Onderwysorganisasie kry VSA-kenner om oor robotika te praat

robotte

Onderwysers bekyk die robotte gedurende ‘n seminaar wat die SOS saam met Angela Harris van die VSA oor robotika aangebied het. Foto: Skoleondersteuningsentrum se Facebookblad.

Angela Harris, ʼn onderwyser van die VSA wat spesialiseer in robotika, het hierdie week in Suid-Afrika twee seminare saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangebied waar sy onderwysers oor die vak toegespreek het.

Harris, wat in 2018 ʼn toekenning ontvang het vir die werk wat sy in robotika op skoolvlak in haar skool se streek doen, het vyf verskillende robotte aan onderwysers bekendgestel.

Meer as 300 onderwysers, wat van so ver as Bloemfontein en Namibië gekom het om die seminare by te woon, het ook elkeen die kans gehad om eerstehandse ervaring op te doen deur van die robotte self te programmeer om basiese opdragte uit te voer.

Volgens Harris fokus haar robotika-lesse by Rocky Branch Elementary in Georgia, VSA, daarop om 5- tot 11-jariges te leer om klein robotte, wat soos speelgoed lyk, te programmeer.

“Robotika help om kinders se vaardighede soos kritiese denke en probleemoplossing te ontwikkel. Programmering van robotte is natuurlik groot pret maar dit help ook om leerders se konsentrasievlakke te verbeter.”

Sy reken die vak leer kinders dat dit aanvaarbaar is om foute te maak, mits hulle daaruit leer en verbeter, aangesien niemand van die eerste dag reeds heeltemal perfek kan programmeer nie.

Harris sê haar doel met die seminare is om onderwysers opgewonde maak oor die vak en hulle te wys hoe hulle robotika kan integreer met die res van hulle leerplan.

Volgens Danie Brink, uitvoerende hoof van die SOS, het die organisasie Harris vroeër hierdie jaar gedurende ʼn toer vir skoolhoofde in die VSA ontmoet en was toe al reeds beïndruk met haar passie vir dié vak.

“Ons het haar gevra om met onderwysers te kom gesels oor robotika, min wetend dat die onderwysdepartement beplan om die vak amptelik deel van die Suid-Afrikaanse kurrikulum te maak,” sê Brink.

Volgens hom wil die organisasie veral Afrikaanse onderwysers en skole help om op die voorpunt van die tegnologie te bly.

“Die SOS se doelwit met die seminare is om skole te rig en vir hulle inligting te verskaf. Skole wat wil begin om robotika aan te bied, of in hulle lesplanne in te werk, kan dan leer uit die vyf verskillende tegnologieë wat hier gewys is en so ook sommer duur foute vermy. Skole wat reeds die vak aanbied kry sommer nou ook die geleentheid om miskien aanpassings te maak of hulle program te vernuwe met die jongste tegnologie.”

Brink sê verder die SOS beplan om binnekort ʼn vakvereniging vir onderwysers in robotika te begin. Die vakvereniging sal later vanjaar amptelik bekendgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Schalk ·

Een vooruitsig robotte is doelgerig gemaak vir take en wanneer hul tyd oor is gooi jy hul op die ashoop.Baie soos OB se kantoor.

Elsie Riekert ·

Dit klink interessant. Ek is seker die deursnee Afrikaanse skole sal dit met vrug gebruik want leerders hier kan lees, skryf en met syfers werk. Dit sal hier dus nie geldmors wees nie.

alwyn burger ·

Wat van eers leer lees , somme doen en die goeie ou 10×tafel !?

Freda Wilkens ·

Ek was vir baie jare ‘n Junior en Preprimêre onderwyseres, dosent en inspektrise van onderwys in die ou TOD. Ek sal baie graag meer inligting oor en die kurrikulum vir Robotika vir die Grondslagfase wou bekom. Ek sal selfs graag ‘n kursus daaroor wou bywoon en die kurrikulum vir ‘robotika’ vir die Grondslagfase (Gr R-3) onder oë wou kry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.