Onderwysers verdeeld oor verpligte inentings

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ʼn opname onder sy lede gedoen om vas te stel hoe hulle oor die voorstel van verpligte inentings in die werksplek voel.

Bykans 38 000 van sy lede is geraadpleeg en daar is bevind dat altesaam 51,8% (19 684) van die lede meen inentings moet wel as vereiste in werksplekke ingestel word. Altesaam 48,2% (18 316) van die lede meen egter inenting moet op ʼn vrywillige grondslag geskied.

Onder diegene wat ten gunste is van die verpligte inentings, meen 36,2% dit is elkeen se plig teenoor die samelewing om ingeënt te word. Dít terwyl 69,7% van diegene wat teen verpligte inenting is, sterk daaroor voel dat elkeen die reg het om self te besluit in die lig van die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, is dit baie duidelik dat onderwyspersoneel net so verdeeld is oor hierdie sensitiewe en verwikkelde aangeleentheid as ander groepe in Suid-Afrika. Hy sê dit is baie moeilik om ʼn klinkklare antwoord te bekom.

“Dit is egter duidelik dat hierdie aangeleentheid afstuur op ʼn uitspraak van die Konstitusionele Hof wat sal moet beslis of die individu se regte swaarder weeg as die gemeenskapsbelang,” sê Klopper.

‘Verpligte inentings skep veilige omgewings’

Uit die 19 684 onderwysers wat ten gunste van verpligte inentings is, voel altesaam 3 405 (17,3%) dat dit ʼn veiliger werksomgewing sal skep. Altesaam 3 228 (16,4%) sê verpligte inentings sal bydra tot die bekamping van die verspreiding van die virus.

Altesaam 16,1% (3 169) van hierdie onderwysers voel ook verpligte inentings is belangrik om die ekonomie oop te hou en die verdere verlies aan werksgeleenthede te voorkom. Altesaam 12,9% (2 539) van die onderwysers sê verpligte inentings sal ook daartoe bydra om onnodige ontwrigting van die skool se program te verhoed.

ʼn Fraksie van die onderwysers (1,2%) meen verpligte inentings is nodig om die oorlading van hospitale te voorkom.

‘Dis my liggaam’

Onder die 18 316 onderwysers wat teen verpligte inentings is, voer 14,9% (2 729) aan dat dit ʼn persoon se persoonlike keuse is om ingeënt te word, al dan nie. Altesaam 7,2% (1 319) sê inentings het geen invloed op die verdere verspreiding van die virus nie en 4,2% (769) sê ingevolge hul geloofsoortuigings word inentings nie toegelaat nie.

Altesaam 4% (733) van die onderwysers sê hul dokter het hulle ontmoedig om die inenting te kry, weens ʼn onderliggende mediese toestand.

Klopper sê in die lig van dié data sal die SAOU geen ander keuse hê as om steeds sy oorspronklike mandaat te handhaaf nie, naamlik dat alles moontlik gedoen sal word om lede te oortuig om hulself te laat inent, maar dat inenting steeds op ʼn vrywillige grondslag moet plaasvind.

“Wat egter toenemend duidelik uit debatte blyk, is dat die eensydige optrede van werkgewers, insluitend die staat, in die afwesigheid van algemeen geldende wetgewing nie maklik aanvaar sal word nie.

“Dit is egter belangrik dat die staat mense moet inlig oor die voordele van inenting en dat die regering hierdie aangeleentheid eerder so gou moontlik na die Konstitusionele Hof vir uitklaring moet verwys. Die huidige klimaat van onsekerheid en dreigende litigasie veroorsaak onnodige verdere konflik en polarisasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wikkie

Die feit bly staan, hierdie entstof vehoed nie dat mens met COVID aansteek nie. Dit verhoed selfs nie eers die simptome daarvan nie. Al wat dit bied, is minder drastiese simptome, niks meer nie.

As die entstof sou verhoed dat mens enigsins COVID opdoen, soos wat die polio entstof verhoed dat mens polio opdoen, dan sou dit die moeite werd wees om oor verpligte inentings te gesels.

Tot dan, moet dit liefs nie afgedwing word nie. Veral nie terwyl dit nog so jonk is nie.

Marius

Die inenting het geen voordele nie want jy kan nog steeds siek word of selfs doodgaan. Hoekom moet inentings dan verpligtend wees? Laat die wat wil die inentings vrywillig vat.

Andrew

As mense weier om die ander kant te probeer verstaan dan eindig dit gewoonlik tragies. Dit is asof the een kant net nie kan aanvaar dat die enting geensins jou keer om aan te steek of dat jy ander kan aansteek, of self die draer van n mutasie kan word.

Pieter

Duidelik het die deel wat vir verpligte inentings is, nie hul huiswerk oor die entstof gedoen nie. Suid Afrikaanse media is baie eensydig, maar in Europa en die VSA is daar bronne wat die ander kant illustreer, wat dikwels met tyd reg bewys word. Doen jou huiswerk!!!

Elize

Niemand gaan veilig wees as ALMAL nie ingeent is nie.