Onderwysliggaam hoop nuwe LUR sal nie politieke agenda dryf

lesufi-deur-ana-2019-03-11

Panyaza Lesufi, die voormalige Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het gesê hy verwelkom Panyaza Lesufi, voormalige LUR vir onderwys in Gauteng, se skuif na dié provinsie se departement vir finansies.

Dit volg nadat David Makhura, die premier van Gauteng, Woensdagoggend vroeg die nuwe lede van die provinsie se uitvoerende raad bekendgemaak het.

Lesufi sal nou die LUR vir finansies en e-regering wees terwyl Nomantu Nkomo-Ralehoko voortaan die leisels as LUR vir onderwys in die nuwe Gautengse wetgewer oorneem.

Melanie Buys, die SOS se hoof van ontwikkeling, het die hoop uitgespreek dat die nuwe LUR vir onderwys die politieke aard van haar pos sal erken, en onderwyskenners sal toelaat om hul werk na die beste van hul vermoë te doen.

Die SOS meen dat Lesufi se politiek gedrewe agenda en inmenging die onderwys, en veral moedertaalonderrig, groot skade berokken het.

Nkomo-Ralehoko is tans die adjunksekretaris van die ANC in Gauteng en het ʼn nagraadse kwalifikasie in openbare beleid en ontwikkeling. Sy het in 2009 vir minder as ʼn maand as LUR vir landbou, bewaring en omgewing gedien.

Sy het egter bedank nadat ʼn peperduur Mercedes-Benz vir persoonlike gebruik met staatsgeld aangekoop en binne enkele dae gesteel is. Sedert 2012 is sy voorsitter van komitees in die Gautengse wetgewer en het in die verlede verskeie posisies binne die ANC Vroueliga beklee.

Die SOS het die hoop uitgespreek dat Nkomo-Ralehoko se politieke bande nie die hoofrede vir haar aanstelling was nie.

“Nkomo-Ralehoko is nie ’n opvoedkundige nie. Weens die enorme uitdagings vir onderwys in die provinsie is ’n kenner van opvoedkunde nodig om hierdie portefeulje te bestuur. Daarom hoop die SOS dat Lesufi se politieke agenda nie bloot deur Nkomo-Ralehoko voortgesit sal word nie,” sê dr. Danie Brink, besturende direkteur van die SOS.

Buys meen op haar beurt dat onderwys in Gauteng ’n sterk opvoedkundige met strategiese insig nodig het om probleme op te los. “Ons hoop nie dat Nkomo-Ralehoko se aanstelling bloot ’n poging deur premier Makura is om die ANC Vroueliga se kritiek oor te veel mans in die ANC-top-strukture stil te maak nie.”

Buys sê kader-ontplooiing sonder kundigheid het die land nog net skade berokken. “Onderwys in Suid-Afrika, en in die besonder Gauteng, het kundige, strategiese leierskap nodig.”

Maroela Media het vroeër berig dat nie die DA of die VF Plus was juis beïndruk met die premier se nuwe raadslede nie.

Die VF Plus het Lesufi se verwydering uit die onderwysportefeulje as die enigste ligpunt in die aanstellings verwelkom terwyl die DA Lesufi as ʼn “feitemasseerder” beskryf het en sy kennis van finansies bevraagteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Andreas ·

Laat ons maar hoop en duime hou dat haar lus om so politiekgedryf soos Lesufi te wees, is minder as wat haar lus vir daardie peperduur Merc vir persoonlike gebruik wat sy met staatsgeld aangekoop het.

Saint ·

Verlede jaar se LUS vir onderwys is nie meer nie. Rede vir jubeling ? ?

VF+ se kommentaar in laaste paragraaf is in die kol.

Tina ·

Slim ministers. Vandag minister van grondsake dan more weer minister van gesondheid. Soveel kennis van verskeie sake maar nog steeds boer ons agter uit.

PJC ·

ń Mens sal maar moet wag en kyk. Met hierdie spul weet jy nooit wat wag nie.

moedertaalonderrig ·

As belastingbetaler en inwoner van SA is dit my reg om Moedertaalonderrig te eis.

Gert van Wierdapark ·

Gauteng se finansies gaan nie weet wat hom getref het met die nuwe mini-ster daar nie! Gelukkig skitter sy sterretjie NIE meer helder in die onderwys arena nie – hiep hiep hoera, Suid-Afrika!!!

Presies ·

Ja, en iemand sal my teenstaan nie. Ons moet onsself regeer want hierdie kaders kan nie eers hulle karre regeer nie, wat staan dit nog van ons kinders.

Boerin ·

Ons moet net bid en bid ! Ons struggle is real ! Mense sit in hoe poste, onbevoegd en hatig…dryf hulle agendas elke dag !
Ons kyk magteloos toe !

Johann cb ·

Daar sal altyd politieke agendas in die samelewing wees!

Marius ·

Dis werklik baie goeie nuus.
Uiteindelik is die groot rassis verwyder.
Daar is hoop!!!

Die Rekenmeester ·

Ek hoop al die syfertjies in die nuwe portefeulje verwar en ontbloot hierdie onkundige, verwaande skepsel geweldig.

Regs! ·

Melanie Buys is nie baie slim as sy dink die nuwe LUR sal nie ‘n politieke agenda hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.