Onduidelikhede oor sentrums vir vroeëkinderontwikkeling opgeklaar

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Erika Fletcher/Unsplash)

Slegs graad R-leerders wat tans onder die Skolewet val, sal op 6 Julie toegelaat word om terug te keer skool toe te midde van die Covid-19-pandemie. Dié datum geld egter nie vir graad R-leerders wat in die stadium steeds onder die Kinderwet val nie.

Kleuterskole, crèches en dagsorgsentrums wat onder die Kinderwet val, sal dus óók nie op 6 Julie oopmaak nie en bly tot verdere kennisgewing gesluit.

Só het Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, Saterdagoggend aan Maroela Media bevestig.

Oliphant het verduidelik dat die regering besig is om sentrums vir vroeëkinderontwikkeling van die departement van maatskaplike ontwikkeling na die departement van basiese onderwys te migreer. Dié proses is egter nog nie afgehandel nie.

Dit beteken dat sommige sentrums vir vroeëkinderontwikkeling dus steeds onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val. Dié sentrums bly gesluit tot verdere kennisgewing, het Oliphant bevestig.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. (Foto: Verskaf)

Onduidelikheid oor sentrums vir vroeëkinderontwikkeling het ontstaan nadat Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, in Vrydag se Staatskoerant datums bekend gemaak het vir wanneer die res van die leerders en sentrums vir vroeëkinderontwikkeling sal terug keer skool toe.

Maroela Media het vroeër berig leerders in gr. R, 3, 6, 10 en 11 sal op 6 Julie kan terugkeer skool toe. Dít geld ook vir leerders in gr. R, 1, 2, 3 en 6 van skole vir verstandelik erg gestremde leerders.

Leerders in gr. 4, 5, 8 en 9 asook leerders in gr. 4 en 5 van skole vir verstandelik erg gestremde leerders sal op 3 Augustus kan terugkeer skool toe.

Datums vir gr. 1 en 2 is egter nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Ek het nog nooit in my lewe malligheid soos die beleef nie, werknemers mag 3 Junie terugkeer werk toe maar wat word van die kleuters. Nou moet jy n “nanny” aanstel om versorging van jou kind/ers te behartig. Ek het in my tyd in die onderwys gesien jy moet n aansienlike IK he om n suksesvolle plan uittedink en om jou idees op ander aftedwing het net teenkanting veroorsaak. Die “kenners” wat vir hulle raad gee lyk ook nie baie bekwaam nie.

Amanda ·

Ek stem saam, het van 1 provinsie na ander een gegaan sodat ek my 5 jarige kleinkind kan oppas aangesien albei sy ouers nou weer moet teruggaan werk toe.
Maar ek kla nie, vir my is dit heerlik, ek geniet dit!

Die Wolf ·

Hoe gaan die nannies bestuur word? Hoe word getoets? Gaan hulle inbly of daagliks huis toe gaan? Een ondeurdagte risiko.

Lorette ·

Wel, as die nanny jou huishulp is, moet jy haar self elke dag gaan haal en weer huis toe neem. As jy nie ‘n huishulp het soos my dogter nie, weet ek nie wat van my 2jr oue kleinseun gaan word nie. Ma moes al verlede week weer begin werk, gelukkig was pa nog by huis. Wat gebeur as pa nou moet gaan werk? Sekerlik moet enige nanny eers getoets word en hier by ons neem die toetse ‘n week voor dit beskikbaar is, TENSY jy in aanraking was met ‘n positiewe geval! Dan is dit gouer!

marius ·

Nee , dis nie opgeklaar nie ! Sy het niks gese van Gr 1 en 2 nie . Dit is die grade waar kinders leer lees en skryf ! Het sy dit vergeet , of weet sy nie dat hulle bestaan nie ? Waarom moet oliphant nou die spreekbuis word ?

Johan ·

Marius dit is hoe die ANC goed doen, verwys jou altyd na iemand anders want onthou hulle is kaders so nie gekwalifiseerd vir die pos wat hul beklee nie.

Sharnelle ·

Hulle beter met datums kom wanneer kleuterskole heropen. Ek kan nie die kleuterskool betaal wat ek nog steeds doen en nog n nanny aanstel en betaal om na my seuntjie van amper n jaar na te kyk nie. Hierdie besluit wat hulle maak van die een sê so en die ander een besluit weer anders is presies hoe dit gaan ook met die verkoop van sigarette, hulle kan net nie tot n finale besluit kom nie. En hoekom kan hulle nie ook n finale datum gee vir Gr 1 en 2 nie? Of dink Olifant hulle val onder kleuterskole maar Gr R kan terug. Hulle papier van besluite neem en hier dood krap en daar dood krap lyk seker al soos n krabbel patroon.

Jaco ·

dis alles ‘n anti-wit ding. kleuterskole is hoofsaaklik in wit besit, so “nail” die wit mense net nog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.