‘Ondoeltreffendheid en infrastruktuurverval’ lei tot logistiek-krisis  

Durbanhawe (Foto: Verskaf deur DA)

Sonder ʼn funksionerende logistieknetwerk is 60% van die land se ekonomie in gevaar, meen die Suid-Afrikaanse Vragversendersvereniging (SAAFF).

“Handel in goedere verteenwoordig die grootste deel van ons nasionale ekonomie en vereis die ononderbroke beweging van goedere,” sê dr. Juanita Maree, uitvoerende hoof van SAAFF.

Suid-Afrika ervaar tans ʼn hawekrisis met opeenhopings in hawens wat tot gevolg het dat skepe buite die hawens lê en wag. Volgens SAAFF kos die krisis Suid-Afrika miljoene rande per dag.

“Nasionale logistiek het vanjaar waterskeidingsoomblikke beleef,” sê Maree. “Die situasie het in die derde en vierde kwartaal verskerp toe kapasiteitskwessies by alle sleutelhawens ʼn krisispunt bereik het, wat gelei het tot ernstige vragagterstande en duur vertragings, wat die volledige voorsieningsketting beïnvloed. Die impak is hoofsaaklik te wyte aan hoë ondoeltreffendheid en die ineenstorting van infrastruktuur.”

Volgens Maree word die kwessies as ʼn saak van nasionale belang van die hoogste prioriteit deur die regering en die private sektor beskou.

“Dit is geen geheim nie dat tyd en aansienlike hulpbronne benodig word om die fundamentele probleme op te los. Om volhoubaar te wees vereis die benadering ʼn volledige hersiening van die strategie en operasionele benadering tot die bestuur van hawe- en spoorinfrastruktuur.

“In die afgelope dekade het ons terminaaldoeltreffendheid met 28% afgeneem vergeleke met ons interne teikens. Buiten die huidige krisisse is fundamentele veranderinge nodig vir Suid-Afrika om sy regmatige plek te herwin as die vasteland se top-, betroubare bemiddelaar van intra-Afrika handel en ʼn sleutelspeler in wêreldmarkte.”

DA stel stappe voor om hawekrisis te beëindig

John Steenhuisen, DA-leier, het Maandag saam met dr. Mimmy Gondwe, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, ʼn uitgebreide lugoorsig van die hawe in Durban uitgevoer.

Hul bevindinge skets ʼn donker prentjie van ʼn land op die randjie van ʼn handel- en logistieke ramp. Sowat 60 000 vraghouers staan gestrand langs die Ooskus weens die ineenstorting van die Durban-hawe, aangesien Transnet dekades lank versuim het om infrastruktuur by die hawe op te gradeer en in stand te hou. Dit hou ʼn beduidende bedreiging in vir die land se haweterminaalbedryf en internasionale goederehandel.

“Die wortel van hierdie krisis lê in die langdurige verwaarlosing van hawe-infrastruktuur deur Transnet, ten spyte van die inisiasie van Operasie Vulindlela in Oktober 2020 – ʼn gesamentlike onderneming tussen die presidensie en die nasionale tesourie gemik op die verbetering van die doeltreffendheid van Suid-Afrika se spoornetwerk en hawestelsel,” sê Steenhuisen. “Drie jaar later dui oorlaaide hawens, ʼn disfunksionele vragspoornetwerk en kilometers lang rye vragmotors op die mislukking van Operasie Vulindlela.”

Volgens die 2021 Wêreldbankindeks van Houerhaweprestasie, wat 370 hawens wêreldwyd bestudeer, is Suid-Afrika een van die swakste presterende lande wêreldwyd. Durban en Kaapstad beklee onderskeidelik die 364ste en 365ste posisie.

Steenhuisen sê die ekonomiese implikasies van die hawekrisis is enorm en hou moontlike nagevolge in vir Suid-Afrika se reeds brose ekonomie en sy aantreklikheid vir internasionale beleggers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hannes ·

Die ANC se nalatenskap, van funksionele staat tot ‘n mislukte land. Ek wonder of die “Ja stemme” al erken hulle het ‘n groot fout gemaak?

Manie ·

Hulle is tevrede met hawens wat 2 bek en klouseer beeste, 4 Newcastle siek hoendertjies en 6 kodlingmot appelkose kan uitvoer.

Sheree ·

Ek werk in logistieke, ons sukkel alklaar om houers by die shipping lines te kry vir uitvoere. Die gaan nog net erger raak.

Jubba ·

Dis nie hulle skuld nie dis die skepe se skuld hulle kom te vennig.

lodewyk ·

Hulle kan dit noem wat hulle wil,die hoof oorsaak is die amper 30 jaar wat die cANCer in beheer is,alles gaan tot niet en verval…

Peter ·

En wie moet ons bedank? Die bakhand bedelaars op die wereld verhoog wat net wil he he he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.