aan te meld. Dit is nie duidelik presies wat die rede vir haar skorsing is nie.

Van die onderwysers vertel hulle is Donderdagmiddag oor die skoolhoof se terugkeer ingelig.

“Ons het bymekaargekom en gebid. Ons het besluit om vanoggend dan die skool se hekke te sluit om ons ontevredenheid oor dié besluit te wys.”

Kinders is deur die loop van die oggend huis toe (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens die onderwysers het die skoolhoof en haar seun by die skool se hek opgedaag. Haar seun het na bewering ʼn vuurwapen uit die motor gehaal. Hy het dit nie op die onderwysers gerig nie, maar hulle glo gedreig.

Hy en die skoolhoof is daarna weg.

Swaar gewapende polisielede het net na 09:00 by die skool aangekom, maar die situasie was kalm.

Talle ouers het deur die loop van die oggend hul kinders gaan haal en die res is saam hul onderwysers terug klas toe.

Maroela Media het die voorsitter van die beheerliggaam op die terrein genader, maar hy wou geen kommentaar lewer nie.

Die departement van onderwys het ook nog nie op navrae gereageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Gaan die skoolhoof se seun wegkom met sy dreigemente of gaan die sapd hom vasvat? Die onderwys departement sukkel al meer as ses maande om nuwe onderwysers se salarisse te aktiveer. Hoe lank gaan dit neem om ‘n klagte op te volg ?

Swerwer ·

Is reg Onderwysers en ouers, wys hierdie mislukte regering /onderwys departement dat jul nie verder
nonsens gaan duld nie en jul kinders se opvoeding en onderig eerste gestel sal word.

piet ·

Is dit nou ‘n manier om ‘n geskil op te los? Gaan betoog by die Onderwys Departement nie by die skool nie. Swak voorbeeld vir die kinders en hulle ontwrig ook die kinders se onderrig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.