Onderwysers in presterende skole selde afwesig

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

Volgens Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is tot soveel as 10% (41 000) van Suid-Afrika se onderwysers elke dag afwesig.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se verslag oor Suid-Afrika se sukkelende onderwysstelsel wat in Maart vanjaar gepubliseer is, skryf die ellendige toestand van onderwys toe aan hoë afwesigheid van onderwysers, min werksure en ʼn gebrek aan genoegsame vakkennis.

Volgens die IMF mis Suid-Afrikaanse onderwysers gemiddeld 11% onderrigtyd weens afwesigheid. Sowat 20% van hierdie onderwysers is op Maandae en Vrydae afwesig en 33% van hulle is oor maandeinde afwesig.

ʼn Opname onder die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se lede, skole wat hoofsaaklik uit goed funksionerende Afrikaanse en parallelmedium skole bestaan, wys egter dat hoogstens 1% tot 3% van hierdie skole se personeel in ʼn maand afwesig is.

Bogenoemde skole behaal feitlik deur die bank jaarliks ʼn 100%‑slaagsyfer tydens die matriekeksamen. Die SOS meen daar is ʼn duidelike verband tussen die gedurige afwesigheid van onderwysers aan ʼn skool en die akademiese prestasie van leerders.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, sê onderwysers in sukkelende skole volg dikwels die voorbeeld van hoofde, wat soms meer afwesig is as hul personeel. “Skoolhoofde lei deur hul voorbeeld. As die kat weg is, is die muis gewoonlik ook weg!”

Buys meen onderwysers wat gedurig afwesig is, besef nie hoeveel leerders soms opgewonde by die skool wag om onderrig te word, net om later die onderwyser se voorbeeld te volg en self weg te bly van die skool nie.

“Hierdie leerders se swak akademiese prestasie dra by tot Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfers, wat armoede vererger en hoop op ’n beter toekoms kelder.”

Buys meen getroue bywoning van personeel kan gekoppel word aan die kultuur van uitnemendheid en harde werk aan Afrikaanse skole. “’n Positiewe skoolkultuur beïnvloed leerders se akademiese prestasie. In skole waar leerders deel word van ’n kultuur wat harde werk en prestasie verwag en ondersteun, werk leerders om in daardie kultuur in te pas – ongeag moeilike omstandighede waaruit sommige leerders kom.”

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Dit gaan nie help om meer geld na onderwys te gooi nie

Die IMF het in sy verslag, wat deur Montfort Mlachila en Tlhalefang Moeletsi saamgestel is, bevind die oorsake van Suid-Afrikaanse onderwysstelsels se swak prestasies is kompleks en veelvlakkig.

Volgens dié verslag het Suid-Afrika eintlik ook twee verskillende onderwysstelsels op primêre en sekondêre vlak. Dit is ook iets wat deur die SOS-opname beklemtoon word.

Die armste 80% van leerders is afhanklik van disfunksionele openbare skoolopleiding. Dit is ook die skole wat die swak uitkomste het terwyl die rykste 20% van leerders by private skole en funksionele openbare skole inskryf en veel beter akademiese uitkomste bereik.

Die IMF het egter bevind dat finansiering nie te blameer is nie en dat Suid-Afrika op ʼn soortgelyke wyse die ekwivalent van meer as 6% van sy BBP aan onderwys bestee. Dit strook met die praktyk in die meeste van die lande wat aan die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) behoort.

In vergelyking hiermee is daar ʼn beduidende aantal Afrika-lande suid van die Sahara wat veel minder per leerder aan onderwys bestee maar veel beter opvoedkundige uitkomste het.

Die IMF het sy kommer in die verslag uitgespreek dat die twee verskillende onderwysstelsels nadelig is vir die plaaslike ekonomie omdat dit ongelykheid voortsit. Dit lei ook daartoe dat leerders se vlak van indiensneming en toekomstige inkomste potensieel negatief beïnvloed word.

Mlachila en Moeletsi het opgemerk dat armoede en werkloosheid steeds volgens vlakke van opvoeding en opleiding, asook ras verdeel word.

Die verslag het ook aangevoer dat Suid-Afrika se swak onderwysprestasies  tot stadige ekonomiese groei op lang termyn bygedra het en dit ook verder kan kniehalter.

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Hoe kan SA se onderwysstelsel verbeter word?

Volgens Mlachila het die regering se instelling van die Caps-kurrikulum gehelp om gehalte van onderwys te verbeter.

“Caps fokus op ʼn aantal kwessies, soos onderwysers se vakkennis, beter onderriggidse en handboeke van ʼn hoër gehalte, wat gehelp het om die vlak van onderwys op te hef.”

Die verslag sê egter Suid-Afrika moet dit oorweeg om ʼn prestasievergoeding vir onderwysers in te stel omdat dit aanspreeklikheid kan verhoog. Goeie onderwysers sal so vir beter uitsette beloon kan word en dit kan ook help om die beste kandidate na die onderwysberoep te lok.

Die outeurs het ook aanbeveel dat doelwitte gestel word vir skoolhoofde van swak presterende skole en hulle vervang moet word wanneer hulle nie hierdie teikens behaal nie.

Terselfdertyd beveel die verslag aan dat Suid-Afrika dit oorweeg om meer intensiewe, deurlopende en plaaslike opleiding vir onderwysers in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

14 Kommentare

Jacques ·

Daar is nie meer n trots in die werksplek nie , ook nie in die onderwysstelsel nie . Hulle is veronderstel om n voorbeeld te stel , ons kan aan die einde van die jaar sien wat is die voorbeeld .

Wie weet ·

Hoekom is die fotos net van wit kinders ek dog dan die skole moet gemix wees Hier kom al weer n rasistiese storie

Johan ·

Daar word genoem dat die Onderwysers min werks-ure het. Dis doodeenvoudig nie waar by ‘n presterende skool nie. Hierdie onnies word absoluut oorlaai en werk gewoonlik tot laatnag by hulle huise.

Ilze Mostert ·

WANT onderwys is n roeping en NIE net n werk nie. Ekself al jare in onderwys.

elize ·

Ons wil nie weet hoeveel van hulle afwesig is nie, ons wil weet wat word daaraan gedoen.

Elna ·

Dis omdat die druk so erg is op die arme onnies. Ek neem hulle geensins kwalik dat hulle so baie afwesig is nie. N onderwysser het n baie groot verantwoordelikheid en hulle ure is baie langer as die gewone werkers en die onverdraagsaamheid van sekerre leerders se dissipline teenoor n onnie met geen samewerking maak dit nog moeiliker. Dan word n onnie nog peaunuts betaal ook. Onnies is net mense soos ek en jy behandel hulle met respek en wees menslik teenoor hulle verlig die drukking op hulle dan sal dit dalk beter gaan met almal. Leer kinders om n onnie met respek te behandel dan sal die resultate ook beter wees.Ek het vreeslik baie respek vir n onderwysser hulle is almal baie spesiale mense met n oorgawe van liefde teenoor hulle medemens se kinders. Kom ons help ons onnies ook om hulle werk en verdrukking beter te maak. Ons land het soveel goeie onnies en ons het hulle almal nodig want dis deur hulle wat ons kinders geleerdheid kry. Dankie aan elke liewe onnie in ons land wat julle vir ons en ons kinders doen.

Dries Moolman ·

Kan ons die statistieke van daardie 41000 ‘n bietjie verder uitpak, asseblief, volgens ras? Sulke ras-analises word tog graag op ander vlakke gedoen wanneer daar gekyk word na wie besit die meeste grond, geld en besighede, ter wille van die ‘ongelykheids-sindroom’? Laat dit dan vir alle onderwerpe geld, dankie.

Khalid ·

ja hulle is gou om RAS as ‘n merker te gebruik wanneer GROND VERDEEL word en BEE toegeken word so ja . gee ons die RASSE van die onnies wat so siek speel asseblief . dit is vir ons ook belangrik omdat dit vir JULLE (government) so belangrik is.

Koos de Meyer. ·

Wat sê mnr. Lesufi nou na die verslag uitgekom het. Seker weer apartheid se skuld.

Net nog 'n Ma ·

My kind was verlede jaar in matriek.
Die skool se matriekuitslae was uiters swak gewees. Daar wasnie een onderskeiding in Wiskunde of Wetenskap gewees nie. Daar is in soveel woorde vir die kinders vertel dat die skool se reputasie daarmee heen is, agv hul swak uitslae.
My kind het baie hard gewerk, en met die uitslae wat sy ontvang het, kan sy nie gaan studeer, en is haar drome daarmee heen.

Die wiskunde sowel as die wetenskap onderwyseresse het albei in 2017 (Julie & Oktober) babas gehad. As ‘n ouer weet ek dat babas siek word, en dat ‘n ma by haar kleinding wil wees.
Ek blammeer die skoolhoof dat hy nie beter beplanning kon gedoen hetnie – hoe kan jy vir onderwysers wat matriekulante het in beheer van die leerlingraad / skoonheids kompetisies / fondsinsamelinge sit, en dan nog boonop het hulle babas.
Hierdie onderwysers was alewig besig met ander goed, en was daar dae gewees wat die kinders nie onderrig ontvang het nie.

Nou is dit die kinders se skuld dat die skool se naam daarmee heen is.
Mnr Skoolhoof (wat glo nou besluit het hy gaan op pensioen) – dit is jou skuld – jy moes van beter geweet het!

BlinkStephaans ·

Daar sal altyd goeie en werkbare oplossings wees… maar om dit inwerking te kry gaan maar knor… want jy sien… dit gaan beteken hulle moet “werk”… en wie is julle nou om so ñ onmenslike ding soos werk voor te stel? Prestasie belonings in die staatsdiens was nog altyd n foefie… daar is n lys… as jy laasjaar gekry het kry jy nie die jaar nie… maar volgende jaar is jou naam weer bo… of jy nou jou gat af gewerk het of op jou gat gesit het.

Belinda Erasmus ·

Dit is n komplekse situasie. Ek sou se mens begin deur te kyk hoeveel onderwysers, veral in die swak presterende skole, is regtig opgeleide onderwysers.

Bokkie ·

Ja dit is in daai puttoitletskole en die skole wat elke tweede dag afgebrand word wat hulle so SKOOLSIEK het . ons weet .. die statistieke word mos nie deesdae meer afgeneem by PRESTERENDE skole nie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.