Onderwysers moet ‘uit protes’ tuisbly – vakbond

Die onderwysdepartement se aankondiging dat skole te midde van ’n derde Covid-19-vlaag sal oopbly, het verskillende reaksies ontlok. (Argieffoto: ANA)

Die onderwysunie Educators Union of South Africa (EUSA) het ’n beroep op onderwysers gedoen om Maandag en Dinsdag “siekverlof” te neem in protes teen die aankondiging dat skole ongeag ’n derde Covid-19-vlaag sal oopbly.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Saterdag aangekondig dat skole oopbly ondanks oproepe dat die skoolvakansie, wat op 9 Julie begin, vervroeg word.

Volgens Motshekga is dié besluit op advies van openbare gesondheidskundiges geneem en is statistieke wat weekliks van skole ontvang word ook gebruik om ’n ingeligte besluit te neem.

EUSA is egter van mening dat Motshekga nie onderwysers se lewens ernstig opneem nie.

Die unie sê voorts onderwysers is geregtig op siekverlof weens die frustrasies en siektetoestande waaraan hulle blootgestel word, terwyl die onderwysdepartement aanlyn vergaderings hou.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), sê egter indien die skoolvakansie nou vervroeg word, die volgende kwartaal baie lank sal wees.

Die SAOU ondersteun ook nie ’n volledige sluiting van alle skole nie aangesien alle skole nie op dieselfde wyse deur die koronavirus geraak word nie.

“Indien ’n bepaalde skool ’n krisis ondervind, moet die skool by die betrokke provinsiale onderwysdepartement aansoek doen vir sluiting.”

Oor die departement se onlangse aankondiging dat alle laerskole weer op 26 Julie vir die derde kwartaal sal open, sê Klopper dat laerskoolleerders nie werklik draers van die virus is nie en ook minder vatbaar is.

“Dit is ook ’n gegewe dat die kurrikulumdekking onvoldoende is wanneer skole vir lang tye gesluit bly. Ons navorsing het bewys dat feitlik alle grade agterstande toon ten opsigte van lees‑ en skryfvaardighede en wiskundige begrippe.”

Die onderwysdepartement het ook onlangs aangekondig dat 500 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof vir Suid-Afrikaanse onderwysers en onderwyspersoneel opsy gesit is. Dié entstofprogram sal na verwagting Woensdag afskop.

Kommer heers egter oor of dié inentings voldoende beskerming aan diegene wat die entstof ontvang, sal bied.

EUSA sê hulle verwerp die inentingsprogram en dring daarop aan dat die departement entstowwe beskikbaar stel waarvan die doeltreffendheid reeds bewys is.

“Ons verwerp enige entstof wat nog in die proeffase is. Onderwysers is nie proefkonyne nie.”

Die Vryheidsfront Plus het egter gesê die party verwelkom die geleentheid wat geskep word om alle personeel wat dit verlang, te laat inent.

“’n Aspek wat wel kommer wek, is dat onderwysers met onderliggende siektetoestande ook ná die inentingsprogram na skole sal moet terugkeer.

“Die minister het tereg daarop gewys dat die entstof nie honderd persent beskerming bied nie. Dit beteken dat sommige onderwysers sal moet kies of hulle die risiko wil loop, of vervroegde pensioen wil neem,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en woordvoerder.

Die SAOU is ook ten gunste van die inentingsveldtog en sê dat 87% van hulle lede die veldtog ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Misky ·

Wat verstaan hierdie vakbonde nie???? As jy nie jou sin kry nie, protes en staak!!! Gee nie ‘n duit vir die beroep en onderwys om nie

Sobymykoolkop ·

Die regering moet ” uit protes” hulle salarisse ook ophou betaal.

Elize ·

Ons kinders het begin eksamen skryf!! kan iemand hulle breinselle gebruik??

Racheltjie Debeer ·

Klaarblyklik is ons kinders se opvoeding en toekoms nie naastenby belangrik genoeg vir die vervlakste vakbond nie! Onderwysers is ook nie die enigste werkende mense in die land nie. Wat maak hulle so spesiaal? Wat van al die kassiere in die winkel sentrums? Verpleegpersoneel en ander nooddiens personeel? Moet hulle ook nou staak omdat hul lewens bedreig word?

Kaytee ·

Ai, wat maak onderwysers so spesiaal??? Is dit dan net hulle wat tydens die hele sirkus werk? Net in die land word jy aangemoedig om te staak as dinge nie na jou sin verloop nie.

Wonder ·

Mense se lewens word mee gespeel met skole wat oop bly ons skole is vrot van Covid

SwartBees ·

Ons s’n ook. Ons het al twee kollegas verloor agv die kind wat die virus saam bring huis toe.

Stofdonkie ·

Ek is nogal ten gunste van die idee om onderwysers vir proefkonyne te gebruik. Hulle werk min genoeg dat die regering maar die entstof op hulle kan toets. Hulle het ‘n hele vakansie om weer gesond te word sou die entstof hulle siek maak.

Swanies ·

Stofdonkie, jy het geen idee waarvan jy praat nie. Dis jammer dat jou beperkte kennis oor onderwysers jou so oningelig laat. Daar is toegewyde, hardwerkende onderwysers – wat selfs behoeftige kinders uit hul eie sakke voed en help. Dieselfde onderwysers wat alles in hul vermoe doen om tot laat in die aande op WhatsApp en ander platforms les te gee en kinders by te staan. Die sogenaamde vakansie waarna jy verwys, word gebruik vir beplanning, vergaderings, werkswinkels en klasse regkry vir die volgende kwartaal. Dis ook hartseer dat jy nie verstaan dat hierdie proefkonyne self ook gesinne het nie. Nee wat. ‘n Donkie bly ‘n donkie.

Maggies ·

Stofdonkie dit is uiters ongepas. Gaan staan jy dan sommer voor in die ry om proefkonyn te wees.

Tom ·

Daar is ‘n tyd in ‘n mens se lewe wat jy liewer nie moet sê wat jy dink nie.
Stofdonkie, my vrou en my dogter is beide onderwysers….ek sal jou met graagte nooi dan kom sit jy aand na aand en naweek na naweek om lesse uit te werk, beplanning te doen en punte in te lees….dis mos min werk aldus jou.
Ek wonder of jy ‘n benul het van die ure wat hulle werk….ry 6:00 soggens en is byna nooit voor 17:30 of 18:00 weer tuis nie (Vir ingeval jy nie die tyd verstaan nie…dit is half 6 tot 6 uur saans)
Jou mond is groot, glo my jy sal nie ‘n week hou in ‘n onderwys pos nie, en die vakansies wat jy so rondgooi word gebruik om addisionele klasse vir kinders wat sukkel te gee asook aanlyn seminare en werkswinkels by te woon.

Maak seker van jou feite voordat jy jou mond uitspoel oor die onderwysers en hulle beroep.

Corrie ·

So…. Omdat die vakbond leiers stupid is, wil hulle nou hé ons kinders moet ook stupid wees.?

Chantel ·

So buiten die feit dat hordes verpleegdienswerkers ook ingespuit is met die “proeffase” verhewe hy die onderwysers bo hulle. REGTIG. Dit bly steeds elke persoon se eie keuse of hy/sy dit wil vat of nie
2de Plek, kinders is volgens my baie veiliger as op straat, want bring my ‘n kind wat by die huis gaan sit as hy dan nie hoef skool te gaan nie. Gaan enige logika dalk een of ander tyd intree.. Vra maar net

Wonder ·

Kinders bly nie by die protokol van vivid by skole nie, wanneer ek my kinders gaan haal by skole suen ek how kinders koeldranke deel aan mekaar hang ens…

Theo ·

Daar word met kinders se lewens gespeel.Dit is hoekom my kleinkind vav vandag af by die huis bly.Sy kan haar skoolwerk by die huis doen want die skool is op die e stelsel en hier is iemand wat haar daar mee kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.