Onderwysers langs pad dood

Rieka Jacobs en Monichia Hendricks-Ess (Foto: Verskaf)

Swartberg Primêr in Caledon in die Wes-Kaap is in rou gedompel nadat twee van hul onderwyseresse Maandag langs die pad doodgery is.

Rieka Jacobs (30) en Monichia Hendricks-Ess (29) het laatmiddag langs die R316 tussen Bredasdorp en Caledon gaan draf toe ’n Mercedes-Benz hulle getref het. Dié twee het gereeld smiddae saam gestap of gedraf.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, sê voorlopige verslae dui daarop dat die Mercedes in die Caledon-rigting op pad was toe ’n band vermoedelik gebars het. Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor en Jacobs en Hendricks-Ess in die proses getref.

“Die bestuurder van die voertuig sowel as die passasier is na die hospitaal geneem, waar die bestuurder ook gesterf het,” sê Bakker.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek.

Rieka Jacobs en haar gesin (Foto: Verskaf)

Jacobs en Hendricks-Ess het in 2014 hul loopbane as onderwyseresse by Swartberg Primêr afgeskop. Jacobs was ’n gr. 3-klasonderwyseres en Hendricks-Ess het vir die gr. 4’s klas gegee. Jacobs is pas as departementshoof in die grondslagfase aangestel.

Hendricks-Ess het in 2018 met haar man, Fagan Ess, getrou. Jacobs het in 2014 met haar man, Jurgens Jacobs, getrou en hulle het twee dogtertjies van onderskeidelik vier en vyf jaar oud.

Monichia Hendricks-Ess op haar troudag (Foto: Monichia Hendricks-Ess , Facebook)

Malinda Booysen, adjunkhoof van Swartberg Primêr, sê die skool het nog baie seer na die verlies van dié twee jong, toegewyde onderwyseresse.

“Hulle was baie geliefd onder die personeel. Hul vriendelikheid en spontaniteit het altyd uitgestaan,” vertel Booysen.

Booysen sê Jacobs het altyd ’n helpende hand probeer verleen en het baie omgegee vir haar leerders en ouers. “Sy was ook nie bang om haar opinie te lug nie. Sy het goeie leierseienskappe getoon.”

Booysen sal Hendricks-Ess onthou as ’n streng onderwyseres wat ook baie lief was vir haar leerders. “Sy het ook nie geskroom om leiding te neem nie en het dinge op haar eie unieke manier gedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Die is hartseer. Vir almal, maar meer vir die jong kinders. Jinne ek huil binne.

boetieboude ·

Dis verskriklik hartseer. My hart gaan uit na julle almal.

Marlene ·

So hartseer, gee daai drukkie, maak tyd vir mekaar, die lewe maak soms onverwagse draaie & in oogwenk is als oor.

Katjie ·

Sterkte vir die gesin (Mans, Pappa en kinders), die familie en skool. Ek bid en dink aan julle.

Inkpot ·

Dit is hartseer.
So jammer vir die jong kinders en al die geliefdes wat agterbly.

Racheltjie Debeer ·

Innige, innige meegvoel. Dit is so verskriklik hartseer. Mag Jesus julle almal vertroos.

Maggies ·

Dit is so verskriklik hartseer. Sterkte aan die naasbestaandes.
Ek kan net nie verstaan “dat die polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek” nie. Die bestuurder is mos ook dood en ek verstaan die band het gebars… so wie word dan aangekla?
Kan iemand wat kennis dra asseblief verduidelik?

Ansie ·

Bitter tragies. Innige simpatie met hierdie twee jong vroue en die bestuurder van die motor se geliefdes. Baie sterkte vir julle. Beste wense vir ‘n spoedige herstel van die passasier.

daniel ·

Ek dink net die ANC se amptenary kan die nuwe minimum loon regtig bekostig.

Ronel ·

Dit is bitter hartseer. Baie sterkte aan die twee onderwyseresse se families en naasbestaandes. Sterkte ook aan die bestuurder van die voertuig se familie.

LANA is ELANè ·

Baie, baie aaklig, hoe jammer voel ek nie vir hul eggenote, kindertjies en die troeteldiere wat agterbly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.