Onduidelikheid of Hewitt vandag gevonnis gaan word

Bob Hewitt tydens 'n vorige hofverskyning.

Bob Hewitt tydens ‘n vorige hofverskyning.

Daar is onduidelikheid of die vonnisoplegging van die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (75), wat aan verkragting en onsedelike aanranding skuldig bevind is, Maandag in die Pretoriase hooggeregshof gaan voortgaan soos geskeduleer is.

Velakhaya Mgobhozi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Sondag gesê die verdedigingspan het aangedui dat hulle ʼn voorvonnisverslag benodig.

“Ek is nie seker of hulle dit gekry het of nie. Ons sal môre [Maandag] in die hof sien,” het hy gesê.

SABC News het Sondag berig Hewitt se prokureurs het aangedui dat hulle gaan versoek dat die vonnisoplegging uitgestel moet word.

Terry Price, Hewitt se regsverteenwoordiger, het gesê dat hy eers Donderdag ʼn verslag van ʼn kennergetuie, wat die staat gaan roep om te getuig vir verswaring van die vonnis, ontvang het.

“Ons gaan nie gereed wees nie en ons gaan aansoek doen vir uitstel,” het Price aan die SABC News gesê.

Hewitt se beplande vonnisoplegging is verlede maand ook uitgestel.

Regter Bert Bam het die saak tot 18 Mei uitgestel nadat Hewitt se prokureurs ʼn versoek ingedien het. Hewitt se verteenwoordiger het gesê hulle wag op ʼn verslag van ʼn kriminoloog wat hulle ter versagting van vonnis wil voorlê.

Hewitt is skuldig bevind dat hy twee meisies wat by hom tennislesse geneem het in die tagtigerjare verkrag en ʼn ander seksueel aangerand het. Hy het skuld op die aanklagte ontken.

Ná ʼn verhoor wat ʼn hele paar weke geduur het, het Bam hom skuldig bevind op al drie aanklagte. Hewitt is in Maart op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Bam het in sy uitspraak gesê dat Hewitt die meisies gemanipuleer het om hulle onder sy invloed te kry. Nadat hy hulle voorberei en hulle op hom verlief geraak het, het Hewitt met hulle omgang gehad sonder hul uitdruklike toestemming. “Die beskuldigde het die kinders se vertroue in hom misbruik,” het Bam gesê.

News24

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.