‘Onderwyswet bedreig akademiese uitnemendheid’

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Toenemende staatsbeheer oor openbare universiteite hou ʼn groeiende gevaar vir akademiese vryheid, institusionele onafhanklikheid, gehalte-universiteitsopleiding en gehaltenavorsing in, het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Woensdag gesê nadat die omstrede Wysigingswetsontwerp op Hoër Onderwys deur die parlement ingestem is.

Buys het gewaarsku die verstaatliking van die openbare tersiêre opleidingsektor sal universiteite op dieselfde pad na ondergang plaas wat die meeste universiteite in Afrikastate ná onafhanklikwording gevolg het. “Die verstaatliking van die openbare universiteitsektor blyk boonop ʼn onderdeel van ʼn groter projek van staatskaping te wees, wat al soveel instellings in die naam van transformasie laat misluk het,” het Buys gewaarsku.

Hy het die noodsaaklike rol van die burgerlike samelewing om druk op die regering se skadelike transformasiebeleid te plaas, beklemtoon. “Ons as burgerlike samelewing, wat studente en akademici insluit, moet onsself toenemend mobiliseer om wette soos hierdie een, wat ons grondwetlike regte en akademiese vryheid bedreig, teen te staan. Die burgerlike samelewing speel ʼn kritieke rol om die demokrasie in Suid-Afrika te laat werk.”

Buys het voorts benadruk die regering bied nie die land se werklike uitdagings ten opsigte van onderrig die hoof nie. “Die huidige skolestelsel lewer nie universiteit-opleibare jongmense op nie, terwyl die gehalte van onderrig aan tegniese staatskolleges ontoereikend is. Die krisis rondom gewelddadige protesoptogte by universiteite verg ook eerder aandag, terwyl die regering homself oënskynlik slegs op transformasie by uitnemende universiteite toespits,” het Buys gesê.

Intussen het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê die omstrede wetsontwerp beklemtoon die noodsaaklikheid vir die stig en bedryf van private onderriginstellings van hoë gehalte. Bailey het gesê die wet sentreer al meer mag in die hande van die minister van hoër onderwys en opleiding.

“Akademiese vryheid is ʼn ononderhandelbare voorwaarde vir die voortbestaan van uitnemende akademiese instellings wat studente oplei om krities en skeppend te dink en deur hul denke die gemeenskap te dien. Waar ideologiesgedrewe politici die reg het om oor die instellings se kurrikula, etos en selfs befondsing te besluit, is daar bitter min kans dat akademiese vryheid op die lange duur hoegenaamd in openbare instellings in Suid-Afrika gehandhaaf sal kan word,” het sy gesê.

“In terme van die aanvaarde wetsontwerp is direkte inmenging van die kant van die minister nou moontlik, wat moeilik gestuit sal kan word deur die normale universiteitbestuurskanale. Daarom is dit noodsaaklik dat sterk, onafhanklike privaat onderriginstellings op die been gebring en deur die publiek ondersteun word om die beginsel van akademiese vryheid te handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Otter ·

Die publiek besef dalk nie die gevolge hiervan nie, dink net aan direkte gevolge op “ander” mense wat eendag wil studeer. Indirekte gevolge is massief op alle landsburgers.

Andrea ·

Akademia sal meer studierigtings en programme moet aanbied! Weet dis nie n maklike of vinnige proses nie. Daar is egter heelwat goed gekwalifiseerde dosente wat nie kan wag om na Akademia of soortgelyke privaat instellings te skuif nie!

Oom Kalahari ·

Mnr. Flip Buys, dit is alomliggend dat die Staat elke liewe instansie wil Kaap en monopolie uitoefen om tot eie reg en verswakkings standaarde. Jy het dit heeltemal tereg dat daar na ander modelle en metodes gekyk gaan word om nie ons kleinkinders en agter kleinkinders te lei tot agtergeblewene verswakkings strategieë nie en wat die regering poog om te doen aan ‘n besonderse groepie en hul kulture. Om alles net te aanvaar soos hul dinge stoomrol, gaan benadelings teweeg bring op hoë vlak vir die toekoms.

Andrea ·

Akademia, julle sal asb moet vinniger beweeg en heelwat ander studierigtings aanbied! Ons hoop is op julle gevestig vir gehalte onderrig vir ons kinders! Sterkte en seën!

AmperProf ·

Ja Akademia is die enigste hoop, en ek het n paar voorstelle gemaak hoe hulle vinniger kan beweeg onder kommentare van die artikel “Akademai mors nie met krisisse nie”, kyk onder “goeie goed”/ “goeie nuus”.

Boerseun ·

Akademia is in Gauteng . Dan kort dit n lisensie van die staat. Hulle gaan Akademia nie uitlos nie. Die uitbreiding van kultuur gebiede Orania en Kleinfontein is nodig. Solank ons apart woon in ons duur woonbuurte gaan die Boer en vergaan. Die konstitusie is net so sterk soos wat die meerdereid se interpretasie en as ek univesiteite en nuwe geleerdes se interpretasie het ons moeilikheid(die wit skuld ding)

Wat-ek-lees ·

Wat ek lees is ontstellend en uiters gevaarlik. Dit is ook die weg wat die kommunis (wat anders is die regering?) volg om die mens se wese en verstand te kaap en te manipuleer.
Tyd is aan hulle kant en is daar nie haas om in hul doel te slaag .
Ek stem saam met die reaksie in die berig en vorige kommentare.

Buitestaander ·

Ider en elk sal moet saam staan en meer moet doen en hul bydrae lewer ons planne te laat uitwerk afgetreedes kan help met onderwys ens.

Grap ·

“Dee”gaan my seker nou weer oor die vingers tik maar ek gaan dit weer se ons toekoms en die van ons kinders hang af van die aksies wat ons nou moet neem en dit is. SAAMSTAAN EN ORGANISASIES SOOS AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT ONDERSTEUN.

Johann Marx ·

Wat my verstand te bowe gaan is hoe “ons” heeltyd besig is om te “waarsku” en te “wys” en te “leer” en die toekoms te “voorspel” en “alternatiewe” voor te stel. Hoekom doen ons dit? Dit het ooglopend GEEN invloed nie? Afrika is Afrika….los hom laat hy sink. Spandeer al daardie vermorsde energie om ons “eie” te bou. Bou privaat Afrikaanse Privaat skole van uitenemendheid. Bou privaat Afrikaanse Universiteite van uitnemendheid. Skep werk vir ons jeug. Ondersteun ons “eie” besighede en industrie. Skep geleenthede vir onsself….en in Vadersnaam…HOU OP om Afrika te probeer red van homself. Jy mors jou tyd…

Leeukop ·

Jy is reg en ons gaan iets soos n netwerk moet begin om by ons eie mense se klein besighede te koop, want ekonomiese mag is ware mag in hierdie wereld. Ons eie entrepreneurs ondersteun.

Uys ·

Dis tyd dat ons ń “plaas skool” in die stad begin.
Afriforum behaal sukses met hul nagraadse studie program, hoekom nie ń skool ook in Pta begin nie.
Plaas skool beginsel.
50 of selfs net 100 leerders in die skool.

Hendrik ·

Die skole is te klein en die skoolgeld is dan te hoog want jy moet goeie onderwysers goed betaal. Dit werk nie , ek weet. Miskien as die konsep werk soos een graad per skool en die skole is aan mekaar gekoppel deur ‘n netwerk. Jy gaan net na die volgende skool as jy bv vorder van graad2 na graad 3. probleem hier is om jou standaarde en etos te behou.

John ·

Mnr Buys is reg. Miskien wil die mense wat so druk plaas juis akademiese vervlakking bevorder deur taalverandering, dan nuwe onderwysers aanstel (werkverskaffing) en verder ook die leerplanne verwater. Die probleem met lae akademiese prestasie wil hulle op die wyse omseil. Eers is LO uitfaseer, maar kyk wat gaan nou gebeur. ‘Physical, recreational and artistical’ en nie ‘academical’ nie, gaan nou seevier. Die redes hoef ek nie te verskaf nie.

Frederik ·

Blade sal waarskynlik brandstigting by die universiteite aanmoedig, want in sy dae as student het hy mos self die universiteitsbiblioteek afgebrand.

Theuns ·

Die Kaders ly aan ‘n”Groothuids Waansin” (ULUSION OF GRANDEUR) en het boonop nie ‘n idee van “Oorsaak en Gevolg” van hulle dade nie!(Cause and effect). Daar is ook ‘n paar dinge wat glad nie vir my sin maak nie, soos byvoorbeeld die Staat se plig om gehalte skool en universiteit opleiding te verskaf ? Ons betaal tog belasting daarvoor? Miskien is hier ‘n weldeurdagte plan van die ANC/SAKP om ons die burgers (Veral die Afrikaner) te maak betaal vir privaat Akedemiese Instellings. As 5 of 10 miljoen leerders en studente uit die Belasting Som gehaal word dink wat word bespaar om verder gesteel en vermors te word. Flip ek dink julle moet die voorstel maak aan ou Blade dat hulle al die Staats Universiteite net Eerste Jaars inneem en dan vir hulle grade gee wat vier of ses jaar se studie onnodig sal maak. Dink aan die geld wat net nie bespaar sal word nie, Koshuis gelde inkluis.

Leeukop ·

Ja of hulle kan sommer grade uitdruk en gee sonder om enige opvoeding te gee, dink net hoe lekker geld hulle kan spaar wat vir zuma en sy gespuis kan gaan. Hulle aanvaar inelkgeval sulke grade soos ons al gesien het hoe top poste gevul word met mense met vervalsde grade. En nog n voordeel is die populasie bly klipdom en bly daarom stem vir die party wat hulle eintlik skroef.

HEVW ·

Daar bestaan eintlik nie so iets as grootheidswaan nie. Hierdie gedrag is gewortel in n dieper oorsaak, nl. n
minderwaardigheidskompleks wat ontaard in n uiting van n redelose geldingsdrang. Private instellings is blykbaar die enigste uitkoms, maar daar bestaan tog onder ons n ongemaklikheid daaroor. Die vraag is of die regering nie ook die mag het oom dit te onteien nie. Of in die geval van n koalisie met n tweederde meerderheid waar die grondwet herskryf kan word. Een ding is seker die huidige regering sal nie daarmee gediend wees nie. As die regering dan die mag het om privaatinstansies deurmiddel van transformasie tot n kwota stelsel in die arbeidsmark te dwing, kan dit dan nie ook met die nuutgeskepte privaat onderwysinstellings gebeur nie? Hierdie regering is benepe om n reeds uitgediende kommunistiese stelsel te vestig. Die anc is vanaf 1912 daarmee gebreinspoel en kan nie uit hierdie groef, graf bevry word nie. Kan Solidariteit nie aan die burgers inligting gee oor die volhoubaarheid van die beoogde privaatinstelling nie??????? Ek stel voor dat Solidariteit en Afri Forum n meer agressiewe werwing en bemarking moet loots. Dit moet van huis tot huis en plaas tot plaas gebeur want die internet is nie die mees doeltreffende opsie nie. Dit moet ook geskied in Namibie en omliggende buurlande want ook ons jeug soek dringend na volwaardige onderrig.

Paul ·

Ek neem aan jy sal met die fondse vorendag kom vir hierdie “huis tot huis en plaas tot plaas” strategie?
Kan Solidariteit en AfriForum oor ‘n week die nodige voertuie en petrolkaarte by jou kom haal?

Leeukop ·

Dit is n goeie voorstel wat HEVW maak, ek het al lankal gedink dat die Afrikaners in Namibia en ander lande meer betrek moet word. En oor die huis tot huis, wel, daar is verskeie maniere van direkte bemarking wat kan werk.

Jeannie du Plessis ·

Ek stem gedeeltelik saam met Hevw en dink ook dat privaatonderwysinstellings ook nie veilig sal wees in die nabye toekoms.
Die Onderwys department voldoen hoegenaamd nie aan die navraag na behoorlike skole en Universiteite nie, en moet die skole wat met sukses bedryf word gebruik om hul onvermoë te verbloem. Vandag word weer gepraat van die nuwe skole wat gebou gaan word maar wie gaan dit suksesvol bedryf , ek besef daar is skole waar daar n wil is om n sukses te maak van die opleiding wat hulle aanbied sonder die hulp van die owerhede. Daar is nog n groot ongelykheid in die kwaliteit van baie skole veral buite die stede, maar die groot probleem lê ook daarin of onderwys net maar n werk is en of dit n roeping is, waaraan jy lojaal is.
Daar is baie probleme maar dit help ook nie om weer elkeen net na homself te wil omsien ons moet saam werk om n toekoms vir ons skool en universiteits jongmense saam te kan bied. Onderwys is die belangrikste voetstuk waarop ons land se toekoms gebou moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.