Onderwysminister ook gevra om in te gryp by Lesufi-debakel

Panyaza Lesufi. (Foto: Verskaf)

Solidariteit het Woensdag die Gautengse premier, David Makhura, en minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, versoek om ’n ondersoek na Panyaza Lesufi se beweerde uitlatings rakende tenders “vir sy mense” van stapel te stuur.

Solidariteit versoek in ’n brief dat die Gautengse LUR vir onderwys geskors word hangende die ondersoek en afgedank word, sou hy ná afloop van die ondersoek skuldig bevind word aan tenderkorrupsie.

’n Storm het die afgelope naweek om Lesufi se kop losgebars nadat die Sondagkoerant City Press ’n opname bekom het waarin Lesufi onder meer sê dat dit sy verantwoordelikheid as LUR is om te verseker dat tenders “sy mense” tevrede stel.

Die LUR het intussen heftig ontken dat hy ’n “geheime vergadering” belê het om departementele tenders te bespreek.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wys egter nou in die brief aan die premier en minister daarop dat die LUR, ondanks sy ontkenning dat dit ’n geheime vergadering was, nié ontken dat hy die uitlatings gemaak het nie.

Maroela Media het vroeër berig Lesufi voer aan dat daar aan die opname wat versprei word, gepeuter is en dat dit ernstig gemanipuleer is.

“Indien hierdie uitlatings losstaande onder die loep geneem word, toon dit nie net ’n growwe miskenning van ons Grondwet nie, maar ook van die eed wat afgelê is om dit te handhaaf,” sê Hermann in sy brief aan Makhura en Motshekga.

“Indien dit gelees word in die konteks van die skole se ontsmettingsdebakel waarin Lesufi en sy departement gewikkel is, toon dit dat hy ʼn departementshoof is wat nie geskik is om die burgers van Suid-Afrika te dien nie.”

Maroela Media het in Januarie berig dat die departement in net drie maande sowat R431 miljoen bestee het om skole in dié provinsie te ontsmet. Sommige van die diensverskaffers wat aangestel is om die werk te doen, werk glo nie eens in die skoonmaakbedryf nie.

Solidariteit voer aan dat Lesufi se beweerde uitlatings en die planne en strategieë wat daaruit spruit, nié strook met die Grondwet nie en daarop dui dat sommige groepe van die samelewing waardiger is as ander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Die ANC se “Golden Boy” alla Ace karakter. Onverandwoordbare onaantasbare status.

Francois ·

Niks sal gebeur met hom. Hy is verhewe bo die reg en ANC beskerm sy mense

daniel ·

Dit is n ernstige minderwaardigheids kompleks wat mense so laat optree .

JM ·

En dan is Lesufi fluks om wit skole te intimideer, omdat hy te vrot is om nog skole te bou.

Tanniepetoors ·

Lesufi het nou lank genoeg wolhaarstories versprei oor skole wat kamtig gebou word. Intussen moes hy net geld om leë skole te ontsmet. Vat jou goed en laat jy gaan Lesufi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.