Onduidelik of vrou weer sal kan loop ná hysbak val

Riekie Greyling (Foto: Facebook)

“Dit is vir my ontsettend belangrik dat ek weet presies wat gebeur het en hoekom die hysbak geval het. Dit sal uitkom.”

Só vertel Ansi Buitendag Donderdagoggend aan Maroela Media nadat haar vriendin, Riekie Greyling, sowat drie meter na benede getuimel het toe die kabel van die hysbak waarin sy was verlede maand gebreek het. Dié hysbak is in Buitendag se huis in Johannesburg.

Vandag is Greyling (65) se 26ste dag in die waakeenheid van Sunninghill-hospitaal in Johannesburg ná dié val einde September. Greyling se hakskene is albei vergruis en sy het haar rug, borsbeen, arm en vinger gebreek. Sy het ook harsingskudding opgedoen.

Greyling het sedert haar val al vyf operasies ondergaan, waarvan vier aan haar voete. Sy het ook ’n operasie aan haar arm ondergaan. Greyling het vandeesweek in haar mees onlangse operasie ’n veloorplanting aan haar voete ondergaan.

Dit is in dié stadium nie duidelik of Greyling weer sal kan loop nie. “Soos ek Riekie ken, sal sy weer loop. Al is dit met ’n kierie. Sy sal waarskynlik ’n pienk lint aan die kierie vasmaak as sy moet,” meen Buitendag.

Greyling sal vir drie tot ses maande in ’n rystoel oor die weg moet kom, aangesien sy ses maande glad nie op haar voete mag wees nie.

Buitendag vertel daar is sprake dat Greyling vandeesweek nog na ’n ortopediese saal geskuif sal word. Sy sal ook rehabilitasie moet ontvang voordat sy eindelik huis toe sal kan gaan.

Greyling se pyn raak beter aangesien die hospitaalpersoneel dit genadiglik goed kan bestuur, vertel Buitendag. Greyling was vanaf haar ongeluk deurlopend op morfien, maar word deesdae van dié pynverdower gespeen. Sy is ook gister vir die eerste keer in byna ’n maand uit die bed gehelp en in ’n rystoel gesit.

“Dit was ’n groot oorwinning,” vertel Buitendag wat sedert die ongeluk haar vriendin minstens twee keer per dag besoek.

“Dit gaan goed met haar gemoed. Sy is so ongelooflik positief, maar dit kan haar maar partykeer onderkry.”

Buitendag vertel verder dat sy reeds iemand aangestel het wat binnekort die hysbak sal nagaan om vas te stel wat presies op dié dag fout gegaan het. Sedertdien staan dié hysbak buite werking nes hulle hom daardie dag gelos het. Buitendag, Greyling asook Buitendag se sussie wat tydens die val ook by die huis was, spreek gevolglik elkeen ’n sielkundige om die trauma van Greyling se val te verwerk. “Dit was ’n verskriklike skok.”

Maroela Media het vroeër berig Greyling het op 30 September by Buitendag se huis in Waterfall, Johannesburg, gaan kuier. “Ons wou die Sondagmiddag gaan rus en aangesien sy met haar longe sukkel, het ek vir haar gesê om met die hysbak na bo in die huis te ry.” Buitendag vertel dat Greyling byna bo was toe die kabel skielik breek en die hysbak die grond met ʼn slag getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Elke keer as ek in ‘n hysbak klim wonder ek wat ek sal doen om my val te breek as so iets met my moet gebeur. Dis ‘n nagmerrie! Maar een ding kan ek sê: Uit eie ondervinding weet ek dat sy die beste behandeling by Sunninghill Hospitaal sal kry. Hulle is die beste!

Nuuskierig ·

Was dit een van daardie ‘hystoestelle’ wat soms by trappe aangetref word, of ‘n meer konvensionele hyser, met skag ens? (Ek lees …’waarIN sy was’…, maar wil graag bevestiging kry oor welke meganisme in gebruik was)

Alida ·

As jy die berig gelees het toe dit gebeur het sou jy als geweet het.

IK ·

Alida weet alles maar is nie bereid om haar AK (Algemene Kennis) te deel soos aangedui in haar antwoord.

Helene Heyns ·

Sjoe, n mens kry darem katterige mense. Alida, as jy nie op n mooi manier iemand kan antwoord nie, bly liewer stil.

Ronel ·

Ai Alida jy is darem ‘n regte ou dosie! Eendag is eendag dan gaan jy van jou eie medisyne terugkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.