‘Ondeurdagte’ bepalings vir private veiligheidsbedryf nou wet

(Argieffoto: pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa het die omstrede Wet op die Regulering van die Private Veiligheidsbedryf afgeteken. Geen datum vir die inwerkingstelling daarvan is egter nog aangekondig nie.

Ingevolge die wetgewing word buitelandse eienaarskap van private veiligheidsmaatskappye beperk en sluit dit streng bepalings in oor die veiligheidsdienste wat Suid-Afrika aan ander lande lewer. Die wetgewing bepaal onder meer dat alle veiligheidsmaatskappye, vervaardigers, invoerders en verspreiders van veiligheidstoerusting minstens 51% in Suid-Afrikaanse besit moet wees.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die wetgewing as “ondeurdag” bestempel en kenners sê dit kan die bedryf groot skade aandoen, veral wat buitelandse belegging betref.

Daar was jare lange teenkanting teen die wetsontwerp, maar Ramaphosa het dit nietemin op 23 September vanjaar onderteken. Dit is verlede week in die Staatskoerant aangekondig.

Groenewald sê die wysigings is gegrond op gebrekkige inligting oor onder meer aandeelhouding van buitelandse maatskappye en die bedryf en hy waarsku dit kan groot werksverliese veroorsaak.

“Oor die aanname van die regering dat buitelandse aandeelhouding van meer as 50% ʼn gevaar vir staatsveiligheid in Suid-Afrika inhou, het Julie se onrus gewys dat die gevaar vir die staat eerder in sy eie geledere lê,” sê Groenewald.

“Selfs tydens die konsepfase van die wetsontwerp kon daar nie aan die portefeuljekomitee vir polisie belangrike inligting gegee word oor hoeveel aandeelhouding buitelandse maatskappye het, of oor moontlike werkverliese in die bedryf nie. Geen navorsing is daaroor gedoen nie,” sê Groenewald.

Volgens hom is daar sowat drie veiligheidswagte vir elke polisielid in Suid-Afrika omdat die ANC-regering nie burgers teen misdadigers kan beskerm nie. Dit het dus tot ʼn ontluikende private veiligheidsbedryf gelei.

“In ʼn tyd waar werkloosheid in Suid-Afrika van die hoogste in die wêreld is en misdaad gedy weens gebrekkige polisie-optrede, is daar geen logika in die president se besluit om die wet te onderteken nie. Dit dien as bewys dat hy nie begrip het vir die werklike misdaadsituasie in Suid-Afrika nie. Dit is die gewone burger wat nie omring is van lyfwagte nie, wie se veiligheid bedreig word,” sê Groenewald.

Paul Oxley, voorsitter van die organisasie Gun Owners South Africa (Gosa), sê die wetgewing is ʼn skending van die Wêreldhandelsorganisasie se algemene ooreenkoms oor handel en dienste en hy meen dat dit nie in werking gestel kan word nie.

Hy sê dit laat ook vrae ontstaan oor die kwessie of internasionale maatskappye hul beleggings aan Suid-Afrika sal moet onttrek.

Die regskenner Martin Hood het die stap as “slegte nuus” bestempel, veral omdat die regering vroeër internasionale maatskappye genooi het om in Suid-Afrika te kom belê.

“Dit stuur ʼn boodskap aan beleggers dat Suid-Afrika oënskynlik nie omgee oor die verdrae wat ons onderteken nie en wys die regering se beleid is vloeibaar en veranderlik.

“Daar is maatskappye wat na Suid-Afrika gekom het om hier te kom belê en nou word hulle in die tande geskop.”

Groenewald sê ook daar is gevestigde belange van maatskappye op die spel en waarsku dat die wysiging waarskynlik deur belanghebbendes in die Konstitusionele Hof getoets gaan word.

  • Hierdie berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Ramaphosa sal eers tevrede wees wanneer absoluut niks in blanke besit is nie en die staat alles alleen besit. Tragies hoe hierdie land die afhelope 27 jaar agteruitgegaan het.

Sarel

Wst was of is Cele se aandeel hieraan

Gerhard

Nou ja toe……51%……so daar vou nog n organisasie onder die belaglike BEE nonsens. Dit is, behalwe ons regring die grootste rede vir finansiele ondergang van Suid-Afrika. Ai, weet nie meer waar die sirkus gaan stop nie. Stem Afrikaners stem

AW

Hoe meer dae, Hoe meer Dinge….

Jeff

Communist Squirrel.