Onderwysers is steeds positief

sos-onderwysersgemoed-2018-10-17-05

Dr. Danie Brink van die Skoleondersteuningsentrum sê faktore wat onderwysers se gemoedstoestand negatief beïnvloed kan deur beheerliggame en skoolbestuur beheer en hanteer word. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dit gaan grootliks baie goed met die gemoedere van Suid-Afrikaanse onderwysers, veral in die gevalle waar hulle die luuksheid het om in hul moedertaal skool te hou.

Dit was die bevindinge van ʼn navorsingsverslag wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) Woensdag in Centurion oor die plaaslike onderwysers se gemoedstoestand bekendgestel het. Meer as 600 Afrikaanse en Engelse onderwysers landwyd is gevra hoe positief hulle oor hul beroep is en watter faktore hulle negatief beïnvloed.

Luidens die verslag is onderwysers wat ondersteuning van hul departementshoofde ontvang en die geleentheid vir professionele ontwikkeling by private instansie kry, ook meer positief oor hul beroep.

Die navorsing het egter ook gewys dat onnodige administrasie, ʼn groot werklading en swak dissipline in die klaskamer ʼn negatiewe uitwerking op onderwysers se gemoed het.

Meer as 60% van onderwysers ervaar ʼn swaar werklading, wat spanning en probleme in hul huisgesinne veroorsaak.

Veral Afrikaanse onderwysers het aangedui dat hulle meer as vyf uur per week aan administrasie en buitemuurse aktiwiteite afsonderlik spandeer. Amper die helfte (46%) van hierdie onderwysers het aangedui dat hulle eerder hul tyd wil gebruik om deeglik vir die volgende dag se les voor te berei.

“Dit is vir ons verblydend dat die navorsing wys dit gaan verbasend goed met Afrikaanse onderwysers in Afrikaanse skole. Ek dink dit moet beslis gevier word,” het dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS, gesê.

Brink meen die gemoedstoestand van onderwysers maak saak wanneer dit kom by leerders se vooruitgang en welslae.

“ ʼn Mens kan nie geïnspireerde leerders hê as jy nie ʼn geïnspireerde onderwyser in die klaskamer het nie.

“Die goeie nuus is dat die dinge wat onderwysers se gemoedstoestand negatief beïnvloed, wel binne die beheer van die skoolbestuur en beheerliggame is en gehanteer kan word. Die SOS staan gereed om skole hiermee by te staan.”

V.l.n.r. is Elaine Krige, skakelbeampte van die SOS, Johan Koekemoer, navorser van die SOS, Paul Smit, lewensafrigter, en dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS by Woensdag se mediakonferensie oor onderwysers se gemoedstoestand. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Paul Smit, ʼn gekwalifiseerde lewensafrigter, het gesê die bevindinge van dié navorsing is waardevol omdat onderwysers ʼn belangrike rol in die plaaslike samelewing het om te speel.

“Uit die bevindinge is dit duidelik dat onderwysers nuwe maniere moet vind om dissipline in die klaskamer toe te pas.”

Smit het voorgestel dat skolebestuur na Australiese navorsing hieroor moet kyk.

“Die land het bevind nog meer en strenger reëls is nie noodwendig ʼn antwoord om beter dissipline in die klaskamer te verkry nie. Dit is eerder belangrik om ʼn positiewe kultuur te kweek waar leergierigheid en betrokkenheid van leerder bevorder word. Dit is nie die maklikste uitweg nie, maar dit kan gedoen word.”

Die SOS het die volgende aanbevelings gemaak na aanleiding van die bevindinge oor die gemoedstoestand van onderwysers:

  • Die skoolbestuur en beheerliggaam moet onderwysers ondersteun en aanmoedig om professioneel te groei;
  • Skep geleenthede waar onderwysers kort kursusse, seminare en kongresse van hoë gehalte kan bywoon ter wille van hul professionele ontwikkeling;
  • Maak seker dat alle personeel van skole mede-eienaarskap kan neem van en saam kan streef na ʼn hoër gemeenskaplike groter, verhewe doelwit;
  • Skep ruimte vir kollegas om as ʼn span te kan saamwerk en laat hulle gedurig voel dat hulle aan ʼn span behoort wat vorentoe vorder met ʼn gemeenskaplike groter, verhewe doelwit;
  • Maak daadwerklik planne om die dissipline van ons skole op te skerp;
  • Staan aanhoudend krities en ondersoekend teenoor die administratiewe las wat op onderwysers geplaas word.

“Onderwysers is meer as bereid om ekstra moeite te doen en nog meer van hul tyd aan die welstand van hul leerders te bestee. Ouergemeenskappe en skolebestuur moet net genoeg waardering hiervoor toon en onderwysers met niemonetêre belonings beloon,” het Brink bygevoeg.

  • Die volledige verslag is beskikbaar op die SOS se webwerf. Besoek ook die organisasie se Facebook-blad vir ʼn volledige opname van die verslag se bekendstelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Estelle ·

Navorsing is seker maar by een of ander privaat skool gedoen. Buiten dit, jul klou vas aan ñ uitgediende onderwysmodel, maar soos ñ alkholis in ontkenning leef oor sy probleem, so leef die opvoedkundiges met hul mure vol grade in ontkenning oor die onderwys. Finland het betyds wakker geskrik, gaan steek kers op by ñ suksesvolle onderwysmodel wat leerders ñ ewige leergierige gees mee toerus. Ñ massa fabriekswerkers word opgelei in skole vir ñ tydperk in die geskiedenis waar kritiese denke, revolusionêre idees en entrepeneurs nodig is. Jul pluk die lat…

Tammy ·

Dis te betwyfel of hierdie n honderd present eerlike mening is. Dis geen plesier meer om onderwys te gee nie, die massas papierwerk, reels en die nuwe regering se reels is lagwekkend. Moenie eers praat van die massas onopgevoede kinders wat deur vreemdeling of oumas groot gemaak word, en vandag is 80% ouers mos geskei!!!! Hulle vloek op die onderwysers en lag hulle uit, sit en speel met duur selfone wat niemand weet waar dit vandaan kom nie. Jammer , maar daar is seker nog n paar skole met opgevoede kinders, maar dis ver ver in die minderheid, amper soos n droom uit die goeie ou verlede, toe die onderwysdepartment nog bestuur is deur kundiges???????

Roos ·

Ek het minder as 2 jaar oorgehad toe ek afgetree het. Ek kon die daaglikse spanning nie meer uithou nie. 45 kinders in ‘n klas. Hulle kom meestal uit ander Afrika lande en is hoofsaaklik Franssprekend. Ouers bring tolke as hulle moet skool toe kom. Hulle kán hul kinders nie tuis help nie. My moed was totaal gebreek. Het kalmeermiddels begin neem en later ‘n anti-depressant toe ek my eie lewe wou neem. Jy slaap nooit genoeg nie en dit hou nie op nie. Ek waardeer elke dag van my aftrede. Bestee tyd in die tuin en luister na die voëltjies.

Anri van der Westhuizen ·

Puik van die SOS om n plan saam te stel. Maar sal soveel meer waarde he as hulself kan sien ons as opgeleide personeel NIE die tyd het om motiveringspraatjies toe te pas in n 30min periode met 60 leeders voor jou nie!! Maak klasse kleiner, dan kan opvoeding beter, vinniger en regmatig geskied. Die enigste komunikasie wat ek het met meeste leerders, is deur merk van hul boeke. Gepaardgaande met groot klasse is dissipline. Die ontwrigring van 2 leerders kan hul n klas van 50 se onderrig ontneem. Kry n dissiplinere program wat met uitsonderlikes gemoed kom. Mooi praatjies het seker 30jaar terug gewerk, maar verseker nie nou nie. Ek daag jul uit om vir n volle maand fisies te kom sit en deel te wees van n onderwysersspan, NIE om n vraelys te voltooi nie.

Juffrou ·

Kom ons gesels feite:
1. Agv CAPS kurrikulum word leerders in verál die grondslagfase oor-geassesseer. M.a.w. daar is nie tyd dat werk goed vasgelê word nie. Dis n malle gejaag na wind! En kinders kan steeds nie lees en skryf nie.
2. Ouers raak ook moedeloos met die voortdurende assesserings (Intersen-fase). Ouers raak knorrig en haal hul frustrasies uit op eerste onderwyser wat dit net durf waag om Jannie of Sannie iewers n punt te min te gee volgens ouers.
3. Die ekonomiese druk en toenemende langer ure wat ouers moet werk om kop bo water te hou bring spanning in huishoudings – en wééreens moet Juf of Mnr oppas vir ouers se skerp tonge en onrealistiese verwagtinge. Elke mamma of pappa se kraaitjie is mos n papegaaitjie!
4. Top 10 by skole veroorsaak dat kinders soveel druk op hulself plaas (en ma en pa druk net so hard van die huis se kant af.) En as Jannie se punte nie aan hul verwagtinge voldoen nie, moet Juf of Mnr elke punt volledig aan die ouer kan blootlê en regverdig: leespunt, mondeling, dans, drama … “Hoekom het Jannie nét 80%? Nie 90% nie?” Ouers is die kliënte – en kliënte is mos altyd reg! Ouers betaal immers (sommige) onnies se salarisse!
5. Elke ouer wat 12jr lank op skool was is deesdae n ekspert van onderwyssake. Hulle weet alles en onderwysers niks (ag foeitog).
So kan ek aangaan en aangaan … en niks gaan verbeter nie. Inteendeel …

CJ ·

Terwyl daar nou navorsing oor onderwysers gedoen word, doen ook n deeglike studie om te bepaal hoeveel onderwysers die volgende medikadie gebruik:
Anti-depressante, kalmeermiddels, bloeddrukmedikasie ens.
Dit sal dalk meer n ware weergawe van feite gee.

1+1 ·

Ek stem met die bevindinge van SOS saam. Dis net jammer dat hulle nie ook iets oor onderwysopleiding se nie. Opleiding sonder ‘n duidelike filosofie is soos ‘n motor sonder brandstof of soos ‘n skip waarvan die roer buitewerking is.

Cornelia ·

Dalk moet SOS ‘n baie baie wyer gevallestudie doen. Die bevindinge waarmee hulle spog, reflekteer ‘n uiters vae gemene – delers poel. Die opsommimg is uit voeling met die onderwyser se breë las en tragiese sosiale interaksie rakende uiters onaanvaarbare blootstelling aan konflik en intimidasie. Die werklikheid lyk heel anders. Onderwysers is moeg vir manupilasiedruk. Dat die Onderwys in ‘n reddingsbootjie roei is nader aan die werklikheid. Vir die meeste is dit ongelukkig te laat om ander opsies te oorweeg om brood en botter op die tafel te sit. Die praktyk en die ideaal is besig om by mekaar verby te vaar. Maar ons sal die wedloop enduit aandurf ten spyte van…nie waar nie. Moenie blind kyk omdat dit gerieflik is nie. Doen behoorlike navorsing asb.

Onnie ·

Ag, kan ons asseblief die name van die skole wat deelgeneem aan die klug van navorsing. Die realiteit is vêr van die waarheid af.

Onnie ·

Ag, kan ons asseblief die name van die skole wat deelgeneem het aan die klug van navorsing. Die realiteit is dat die deursnee skool vêr van dié in die verslag is.

Onnie ·

Die navorsing is seker onder die top skole gedoen. Die deursnee skool is deesdae ‘n plek van hel. Arrogante kinders, jong onderwysers wat alwetend is, onbetrokke beheerliggaam en ‘n onbevoegde hoof wat sy/ haar pos gekoop het. Indien jy ‘n jong opvoeder (‘n opvoeder – want hulle is nie die hond se stert werd nie) aanspreek word jy verkla by die unie. Die jong opvoeders kan die disipline handhaaf nie en leerders maak wat hulle wil. Dis die situasie by vorige Model C skole wat oopgestel en oorgeneem is deur leerders van ‘n ander kultuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.