Onderwysers, polisielede ook vir vroeë entstof oorweeg

(Foto: Unsplash)

Onderwysers en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens word saam met mediese personeel oorweeg as die eerste ontvangers van ʼn entstof teen die koronavirus.

Dan sal mense bo 60 jaar en diegene met onderliggende siektes volg, het die ANC-leier, pres. Cyril Ramaphosa, Vrydagaand tydens die regerende party se jaarlikse 8 Januarie-verjaardagboodskap gesê.

Hy het beklemtoon dat die toespraak ʼn verklaring deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en nie ʼn persoonlike toespraak is nie. Hy het dus gepraat as ANC-leier en nie as president van die land nie.

Volgens hom maak die ANC vordering daarmee om Suid-Afrika te herbou, en moet die regerende party sterk standpunt inneem teen korrupsie en wanbestuur.

Die ANC het vanjaar vier hoofdoelwitte, naamlik om te help dat die koronavirus oorkom word, die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, die daarstel van ʼn beter ANC, en die skep van ʼn beter Afrika en ʼn beter wêreld.

Ramaphosa het gesê die koronavirus het die ongelykhede in Suid-Afrika skerp uitgewys, en dat die situasie baie erger sou gewees het as die staat nie ingegryp het nie. Volgens hom is daar bykomende belangrike kwessies om te takel soos geslagsgeweld en afhanklikheid van alkohol en dwelms.

Ramaphosa het daarop gewys dat dit later vanjaar tyd is vir die munisipale verkiesings en dat die ANC die meeste stadsrade beheer, maar dat die meeste stadsrade terselfdertyd groot uitdagings ondervind.

Die ANC-leier meen dis noodsaaklik vir die ANC om standpunt in te neem teen korrupsie, wanbestuur en baantjies vir boeties sodat ʼn plan vir herstel en heropbou daargestel kan word.

Wat die koronavirus betref, het hy aangekondig dat massa-inspuitings op pad is en hom uitgespreek teen wolhaarstories en samesweringsteorieë betreffend entstowwe.

Oor die ekonomie het Ramaphosa die belang van transformasie uitgelig, veral wat werkskepping betref, asook die verbetering van die lot van swart mense, vroue en die jeug.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

ʼn Ekonomiese herstelplan met die klem op onder meer die energiesektor, water en sanitasie, vervoer en landbou is op hande.

Groter klem gaan op elektrisiteitsvoorsiening geplaas word, waaronder dat mense hul eie elektrisiteit kan opwek.

Ramaphosa meen daar is algemene konsensus oor die rigting waarin die land ekonomies en bestuursgewys moet beweeg, en dat die distriksmodel ʼn groot bydrae hiertoe kan lewer.

Hy het beklemtoon dat die staatsfinansies so bestuur moet word dat die land nie sy finansiële soewereiniteit opoffer nie.

Volgens Ramaphosa het die toevoegings tot welsynstoelaes arm mense baie gehelp, maar die land kan dit nie bekostig om dit vol te hou nie, dus moet dit nou tot ʼn einde kom.

Hy meen egter daar kan nou in alle erns begin word met gesprekke oor die wenslikheid van ʼn basiese inkomstetoelaag.

ʼn Vaardigheidsrewolusie in die onderwys is vir hom ʼn prioriteit.

Ramaphosa het uitgevaar teen misdaad, veral geslagsgeweld. Hy het uitgewys in watter mate die huidige alkoholverbod die verband tussen alkohol, geweld en oorvol hospitale bevestig het.

Die ANC-leier het gesê die bevindings van die Zondo-kommissie moet toegepas word om te keer dat staatskaping ooit weer gebeur.

Hy het die belang van grondhervorming uitgelig en gesê vanjaar is die jaar dat artikel 25 van die Grondwet gewysig gaan word sodat daar duidelikheid is oor wanneer grond sonder vergoeding onteien kan word.

Die ANC bly volgens hom verbind tot ʼn grondhervormingsplan wat voedselsekerheid sal verseker en die ekonomie sal laat groei.

Hy het gesê korrupsie binne die ANC moet hokgeslaan word en die rol van die party se integriteitskommissie is sentraal hierin.

Laastens het hy ʼn beroep op alle ANC-ondersteuners gedoen om hard te werk sodat die ANC goed kan vaar in die munisipale verkiesing later vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.