Onderwysers vol moed vir nuwe skooljaar

Skoolbanke gemerk sodat sosiale afstand gehandhaaf word (Foto: Jessica van den Berg)

Covid-19 het skole se planne verlede jaar heeltemal omvergegooi en dit was met ʼn gevoel van opwinding wat leerders Maandag amptelik vir hul eerste skooldag aangemeld het.

Maroela Media het met ’n paar onderwysers gesels wat erken het dat hulle, ondanks die Covid-19-pandemie, hierdie jaar gereed is om die nuwe skooljaar aan te pak. Daar is egter steeds ’n tikkie vrees onder onderwysers oor wat die jaar vir hulle inhou.

Minder onsekerheid

Die meeste van die onderwysers het aan Maroela Media gesê dat hulle hierdie jaar minder onseker voel as verlede jaar.

“Dit voel anders om terug te wees by die skool. Covid-19 is nou ons realiteit en ons as skool het geleer om goed daarby aan te pas. Dit is nie meer so ʼn groot skok vir ons soos verlede jaar nie. Die leerders is ook nie meer so onseker nie,” vertel Elzmari Viljoen, ’n onderwyseres aan Kgotsofalo Intermediate Farm School digby Tierpoot in die Vrystaat.

Elré Odendaal, ’n onderwyseres aan Odensia Primêre Skool in Odendaalsrus in die Vrystaat, sê om die Covid-19-regulasies na te kom, is al ’n tweede natuur vir die onderwysers en leerders. Sy sê die leerders voel ook meer gerus en minder angstig as verlede jaar.

’n Hoërskoolonderwyser van Potgietersrus in Limpopo, wat graag anoniem wil bly, vertel dit was vir haar ook makliker om terug te keer omdat sy nou al weet wat om te verwag.

Graad 1’s verwelkom by Odensia Primere Skool.in Odendaalsrus (Foto: Verskaf)

“Verlede jaar was ons onseker oor hoe aansteeklik hierdie virus is en hoe ons as onderwysers en skole moet optree om die verspreiding daarvan te beveg,” vertel die onderwyser.

Sy vertel die skool se atmosfeer is ook “ligter”.

“Daar het verlede jaar so ʼn stilte oor die skool gehang. Die leerders was stiller en skrikkerig omdat hulle nie geweet het hoe om hierdie ‘nuwe normaal’ te hanteer nie.”

Hoewel sommige onderwysers nog skrikkerig is om Covid-19 op te doen, het die meeste van die onderwysers aan Maroela Media gesê dat hulle nie meer dieselfde vrees vir die virus het as wat hulle aan die begin van die pandemie gehad het nie.

Hierdie onderwysers meen hul skole se bestuurspanne het die pandemie goed hanteer en al die nodige regulasies geïmplementeer om onderwysers en leerders se veiligheid te verseker.

“Ek dink wel daar is steeds ietwat van ʼn onderliggende vrees onder onderwysers om die virus op te doen, maar ons probeer ons beste om onsself en die leerders te beveilig. Ons het alle maatreëls getref om seker te maak dat almal veilig is,” vertel Jessica van den Berg, ’n onderwyseres aan Pinedene School in Vanderbijlpark.

Veiligheidsmaatreëls by skole

By die meeste skole word leerders se hande gesaniteer en hul temperature gemeet wanneer hulle by die skool aankom. Ná elke periode word die tafels ontsmet. Daar is ook sanitasiestasies by elke klaskamer en by die badkamers. Onderwysers en leerders dra heeltyd ’n gesigmasker en ’n veilige sosiale afstand word ten alle tye gehandhaaf. Klaskamers is so ingerig dat leerders ’n veilige afstand van mekaar af sit.

“Ons is van liters en liters saniteermiddels voorsien. Ons het oorgenoeg seep vir die badkamers,” vertel Andrea Fourie, ’n onderwyseres aan Weskus Spesiale Skool in Saldanhabaai.

Sommige onderwysers het wel aan Maroela Media gesê dat hul skole nie oor genoeg beskermingstoerusting beskik om te verseker dat die virus nie by die skool oorgedra word nie.

Van den Berg het onder meer gesê van die skool se kant af is al die nodige maatreëls getref, maar die departement het hulle nie van genoeg beskermingstoerusting voorsien om hulle deur die kwartaal te sien nie. Sy sê hulle koop maar self saniteermiddels aan en maak staat op donasies.

“Ons doen wat ons moet om onsself te beskerm,” vertel sy.

Ten spyte van al die uitdagings, fokus onderwysers daarop om verlore akademiese tyd in te haal.

“Ons is skrikkerig, maar ons wil werk en ons het hoop vir die jaar. Akademies gewys gaan ons nou dinge op ʼn meer hands-on, produktiewe manier moet aanpak. Ons gaan nou meer as ooit met die ouers moet hande vat en saamwerk. Ons moet die leisels optel en aangaan waar ons verlede jaar gestop het,” vertel Joekie Ahlers van Laerskool Tygerpoort in Pretoria.

“Ons het verlede jaar baie geleer – soos om aanlyn klasse aan te bied en aan te pas by jou situasie. Ons skool het as ʼn familie hande gevat en gesê dat ons hierdie ding gaan maak werk. Nou is ons gereed vir as ʼn moontlike derde golf ons kan tref.”

Ahlers, Odendaal en Fourie sê hulle as onderwysers het geleer om dinge dag vir dag te vat omdat alles binne ’n oogwink kan verander.

“Dinge verander heeltyd en jy moet gedurig aanpas. Jy kan van niks seker wees nie. Ons moet leer om gemaklik te raak in hierdie ongemaklike tyd. Ons moet ten spyte van die moeiliker omstandighede inisiatief neem om ons werk voluit te doen en ’n sukses te behaal,” sê Fourie.

Die onderwysers hoop ook vir die leerders se onthalwe dat hulle weer eersdaags aan sport sal kan deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janman ·

Ouers en onderwysers kan van een ding seker wees: Dept Onderwys gaan hierdie jaar net so “fumble” soos laas jaar. Die feit dat kinders al klaar 3 weke agter is wys dit.

Menan ·

Sterkte aan almal betrokke. Dit gaan ‘n taai jaar wees, maar met die hulp van Bo, sal julle wen!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.